Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ryers langtand vir elektriese voertuie in VSA

En die toekoms is groen. So word vertel.

In die tussenfase gaan ons elektriese voertuie ry, en in die verre toekoms, reken motorbedryf-indoenas, sal dit waterstof wees.

Nou’t die BMW-groep ’n opname onder doodgewone, gemiddelde Amerikaners laat doen om te hoor wat hulle van e-voertuie dink. Die resultate was minder belowend as wat BMW vooraf gehoop het.

In afwagting op die groep se bekendstelling van die Mini Cooper S E (“E” vir vol-elektries) vroeg volgende jaar, is 502 mans en 502 vroue, almal ouer as 18, oor die aard, funksie en voordele van EV’s ondervra.

Tweederdes van respondente het gesê e-voertuie is eintlik maar net vir pionierkopers (early adopters), terwyl ’n volle driekwart geen idee gehad het waar die naaste e-voertuig-laaipunt aan hul huis is nie.

Op ’n vraag oor wat ’n aanvaarbare tydsbestek sou wees vir die herlaaiing van e-voertuie, het meer as ’n kwart gesê hulle weet nie, terwyl nog ’n kwart gereken het dat dit binne ’n halfuur moet geskied.

Die waarheid is natuurlik dat ’n meerderheidslading in 30 minute gedoen kan word as jy hoëstroom gebruik, maar dat die laaste 20% steeds hope tyd sou vereis – en dat dit ure neem om jou e-voertuig oornag by die huis te laai. Die meeste Mini-re­spondente het ook gereken e-voertuie is eintlik maar net goed vir pendel en stedelike gebruik, ’n opvatting waaraan vervaardigers hard sal moet werk as hulle mense daarvan sou wou oortuig dat iets soos die Jaguar I-Pace (wat pas plaaslik bekend gestel is) gemaklik 400 km op ’n enkele batterylading kan haal.

Aan die positiewe kant staan die Amerikaanse regering ’n belastingkrediet van $7 500 toe as jy ’n e-voertuig koop. Dis meer as R100 000 in ons geld – iets wat enige mens twee keer sal laat dink as die res van die pakket min of meer goed lyk.

Dis ook iets waarmee die I-Pace, wat vir omtrent R1,7 miljoen verhandel, sekerlik sal kan doen . . . alhoewel R1,6 miljoen nie sóveel aantrekliker lyk nie!

Uit Mini se opname is dit egter duidelik die gewone mense byt nog maar langtand aan e-voertuie. In vele opsigte hou dit fantastiese voordele in, maar dit gaan bitter lank vat voordat goedkoper binnebrandenjins van die aardbol af verdwyn, veral met die vordering wat met sowel petrol- as dieselbronne gemaak word.

Nissan en General Motors het klaar petrolbronne met varieerbare drukverhoudings gereed en in middel 2008 was Rapport die enigste plaaslike publikasie wat Mercedes se DiesOtto-enjin in die S-klas (met soortgelyke tegnologie) in Spanje gaan bestuur het. Daarby het Bosch al ’n jaar gelede dieseltegnologie bekend gestel wat NOx-vrystellings met 90% verminder.

Die toekoms van motorry is beslís dus groen(er). Maar dis geen uitgemaakte saak dat jy noodwendig na ’n e-motor sal moet oorslaan as jy in die volgende dekade of wat ’n nuwe kar wil aanskaf nie.

Meer oor:  Vsa  |  Opname  |  Mini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.