Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ruim Koleos mos ’n raakvatter

Dalk is dit die sportnuts waarmee Renault eindelik gaan raakvat. Onthou die Koleos van ’n dekade gelede? Eienaars was gaande oor die dieselmodel se lang reikafstand en billike prys, maar daardie voorkoms het menige potensiële koper afgeskrik.

Toe, as opvolg, bring Renault sy nuwe Kadjar, ’n Frans ontwerpte en geboude sportnuts wat meer aan ’n fris Megane as veldryer herinner het. Maar ondanks ’n billike model­reeks wat petrol- en dieselenjins ingesluit het asook ’n stewige TV-advertensieveldtog, wou die Kadjar net nie vlamvat nie. Dalk die prys?

Renault se nuwe Koleos lyk darem mos strate beter as sy voorganger, en as die onlangse Kadjar. Ons hou van sy praktiese, geen-fieterjasies-geaardheid.Foto: Marnus Hattingh

Draai nou die horlosie vorentoe na vandag en hier sit ons weer met ’n Koleos. Hoe nou? Met ’n nuwe baas in Suid-Afrika aan die stuur is die fokus stelselmatig weggestuur van “begeerlik, maar duur” na “wat sal werklik vir Suid-Afrika werk?”.

Waar die Kadjar ’n tegnologies gevorderde, Europees gefokusde voertuig is, het die kopknik gegaan na die Suid-Koreaans geboude Koleos met sy eenvoudiger, goedkoper meganika. Renault kon hom dus goedkoper oorsee bekom, en teen ’n aantrekliker prys aan Suid-Afrikaners bied.

’n Fris wa, dié

Hier het ons dus nou ’n lekker groot en ruim sportnuts met straks nie al die tegniese sofistikasie van ’n Kadjar nie, maar hy lyk beter en hy ry steeds heel skaflik en hy breek nie die bank nie.

Voorlopig is hy net met ’n 2.5-liter-petrolenjin te kry, maar as volumes optel wil Renault ook ’n turbodiesel hierheen bring.

Daardie twee-punt-vyf is egter die eerste leidraad van sy eenvoudiger wortels: Dit is ’n ouer, goed­koper ontwerp sonder enige turbo-aanjaging, en boonop gekoppel aan ’n Derdewêreldvriendelike ratkas, die CVT-tipe outomatiese ratkas.

Dit doen gelukkig nie te veel afbreuk aan die nuwe Koleos nie. Dis heel ruim (Renault sê hy het die langste asafstand in sy klas) en saam met vyf volwassenes wat met gemak sal kan inpas, kan jy ook ’n paar tasse agter ingooi.

Die laaivloer is plat en as jy die vloer oplig, sal jy ’n volgrootte noodwiel vind. Die rugleunings agter kan ook met die oplig van ’n knip vooroor kantel om ’n plat laaivloer te skep.

Ons hou van die groot Koleos. Hy kruip stelselmatig onder jou vel in. Teen tussen R400 000 en R500 000 vir die reeks bied hy heelwat sportnuts vir jou rand.

Nuttige stelsels, maar . . .

In die binneruim tref ’n mengsel van oud en nuut jou. Al die afwerkings is pikswart leer, maar gelukkig is die oppervlakke waaraan jy sal raak (instrumentpaneel, deure) als met ’n sponslagie onder die bekleedsel beslaan.

Die Koleos het ook stemmingsbeligting in die kajuit. Daar is strepies LED-liggies regdeur wat ’n sagte pers gloed sal skyn, of ’n groen of dies meer. Jy kan kies.

Ook die groot vertikale raakskerm is modern. Dit lyk na dieselfde stelsel wat Volvo benut en is heel treffend. Jy vee met die vinger oor die skerm om tussen verskillende “blaaie” rond te blaai, of by sekere funksies uit te kom (lugversorging, radio).

Daar is egter geen toegewyde radio- of multimediaknoppie nie. Om dus vanaf die radio na jou musiekstokkie te wissel verg ’n handvol stappe. Dis lastig. Jy kan wel die stelsel ook met stembevele manipuleer. Ook vreemd is die volume- en wissel-skakelaars wat agter die stuur versteek is. Net soos die ritmodusknop. Dis vreemd.

Gooi kole!

Die Koleos is standaard in sy voorwielaandryf-modus, maar jy kan 4x4 met die knop kies. Die blikbrein sal die krag tussen die asse versprei.

Die grondvryhoogte is 21 cm en hy absorbeer menige slaggat as jy daardeur ploeg. Die padbande gaan jou grootste vyand wees, want die Koleos is heel gedug wat grondpadry betref.

Die CVT-tipe ratkas is nie ons gunsteling nie, maar dit bied ’n gemaklike, moeitevrye rit in die dorp. My verbruik het net onder 9,0 liter gedraai, wat die tipiese aard van ’n groot, natuurlik geaspireerde enjin verklap. ’n Moderner turbo-enjin sou meer krag met ’n ligter verbruik bied.

Slotsom

Ons hou van die groot Koleos. Hy kruip stelselmatig onder jou vel in. Teen tussen R400 000 en R500 000 vir die reeks bied hy heelwat sportnuts vir jou rand.

* Prys: Renault Koleos Dynamique – R479 900.

Meer oor:  Renault  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.