Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ruim BR-V baas in sy nismark

Met die Covid-19-pandemie wat verbruikers laat swaar trek het, lyk verskeie waarde-vir-geld-rygoed nou aanlokliker.

Selfs vir die groeiende gesin met ’n beperkte begroting is daar ’n paar opsies wat oorweeg kan word, soos die Suzuki Ertiga, Toyota Avanza en natuurlik die Honda BR-V.

Toyota se Rush sou ook netjies hier ingepas het, maar hy bied nie drie rye sitplekke soos die ander nie.

Hulle word almal hoofsaaklik in Indië en Indonesië vervaardig, wat help om hul prys laer te hou teenoor voertuie wat van onder meer Europa ingevoer word weens ons pap wisselkoers.

Die BR-V is die duurste onder die klomp, maar is hy die ekstra geld werd?

Honda se BR-V vergoed met ruimte en veelsydigheid vir sy paar tekortkomings. Foto: Willem Fritz

G’n vaal Jan

Veeldoelvoertuie is gewoonlik nie bekend vir hul opwindende ontwerp nie, maar Honda het die BR-V met ’n paar sportnutselemente toegerus wat hom meer van ’n tawwe-tienie-houding gee as jou gewone veeldoeler.

Hy staan hoog in sy sokkies en spog met ’n dakrak en plastiekstroke by die wielboë, asook “skermplate” voor en agter.

Die Elegance-model, wat ons op die proef gestel het, is die topmodel en spog met ’n paar ekstra tooisels soos netjiese allooiwiele.

Vroeër vanjaar het die BR-V ’n ligte opknapping ondergaan, wat die toevoeging van LED-ligte insluit wat hom nog moderner laat lyk.

Die BR-V het dalk nie die breë, gespierde voorkoms van jou tipiese sportnuts nie en sy skraal en regop houding laat hom effe lomp voorkom, maar tussen sy mededingers staan hy die meeste uit.

Klim in, daar’s plek vir nog

Gesinsrygoed word nie gekoop net om na te kyk nie.

Wat hier tel, is wie en wat jy alles kan inpas en dís waar die BR-V tot sy reg kom. Daar is drie rye sitplekke wat sewe mense kan akkommodeer, of twee volwassenes en ’n derde van ’n laerskoolrugbyspan, met nog plek heel agter vir twee of drie sportsakke.

Die tweede en derde ry kan platslaan en vorentoe tuimel, wat die laairuim aansienlik vergroot. Met die derde ry plat vergroot die pakplek van 223 liter tot ’n ruim 691 liter en as die tweede ry ook platgeslaan word, kry jy ’n yslike 1 164 liter, of genoeg plek vir ’n klein olifant.

Al is daar drie rye sitplekke is daar genoeg beenruimte in die tweede ry.

Die derde ry is meer geskik vir kinders, maar volwassenes kan ook daar inpas sonder om hulself te moet dubbel vou.

Die hoë dak beteken ook daar is hope kopruimte vir hemelbesems.

As jou gemoed die dag somber is, gaan die heelwat donkerkleurige en harde plastiek nie juis help om dit op te helder nie. Aan die positiewe kant het die instrumentpaneel ’n logiese en netjiese ontwerp en die kunsleersitplekke skep ’n elegante gevoel.

Daar is ook ’n trukamera en hoewel die mediastelsel se funksies redelik basies is, sluit dit darem ’n USB-sok en Bluetooth-koppeling in.

Nog ’n bonus is klimaatbeheer en daar is lugopeninge in die dak waarvoor die passasiers dankbaar sal wees.

Van punt A na B

Die BR-V word ongelukkig deur sy 1.5-liter-enjin (88 kW en 145 Nm) in die steek gelaat.

Hy is net ’n bietjie te groot en swaar vir die enjin se vermoëns.

Die BR-V bied goeie waarde vir geld vir diegene wat ruimte soek.

In die stad verloop dinge heel gaaf, maar op die oop pad raak die enjin gou uitasem en jy moet die sesganghandratkas maar gereeld inspan om momentum te behou, veral teen ’n opdraande, en dit is sonder passasiers of bagasie.

Die enjin is ook taamlik raserig, al ry jy rustig voort in sesde.

Dis of ’n mens soms na ’n sewende rat soek. Die ratoorskakelings is nie superglad nie, maar voel heel sekuur, en vir so ’n relatief regop voertuig is sy hantering heel aanvaarbaar. Die goeie ritgehalte is nog ’n pluspunt.

Ons gemiddelde verbruik was 6,2 liter, wat glad nie sleg is nie.

Slotsom

Die BR-V bied goeie waarde vir geld vir diegene wat ruimte soek. Al is hy die duurste in sy segment en kan jy ’n kleiner sportnuts vir min of meer dieselfde geld koop, gaan jy ver soek om sy gelyke te vind wat waarde, ruimte en veelsydigheid betref.

Met waarde-vir-geld-rygoed gaan daar altyd kompromisse wees en die BR-V is geen uitsondering nie, maar as jy verby sy tekortkomings kan kyk, het jy ’n voertuig wat die lewe makliker maak en maklik is om mee saam te leef.

Prys: Honda BR-V 1.5 Elegance (handrat) – R333 300.

Meer oor:  Motors  |  Honda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.