Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Rooi-enkels-Beemer hap na GTI

In die wêreld van die blitsbukse neem die mense (die paar eienaars en die miljoene geesdriftiges) hul rygoed ernstig op. Plaaslik veral, en in die breë oorsee ook, het die Volkswagen Golf GTI al ’n stewige naam en gevolg vir hom opgebou.

In Suid-Afrika is hy VW se topverkoper-Golf-model met een uit elke­ twee verkope wat ’n GTI is. Hy is boonop ons segment­leier in ’n afdeling raserige luikrûe waar die uitlaatpyp-telling maklik die silinder-telling ewenaar.

BMW se nuwe 128 ti is nie vir skugter kêrels nie. Daardie rooi aksente laat die mense omkyk. Gelukkig kan sy verrigting kers vashou met sy voorkoms.Foto: Marnus Hattingh

Te midde van ’n internetforum gestoei tussen die ondersteuners van die GTI’s, die Honda­ Civic Type R’s, Renault Mégane­ RS’e en die relatief nuwe­ Hyundai i30N’s, is daar nou ’n nuwe swaargewig wat sy voet by die deur probeer inkry.

BMW het pas in Suid-Afrika sy nuwe 128 ti bekend gestel en dié kêrel met sy rits rooi kentekens het die visier reguit op die GTI gerig.

Punt in die wind

Dis ’n slim aanslag van München. Waar die M135i die hardebaard is met sy 3.0 liter-reguitses (225 kW, 450 Nm) mik die 128 ti ietwat laer. Die naam met daardie Italiaans-klinkende agtervoegsel verklap eintlik die fokus. Turismo Internazionale sê hierdie Beemer is gemik op ’n gemakliker, vriendeliker rit. Dus, meer Golf GTI as Honda Type R, waar jy voel of jy op ’n plank sit, so hard is die vering.

Maar, in eg Duitse styl is daar goed nagedink oor die proses. Die hardeware is dalk matiger – slegs ’n 2.0 liter-turbo en net voorwielaandrywing – maar die algehele pakket is steeds punt in die wind.

Kyk net na die blinkswart sierrooster, die nuwe buffer met sy diep lugopeninge voor, die openinge by die agterbuffer, ’n windmaker drukvlerk agter en natuurlik al daardie rooi aksentstrepe by die deure. O ja, het jy die rooi remknypers gesien?

Dit lyk als heerlik. Selfs die vensters op die ti is spesiaal donker getint en jy ry op sulke wat-kyk-jy-bande van 18 duim met ’n papierdun 40%-profiel.

Ook binnelangs is daar meer rooi strepe as op ’n Mei-dag-viering. Die sentrale armrus het ’n groot gestikte “ti”-kenteken, daar is rooi stikwerk op die deurpanele en sitplekke, en sagte LED-strepies skyn ’n rooi glans saans by jou voete.

Slim gedink, München

Die meganika is dalk nie so spoggerig nie, maar steeds flinkvoetig. Die tweeliter skop 180 kW en 380 Nm na die voorwiele uit en word met ’n agtgang- outomatiese ratkas beheer. ’n Torsen-sluitewenaar op die vooras help krag slim tussen die wiele kanaliseer, wat BMW sê wringstuur teenwerk en indraai skerper maak.

Die kragsyfers is interessant. Dis makker gemaak vir Suid-Afrika se warm toestande (Europa se ti het 195 kW en 400 Nm), maar vergelyk steeds goed met die Golf 8 GTI se syfers (180 kW, 370 Nm). Die Mégane (221 kW, 420 Nm) en die Honda (228 kW, 400 Nm) en selfs die Hyundai (206 kW, 392 Nm) is almal frisser in die kuite.

Afsaal

Dalk verklap ek my ouderdom nou, maar ek verkies meer die 128 ti se matiger verstellings as die wit om die kiewe plankhond van ’n Mégane RS of Type R. Jy kom nie in ’n bol stof by die verkeerslig aan nie en op ons knopperige paaie kan jy steeds sonder pyn voortry. Skop jy die ti wel in die lieste, is 180 kW en ’n versnelling van 6,3 sek. steeds genoeg om verby enige minibus, afleweringswa of verdwaalde blitsbuks te glip.

Bowenal, jy spaar die M135i se swaar pryskaartjie. En dit word vir ons ook ’n al hoe groter oorweging. Dis ’n lekker ryding. Mits jy die ti se teruglê-kuif van al daardie rooi plakkers kan verduur.

Prys: BMW 128 ti – R687 418.

Meer oor:  Motors  |  Gti  |  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.