Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
SA wen in Mongolië

Dit was ’n goeie naweek vir Suid-Afrikaanse sport met die land se voorste veldfietsryers wat hul ovaalbal-broers nagedoen het toe hulle die res van die wêreld in die pas afgelope BMW GS Trophy in Mongolië behoorlik afgestof het.

Suid-Afrika se drieman­­skap van Chris Meyer (39) van George, Eugene Fourie (39) van Centurion en Mark Dickinson (33) van Pretoria het die agt dae lange uitdaging in die woestynlandskap eindelik gemaklik met 338 punte gewen.

Amerika (286) was ’n hele ent verder terug, gevolg deur Frank­ryk (284) kort op die Amerikaners se hakke.

Spanne het met eenderse BMW GS-fietse aan die kompetisie deelgeneem.

Suid-Afrika se span is vroeër die jaar in Mei in die Klein-Karoo gekies nadat ’n groep finaliste oor ’n naweek in allerlei veldrykunsies getoets is.

Hierna het hulle voorverlede week na Klein-Asië vertrek, waar hulle hul in Oelan Bator (die hoofstad) by die ander 17 spanne vanoor die wêreld heen aangesluit het.

Die 18 spanne in vanjaar se GS Trophy (die sesde keer wat dit aangebied is) het 23 lande verteenwoordig. Sommige spanne soos Latyns-Amerika het lede van verskillende lande gehad (Colombia en Peru).

Daar was vanjaar ook twee vrouespanne: AusAmerika (Australië en Amerika) en EurAfrika, wat twee deelnemers uit Suid-Afrika bevat het (Ezelda van Jaarsveld van Pretoria en Linda Steyn van Kempton Park).

Die kompetisie volg basies dieselfde formaat as die G4 Challenge van Land Rover. Deelnemers moet elke dag ’n lang skof in spanverband aflê, waartydens daar verskeie uitdagings in sekere stadiums afgehandel moet word. Saans by die oornagkamp is daar soms ’n verdere uitdaging aan die spanne gestel.

Al hierdie uitdagings het elke dag punte vir die spanne verdien. Die span met die meeste punte wen die trofee.

Trotse wenners! Suid-Afrika se span het 17 ander spanne van oor die wêreld heen in die pas afgelope GS Trophy-uitdaging in Mongolië die loef afgesteek.

Aanvanklik was Suid-Afrika in die vierde plek, maar het twee dae later opgeskuif na die eerste plek en het dit nie weer prysgegee nie.

Trouens, die span het later ’n meer as 100-punt-voorsprong gehad, sodat die organiseerders die laaste dag se kompetisies drievoudige punte laat tel het. Dit het beteken die Suid-Afrikaners kon ná al die harde werk en duidelike voorsprong steeds die kompetisie verloor.

Oor die eerste paar dae moes die jaers veral hul vernuf in sagte riviersand wys. Soms is roetes uitgewerk waardeur hulle hulself moes maneuvreer, waar goeie balans en beheer van die versneller en koppelaar van uiterste belang was.

Ander kere moes ’n tydtoets deur moeilike terrein afgelê word, met die ekstra uitdaging dat al die jaers in ’n span so na as moontlik aan mekaar se tyd moes klaarmaak.

Van die ander uitdagings wat saans aangebied is, het behels om ’n tent op- en af te slaan teen die horlosie, om ’n band om te ruil, en om boog te skiet.

Hier het die Indiese span verras met twee kolskote – op die verkeerde bord.

Eindelik kon die Amerikaners en Franse net nie genoeg doen om die vaardige Suid-Afrikaners in te haal nie. Dit is die SA span se tweede sege in die kompetisie nadat hulle in 2016 ook die wenners was. Daarby het Suid-Afrika by nog twee geleenthede ook as die naaswenners klaargemaak.

Meer oor:  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.