Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Rowwe jaar laat sy merk op F1

Dat die Mercedes W11 vanjaar geklee in ’n swart in plaas van sy tradisionele silwer by 2020 se openingsren in Oostenryk aangetree het, het dadelik onheil vir 2020 se Formule Een-kampioenskapsreeks voorspel.

Terwyl Lewis Hamilton se rekord- gemiddelde kwalifiserende spoed van 264,362 km/h by Monza op 5 September syne as die vinnigste F1-motor in die geskiedenis verewig het, skep dit ook die raamwerk waarbinne ’n mens oorsigtelik na die 2020 F1-seisoen kan terugkyk; hetsy in verwondering oor die triomf van die allesoorheersende Mercedes-span se perkelose soeke na verrigting – of in afsku van ’n lykskouing van ’n uitsiglose seisoen.

Met 11 seges in 17 renne was dit Hamilton se dominantste F1-veldtog tot nog toe. Uit die oorblywende ses wat die Brit nie kon wen nie het sy spanmaat, Valtteri Bottas, slegs een keer (in Oostenryk) die sewemalige wêreldkampioen uitgestof. Oortredings by Monza en Sotsji het Hamilton die ander twee gekos; disintegrerende Pirelli-bande in die 70ste Herdenkingsren op Silverstone; hy het weens Covid-19 nie by Sakhir deelgeneem nie; en Sondag om dieselfde rede in Abu Dhabi derde gekom.

Só ’n eensydige titelstryd was ongetwyfeld die laaste scenario waarvoor F1 se sirkusbase – in die lig van ’n ingepropte en afgejaagde korona-kalender waarvan die aanvang van Maart na Julie vertraag is; begin het met ’n moordende skedule van nege wedrenne binne 11 weke; en vererger deur die verlies van meer as $100 miljoen aan inkomste – aan die begin van die seisoen voor sou wou wens.

Max Verstappen het sy seisoen Sondag op ’n hoë noot afgesluit toe hy die Sakhir-ren in Aboe Dhabi in sy Red Bull gewen het. Mercedes se Valtteri Bottas en Lewis Hamilton was onderskeidelik tweede en derde.Foto: Getty Images
Foute kom ’n lang pad

Tog kan Mercedes nie pa staan vir sy mededingers se tekortkomings nie. In wese het enige vooruitsig van ’n mededingende seisoen voortydig die doodskoot gekry: Nie met die W11 se turbohibried-V6 se geboortegil op die eerste dag in Barcelona se voorseisoense toetse in Februarie nie, maar toe hul onderskeie genetiese defekte in daardie stadium reeds by Mercedes se enigste medetitel­aanspraakmakers, Ferrari en Red Bull, gediagnoseer is.

Die saadjies van Ferrari se ondergang in 2020 is so lank terug soos September 2019 geplant toe die span onverklaarbare spoed begin openbaar het deur ses opeenvolgende voorste wegspringposisies te beklink. ’n Rot is in die Swart Hingste se binnegoed geruik en die beheerliggaam het bevind dat daar met die enjin se regulatoriese brandstofvloeisensor gepeuter is wat die vloei deur middel van polsseine meet.

Oorvereenvoudig het Ferrari dié sensor gefnuik deur ekstra brandstof in die enjin te spuit net wanneer daar nie gemeet word nie, en sodoende ’n kragvoordeel bekom wat selfs die magtige Mercedesse stof laat eet het.

Dié skuiwergat is in 2020 gestop deur die verpligte toerus van ’n tweede vloeisensor. Vanjaar se Ferrari SF1000 is buitendien verder gepootjie deur ’n hopelose aërodinamiese pakket; met ’n sesde plek in die vervaardigerskampioenskap en Ferrari se tweede swakste seisoen sedert sy toetrede tot F1 in 1950 as gevolg. Karma?

Op sy beurt was Red Bull 2020 se naasbeste span, maar ten spyte van die kommentariaat se beste pogings om die skyn van ’n skouspel te skep, nie naastenby in die prentjie om die Mercedesse die stryd aan te sê nie.

Die RB16 se achilleshiel was sy wankelrige stert, wat die indraaiproses moes aanhelp: ’n ingebore hanteringskenmerk om sy voormalige Renault – en nou Honda-enjin – se kragte-korte te probeer omseil. ’n Kranige Max Verstappen kon die gevolglike vereiste kamikaze-rit kleinkry in 2020, maar sy spanmaat, Alex Albon, nooit nie; wat beteken het die Hollander moes die Mercs deurlopend sonder enige bystand vrugteloos aanpak.

Max se alleenstryd

’n Gefrustreerde Verstappen het herhaaldelik sy RB16 tot die derde wegspringposisie agter die Mercedesse op Saterdagmiddae gewurg, om net 24 uur later hulpeloos toe te kyk hoe die swart stoet voor hom in die horison wegstoom.

Wanneer die Mercedes-span – selde – onder druk was, het foute ingesluip, soos met twee weke gelede se kuipestopflop by Sakhir. Maar in 2020 het die afwesigheid van deurlopende noemenswaardige bedreigings die spektakel se adrenalienkrane toegesweis; en het Hamilton Bottas boonop sielkundig so verbrysel dat daar uit die staanspoor nooit enige twyfel was oor wie die alleenmandaatdraer van die kampioenskapskroon was nie.

Gruwelike huwelike

Sou daar ’n sporadiese sliertjie silwer deur die donker wolk van die Mercedes-oorheersing geflikker het, dan was dit dat 2020 twee debuutwenners in Pierre Gasly en Sergio Perez opgelewer het.

Nes in 2019 was daar vyf verskillende wenners, maar wat podiumbekleërs betref, het ’n verstommende 13 van die 20 heeltydse jaers vanjaar elkeen ’n beurt gekry om “God Save the Queen” van ’n laer trappie te moet verduur. Slegs jaers van die Alfa Romeo-, Williams- en Haas-spanne is dié plesier ontsê.

Die nypende aksiedroogte op die baan het die loep noodgedwonge na praatpunte elders verskuif. Die Ferrari-petrolgekonkel is reeds vermeld; met die warrelwind om die Racing Point-span, wat die perke van intellektuele eiendom beproef het deur ’n faks van die 2019 Mercedes W10 te bou volgende aan die beurt.

Die verbrokkeling van huwelike was nóg ’n gewilde tema. Die stormagtige sage tussen Sebastian Vettel as moeë renperd en Ferrari as mitiese malediksie het ’n klimaks bereik toe sy kontrak vir 2020 nie verleng is nie. Ná sy beproewende diensjare wou ’n mens wens vir ’n finale, feëverhaal-sege in rooi, maar sentiment is skraal in F1 en vanjaar se Ferrari ’n donkie met ’n dipstiek.

Honda het in Oktober ook aangedui dat hy F1 teen jaareind 2021 groet en daarom die Red Bull- en AlphaTauri-span-ne sonder kragbronne vir 2022 laat.

  • In alle opsigte: ’n seisoen om te vergeet. Korona-regulasies het bepaal dat amper alle renne in 2020 toeskouervry was, waaroor kaartjiekopers by nabetragting waarskynlik heimlik verlig is, want hulle verdien beter. En daar geen oortreffende kleur vir swart was nie. Die 2021-seisoen begin op 21 Maart in Melbourne.
Meer oor:  Formule Een  |  Lewis Hamilton  |  F1  |  Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.