Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Roofvoël! Ford se Raptor maak jag op mededingers

Ford se opwindende nuwe Raptor het pas soos ’n roofvoël uit die hemele neergedaal. Stuart Johnston het die landing in Upington bygewoon. 

Raptor. Of dan ’n roofvoël, in Afrikaans. Verbeel jou hoe ’n valk of ’n arend vanaf ’n hoë rots vir vroegmôre-versnaperinge oor die vlaktes tuur, en dan uit die bloute aanval. Sien insgelyks in jou geestesoog hoe Raptor-eienaars oor ’n bier of ’n braai hul “prooi” takel: Hiluxe, Navaras, Isuzus en natuurlik die groot prys, die Amarok. Dis gewis ’n goeie tyd om ’n Ranger-drywer te wees, veral as hy ’n Raptor-kenteken dra . . .

Ford se Raptor-projek is al ’n paar jaar aan die gang en uiteindelik het ons die finale produk op die soutpanne en in die duine naby Upington ontmoet, presies waar soveel Dakar-toetsritte ook oor die jare heen plaasgevind het.

Die eerste verrassing oorrompel jou sommer op pad na die veldtoetsterrein; die dubbelkajuit-Raptor is die beste teerpad-Ranger nog! Ritgehalte is indrukwekkend. Die stuur is ook skerper as die standaard-Ranger s’n en die veerstelsel bied beter bakbeheer as selfs die top Wildtrak-model, genoeg om volle vertroue in die Raptor te plaas, selfs teen snelhede ver bo die nasionale spoedgrens.

Of in die woorde van Mark Perry, senior voertuigdinamika-ingenieur by Ford Australië, wat die Raptor ontwikkel het: “Hy krimp nogal om jou, nè?”

Perry was vir die stuurstelsel verantwoordelik. En al is die Ranger-tandstang na die Raptor oorgedra, het laasgenoemde se wyer spoor en langer stuur-arms ’n ingrypende herkalibrasie van stuurreaksies vereis. Op teerpaaie is die Raptor-stuur dus vinniger en meer direk as die Ranger s’n, wat ’n ratsheid kweek, amper soos ’n sportmotor in bakkie-vorm.

Maar die Raptor is eintlik vir veldwerk gebou. En waar aanpassings hiervoor – soos groter wielvlug – taaier veldvoertuie lewer, is die prys wat jy betaal ook lomper teergedrag.

Nie die Raptor nie. Teerpadgedrag is uitstekend, grondpaaie met ’n paar bokspringe draai die adrenalienpompie verder oop en veldwerk is Raptor-kos. Bekendstellingsritte het getoon dat die nuwe Ford ewe tuis in duine as op soutpanne is, laasgenoemde waar die bakkie lekker skeef deur draaie gedraai is, met die stert dóér!

R200 000 se veerwerk

Die besturende direkteur vir Ford Suid-Afrika, Neal Hill, het terloops ook opgemerk dat daar “omtrent R200 000 se spesiale veerkomponente” op die Raptor is, waarvan R100 000 net in die vier dempers skuil. En Hill sal weet; die Raptor word in Silverton, Pretoria, en in Thailand gebou.

En as jy eers die bakkie oor rowwe terrein beproef het, sal jy die syfer glo; ekstra veervlug en vier spesiale Fox-rendempers lewer resultate. Met ’n deursnit van 46,6 mm is elke Fox omtrent twee keer so dik soos ’n standaarddemper. Voorts spog hulle met buiteboord-vloeistofhouers sodat elke demper meer vloeistof beskikbaar het om dinge koel te hou as die aksie warm raak.

Die dempers is ook progressief ingestel om ’n sagter-as-standaard-rit op teer te lewer, terwyl ferm stellings tydens vol-kompressie die hardste landings hanteer sonder om pens teen Moeder Aarde te stamp.

Daarbenewens het Ford tradisionele agterste bladvere met krulvere vervang, wat deur twee oorhoekse Watts-skakels bygestaan word; ’n slim stelsel wat laterale bewegings van die vaste agteras verhoed deur veergeometrie konstant te hou.

Ongeveerde gewig op die vooras word ook deur boonste mikke sowel as beheer-arms uit aluminium verminder. Die onderstel moes desnoods vir hierdie nuwe onderdele aangepas word, terwyl dit terselfdertyd versterk is deur naatsweiswerk op die langsgeplaasde stutstawe.

Die onderstelpakket word afgerond met groter remskywe alom, opvallende allooie en spesiaal ontwikkelde BF Goodrich-bande met sterker sywalle plus ’n loopvlakpatroon wat beter veldtraksie en ’n langer teerpadleeftyd lewer.

Wat jou alles laat glo dat die Raptor ’n enjin huisves waarmee hy te eniger tyd sy “prooi” sou oorrompel?

Enjin

Die Ranger Raptor gebruik Ford se 2.0-liter-viersilinder-biturbo-diesel (157 kW, 500 Nm) wat onlangs in die Ranger Wildtrak gebuig het, en die oliebrander werk goed saam met dieselfde nuwe 10-gang-outokas wat op die Wildtrak diens doen.

Maar dis net mooi hier, onder die enjinkap, waar mens voel dat die sportgeoriënteerde Raptor ’n V6 verdien, of selfs ’n V8, om reg aan ’n onderstel te laat geskied wat soveel pret in die duine en op die soutpanne via al die verskillende dryfmodusse kon optower; in hoë-strek-vierwieldryf, in Baja-modus (wat al vier wiele dryf maar met ’n goeie mate van agterwielglip en daarom stert-na-buite-vermoëns) en dan die lekkerste van almal, naamlik agterwieldryf met traksiebeheer ten volle uitgeskakel, sodat jy die stert teen ongekende hoeke na buite kan uithang sonder om beheer te verloor.

Komplimente dus aan Ford, want geen ander bakkievervaardiger het al die “sportmotor”-aspek van ’n goed ingestelde dubbelkajuit ontgin nie.

Ons verwag dus dat Silverton en Thailand sal sukkel om in die wêreldaanvraag te voldoen en dat daar waglyste sal wees, veral daar Ford goed gedoen het om die verwagte koopprys van R800 000 te klop.

Gaan skryf dus jou naam solank neer. Hierdie roofvoël gaan nog lank oor die wildernis rondvlieg.

  • Prys: Ford Ranger Raptor – R786 400 (waarborg: 4 jaar/120 000 km; diensplan: 6 jaar/90 000 km).
Meer oor:  Ford Raptor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.