Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
SA fietsers laat die vlag wapper op oorsese bane
Sheridan Morais het die naweek die Suid-Afrikaanse vlag laat wapper in Europa, waar hy en sy Yamaha-span ’n vierde plek in ’n uithouren in Slowakye behaal het. Foto: Motorsportmedia

Nasionale baanrenne het die afgelope naweek die kollig op die Killarney-renbaan in Kaapstad gefokus, maar Suid-Afrikaanse jaers op twee en vier wiele het hul stempel ook elders plaaslik en oorsee afgedruk.

Die derde ronde van die Ex­treme-spoedfees is Saterdag op Killarney beslis, waar jaers van oor die land heen die vinnigste baanmotors en -motorfietse in Suid-Afrika teen mekaar opgeweeg het.

Die hoofdis op die spyskaart was die toermotors (GTC), waar Robert Wolk nie sy BMW se voorste wegspringplek in ’n rensege kon omskep nie.

Simon Moss, die kampioenskapsvoorloper, het sy spanmaat, Tschops Sipuka, se Audi oorgeneem nadat sy motor nie wou aanskakel nie, maar Daniel Rowe (VW) het ren 1 voor Wolk en Moss gewen. Die Toyota-jaer Michael van Rooyen, wie se motor in die oefenlopies ook nie wou aanskakel nie, was in die vierde plek.

Moss het daarna herstel en ren 2 in sy eie motor gewen – dié keer met Keagan Masters (VW) tweede en Van Rooyen derde.

Die Kaapse jaer Jurie Swart het die aksiebelaaide eerste Polo-beker-ren gewen, met die kampioenskapsvoorloper, Jeffrey Kruger, tweede en nóg ’n Kapenaar, Dario Busi, in die derde plek. Talle titelaanspraakmakers het in die slag gebly. Drie van hulle – Brad Liebenberg, Justin Oates en Chris Shorter – het die tweede ren in daardie volgorde oorheers.

Talle jaers het ook Suid-Afrika se naam oorsee hoog gehou.

Wat die tweewieljaers betref, het die Kaapse held David McFadden (Yamaha) korte mette van Clinton Seller op sy soort­gelyke Yamaha en Lance Isaacs op sy BMW in die eerste Superfietsren gemaak.

Seller het in ren 2 die oorhand oor McFadden en nóg ’n plaas­like jaer, Hayden Jonas (Yamaha), gehad.

Talle jaers het ook Suid-Afrika se naam oorsee hoog gehou.

Sheridan Morais was lid van die Yamaha-span wat die vierde plek behaal het in die FIA se motorfietsuithouren oor agt uur in Slowakye. Nóg twee landgenote, die Kawasaki-jaers Dorren Loureiro en Dino Iozzo, was derde en vierde op Imola in Italië in die Wêreld-SSP300-renne.

Die Verwey-broers Luke en Kade, kleinseuns van die renheld André Verwey, het die Britse Junior Supersport-renne in Donington oorheers.

Verder noord het David Perel sy Ferrari in die 13de plek oor die wenstreep gestuur en sodoende die vierde plek in sy klas behaal. Hy was net een sekonde agter die Bentley wat Jordan Pepper vroeër in die Blancpain GT-uithouren oor vier uur op Silverstone gery het.

Kelvin van der Linde se Audi het egter uitgesak nadat die motor vroeër in die ren probleme opgedoen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.