Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Rowwe naweek? Lewis help Engelse

Terwyl Brittanje gesteier het onder die waan van die enigste wêreldleier met goorder hare as Donald Trump en gestik het aan die stink sportmanskap wat die Engelse rugbyspan geopenbaar het ná sy drag slae van die Springbokke in die Wêreldbeker-rugbytoernooi 24 uur vantevore, is daar verlede Sondag ’n volwaardige nuwe Britse heerser in Texas gesalf: Koning Lewis Hamilton.

Valtteri Bottas (foto, Mercedes) het die naweek die Amerikaanse Grand Prix van begin tot einde gelei, maar dit was sy spanmaat, Lewis Hamilton, wat die kalklig gesteel het deur sy sesde F1-jaerstitel op te raap.Foto: Getty Images

Die 34-jarige se tweede plek agter sy mede-titel-aanspraakmaker en spanmaat, Valtteri Bottas, by die Circuit of the Americas het hom genoeg punte in die sak gebring om Bottas te ontsê en Hamilton sy sesde jaerskroon te besorg nadat hy dit ook in 2008, 2014, 2015, 2017 en 2018 ver-ower het. Dit maak van Hamilton die Formule Een-jaer met die tweede meeste wêreldtitels tot nog toe, met die algehele rekord – Michael Schumacher se sewe titels – ongetwyfeld in sy visier vir 2020.

Sedert sy debuut in Australië in 2007, het F1 se jongste wêreldkampioen aan 248 renne deelgeneem, waarvan hy 83 gewen, 150 podiums behaal, 87 voorste wegspringplekke en 46 vinnigste rondtes losgejaag het.

Met dit gesê is vergelykings in die soeke na die beste jaer van alle tye oor verskillende generasies heen ’n sinnelose oefening. Die aantal veranderlikes soos onder meer tegniese en sportiewe regulasies van enige gegewe era is té onaanpasbaar om teenoormekaarstellend te meet. Die relevantste maatstaf – hoe onbevredigend ook al – bly die beskouing van een jaer se vaardigheid teen dié van sy tydgenote.

Neem jy egter die loopbane van enige van die top-F1-jaers van enige generasie onder die loep, dan is daar noodwendig dalings en stygings, maar by Lewis Hamilton kyk jy vas in ’n kontoer van kontinuïteit. Die sleutelopenbaring in die see van sy sukses is dat hy die enigste F1-jaer is om ten minste een ren te kon wen in elke jaar van sy deelname aan Formule Een.

Enige jaer se koker bevat standaarditems soos spoed, rentegniek, motorgevoel of aanpasbaarheid by alle baantoestande, maar Lewis Hamilton s’n het ’n ekstra vakkie, wat ook volharding en die vermoë om teëspoed in geleenthede te omskep insluit.

Dink maar terug aan 2018 se Duitse ren, toe hy teen ’n oormag sy pad van 14de na eerste oopgeveg het.

Sy voormalige spanmaat en aartsvyand, die tweemalige kampioen Fernando Alonso, het dié feit in 2017 beaam toe hy van Hamilton sê: “Hy kon wen met die beste motor, met ’n goeie motor soos in 2010 of 2012, of met slegte motors soos in 2009 en 2011. Nie baie kampioene kan dít sê nie.”

In alle vorms van motorsport word spanmaats aan mekaar gemeet; met die gevolg dat die spanmaatskap van ’n gemiddelde jaer met ’n superster-jaer ’n doodsvonnis is: Sodra die bruid die verhoog bestyg, verdwyn die strooimeisie. Loopbane, lewenslus en ego’s sneuwel onder die wete dat die beste wat ’n nommer-twee-jaer ooit per jaar kan vaar, tweede is.

Valtteri Bottas se viertal oorwinnings vanjaar sou verwelkom word by enige ander span, maar teenoor Hamilton se tiental bly dit hopeloos. Slegs Alonso (wat die 2007-seisoen met presies dieselfde aantal punte afgesluit het) en Nico Rosberg in 2016 was ooit volwaardige teenstanders vir Hamilton – en wat het Rosberg gedoen minder as ’n week nadat hy kampioen geword het? Kies die hasepad.

En dis ’n kenmerk van die topjaers – daardie moeitelose vermoë om die onmoontlike moontlik te maak en daardeur die andersins goeie jaers na gemiddel-des te reduseer. Hamilton het dit; Alonso het dit; en in sy Red Bull-dae, Sebastian Vettel ook.

Daardie elikser van uitsonderlikheid kan verder gedistilleer word tot die vermoë om ten alle tye die beste uit jou motor te kry. Ongeag van wat dit sê van die suiwerheid van die sport, het Hamilton veral in 2019 waargeneem en geïnternaliseer dat renne nie hoef gewen te word deur op sy mededingers te konsentreer nie, maar eerder die beste na die snesie-agtige Pirelli-bande om te sien.

Beter bandbestuur skep beter strategiese opsies vir minder kuipestoppe óf beloof ’n beter uitkoms, wat verder vergemaklik word wanneer al die motors rondom jou moet katvoet ry net om die geruite vlag te haal.

Om dieselfde rede is Lewis Hamilton se sesde jaerskroon amper sy vergeetbaarste, onderstreep deur die feit dat sy tweederangse spanmaat die enigste werklike bron van deurlopende teenstand in 2019 was, en aangehelp deur die afwesigheid van noemenswaardige druk van Ferrari en Red Bull. Hy en Bottas is al spanmaats by Mercedes vir 60 renne oor drie seisoene, met ’n gesamentlike segetotaal van 37, waarvan 30 Hamilton s’n is.

Dit sê alles.

En dis jammer, want Formule Een verdien beter; sy ondersteuners verdien beter; en ’n mens kan nie anders as om te dink dat die koning sélf ook so nou en dan darem ’n bietjie harder vir sy geld moet werk nie.

  • Die Brasiliaanse Grand Prix vind volgende Sondag op Interlagos plaas.
Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Motors  |  Formule 1  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.