Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Rolls (en res) toets in die Kaap

Dit blyk tans toetstyd vir die Europese vervaardigers in Suid-Afrika te wees. Marnus Hattingh vertel wie’s almal onlangs hier gewaar.

Mercedes was twee weke gelede in die Cederberge waar hy van sy voertuie kom toets het. Heel voor in die konvooi is ’n opgeknapte GLE-sportnuts. Foto: francois snyman

Wanneer dit winter in die Noordelike Halfrond is, benut die groot Europese vervaardigers gewoonlik die geleentheid om na Swede se hinterland te gaan waar hulle noord van die Poolsirkel in snerpende ystoestande hul nuwe vuur­waens kan gaan toets.

Of, soos dit al hoe meer gebeur, hulle kan hul ingenieurspanne na Suid-Afrika stuur om hier in ons somerhitte ’n laaste paar toetskilometers in die Karoo-son te kom aflê.

Sedert die begin van die jaar het ons Jeep sy nuwe Wrangler hier sien toets, asook Alfa sy Stelvio-sportnuts. Albei groepe behoort deesdae aan Fiat, dus het dit sin om die voertuie saam te toets. Die motors deel heelwat meganika soos enjins, ratkaste, verkoelingstelsels en elektronika wat beteken dat die ingenieurs verskeie voertuie in een sessie kan toets en meet.

Ons het ook ’n groot groep BMW’s en Mercedesse in die Wes-Kaap gewaar. Die BMW’s is onder meer ook in die noorde van die land en in die Suid-Kaap gesien alvorens hulle na die Wes-Kaap gekom het.

Hoewel al die toetsvoertuie streng vermom is om hul identiteit vir nuuskierige fotograwe weg te steek, het hul swart-wit kamoeflering en Europese nommerplate (asook die linkerstuur-binneruim, gevul met drade en rekenaartoerusting) die voertuie oombliklik verklap.

Ons verwag dat die X7 óf by die Paryse skou in Oktober onthul kan word, óf kort daarna in November by die Los Angeles-skou.

Die Duitsers se voertuie was beter vermom as die Jeeps en Alfas, dalk omdat laasgenoemde twee alreeds elders op die mark is en straks hier net nuwe enjins kom uittoets het.

Die groep Mercedesse vermoed ons was onder meer die volgende opknapping van die GLE- en GLC-sportnuts. Dit kon ook weergawes van die fris AMG-modelle wees.

Wat die groep BMW’s betref, het ons meer duidelikheid. As deel van die groep was daar onder meer die nuwe 8-reeks-koepee en -oopdakmodel, ’n klein 1-reeks, en die nuwe X7, die groep se eerste ekstragroot sportnuts.

Die X7 is in September in Frankfurt as ’n konsepmodel gewys, maar toe reeds was hy feitlik produksiegereed. Die groot sportnuts het drie rye sitplekke en sal met die Cadillac Escalade in Amerika en die Mercedes GLS in ander markte (waaronder Suid-Afrika) meeding.

Ons verwag dat die X7 óf by die Paryse skou in Oktober onthul kan word, óf kort daarna in November by die Los Angeles-skou. LA het meer sin, aangesien die groot sportnuts veral op die Amerikaanse mark gerig gaan wees vir volumeverkope. Die Europese mark hou van kleiner sportnutse.

En dan laastens was daar nog ’n interessantheid weggesteek tussen die groep Beierse toetsmotors: ’n korter, hoë sportnuts met ’n vertikale sierrooster.

’n Handvol BMW’s toer ook tans deur die land. Dit sluit die groot X7 (regs) in. Links agter is die nuwe Rolls-Royce Cullinan.

Jip, dit is die nuwe Rolls-Royce Cullinan, die voormalige Britse weeldevervaardiger (deesdae natuurlik in BMW se besit) se eerste sportnuts in sy eeu lange geskiedenis.

Puriste mag vreemd opkyk, maar Rolls weet al lankal sy teikenmark soek inderdaad ’n sportnuts, en nie net lang sedans en koepees nie.

Die groep het pas bekend gemaak dat hulle die naam Cullinan gaan behou vir die nuwe model. Tot op hede was Cullinan slegs die interne kodenaam vir die vervaardiger se nuwe sportnuts.

Cullinan het natuurlik Suid-Afrikaanse wortels. Dit verwys na die wêreld se grootste diamant van 3 106 karaat wat in 1905 naby Pretoria ontdek is. Destyds as deel van die Britse Ryk het die Unie die diamant sonder meer aan die Britse koningshuis geskenk, waarna dit in nege dele gesny en in die kroonjuwele geïnkorporeer is.

Die nuwe Cullinan-4x4 sal ’n V12 van 6.75-liter in die neus hê, toegerus met twee turbo’s. Krag word voorspel op 420 kW en 900 Nm wringkrag. Genoeg, sê Rolls-Royce, om sy mantra van “effortless, everywhere” wat nog deur die jare geld, netjies te vervul. Selfs in die veld.

En, natuurlik, praat Rolls nie van ’n fô-baai-fô nie, maar van ’n “high sided”-voertuig.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Rolls Royce  |  Toetsbestuur  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.