Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Dakar 2020
SA jaers (en hul rygoed) blink uit

Die Dakar-ren – soos baie veldtydrenne, waaronder die gewilde Toyota-1000-woestynren in Suid-Afrika – is bekend vir hul byt in die stert, en dit is presies wat met van die Suid-Afrikaanse motordeelnemers gebeur het.

Maar dit was nie naastenby vir enigeen so erg as vir Hennie de Klerk en Johann Smalberger in hul Nissan Navara wat in die doodsnikke van die ren (terwyl hulle 26ste was) viervoet vasgesteek het nadat die motor twee weke en amper 7 000 km deur die Arabiese woestyn oorleef het nie.

Ricky Brabec het met sy Honda die lang wurggreep wat KTM op die Dakar gehad het gebreek toe hy die eerste Saoedi-Arabiese safari van dié ren gemaklik gewen het.

“Ons het minder as 100 km van die 7 500 km van die Dakar oorgehad toe die motor kort voor die eindpunt in Kiddia net gaan staan het,” het De Klerk vertel. “Die ratkas het die gees gegee en ons kon nie beweeg nie – die wiele het geen aandrywing gehad nie.”

Die enigste uitkoms was om te wag en te hoop ’n medejaer sleep hulle tot voor die eindpunt.

“Ons spanmaats het stilgehou, maar hulle kon ons nie sleep nie aangesien hul eie klas-mededingers te kort op hul hakke was. Dus moes hulle voortjaag.”

Fernando Alonso (voor) help om ’n wiel om te ruil van sy Toyota Hilux. Dié oud-F1-jaer was een van die trekpleisters van vanjaar se ren op die Arabiese skiereiland en het ’n goeie debuut gehad. Foto’s: AP

Gelukkig was die “Dakar-gees” nog springlewendig en het die Spaanse MAN-vragmotorjaers Jordi Juvanteny, José-Luis Criado en Xavier Domènech stilgehou om hulle al die pad tot by die eindpunt te sleep.

“Die Dakar-reëls laat dit toe. Jy kan steeds deelneem en vir die uitslag kwalifiseer as ’n deelnemer jou tot by die eindpunt sleep. Dis iets wat die Dakar uniek maak, en wat ons gered het.”

Hulle is uiteindelik in die 34ste plek algeheel geklassifiseer nadat hulle die vorige dag nog 29ste was.

  • Vanjaar se Dakar-ren is deur die ervare El Matador, Mini se Carlos Sainz, gewen. Toyota se verdedigende kampioen, Nasser Al-Attiyah, was strykdeur die twee weke in die topdrie posisies en het ook die laaste skof in sy Suid-Afrikaans geboude Hilux gewen, maar was steeds ses minute 21 sekondes agter Sainz in die algehele tweede plek.

“Meneer Dakar”, die Fransman Stéphane Peterhansel (ook in ’n Mini), was nog drie en ’n half minute verder terug in ’n heel skaflike derde plek.

Suid-Afrika se Dakar-koning, Giniel de Villiers, was uiteindelik vyfde agter Yazeed Al-Rajhi (Hilux) nadat die Stellenbosser die tweede sneltrajek gewen en nog goed gelyk het om dié eerste Dakar-ren in Saoedi-Arabië net soos die eerste in Suid-Amerika in 2009 te wen.

Pap wiele het egter sy kanse gekniehalter totdat ’n verdwaalslag hom en sy nuwe navigator, Alex Haro, te ver laat terugsak het.

Die oud-Formule Een-kampioen en groot trekpleister vir vanjaar se ren, Fernando Alonso, wat in sy eerste Dakar-ren gejaag het, was eindelik 13de algeheel nadat hy twee dae voor die einde nog 10de was, maar toe sy Hilux oor ’n sandduin laat rol het.

Meer oor:  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.