Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Saal af met VW se California-toerwa

Vir enigeen wat grootgeword het met wintervakansies in die Krugerwildtuin, sal tent opslaan spesiale herinneringe inhou van hegte familiebande smee. Jy leer jou broer, sus en kleuter se kort humeure in ’n japtrap ken.

Eenkant was daar altyd die Autovilla-gesin. Die koel groepie wat nóg in ’n rondawel wou bly, nóg in ’n woonwa gesien wou wees. Hul huis-op-wiele was ingerig vir langpadtoere. Maar meer nog, dit was kompak, netjies en gerieflik. Ons kinders was altyd jaloers.

Volkswagen
Volkswagen se nuwe California Coast is ’n heerlike, deeglik toegeruste toerbus. Onthou net jou swembroek.

Rol die horlosie 40 jaar vorentoe en die Autovilla bestaan steeds. Nou net onder ’n ander naam, en selfs netjieser en meer ingerig as daardie hardebaard-kampeerders van destyds.

Volkswagen noem sy nuwe toerwa die California, en die afwerkingsvlak wat ons in Suid-Afrika het, is die Coast. Dis ’n gewilde bus in Europa, waar hy die marksegment lei. Maar bygesê, in Europa kry jy ook kleiner groottes van hierdie toerwaens. Veral die Caddy-grootte bussies wat vir twee mense ingerig is, is nou gewild.

Maar moenie ons California skeef aankyk nie. Daar’s als wat jy vir leeus-kyk in die wildtuin nodig het, plus nog so ’n paar bederfies.

Die bussie is op die opgeknapte T6.1-bus van Volkswagen geskoei. Dus, jy kry die mooi, moderne voorkoms buite met sy LED-hoofligte, en die digitale skerms binne wat ook met stembevele werk. Onder die enjinkap sit VW se 2.0 liter-biturbodiesel (146 kW, 450 Nm) wat genoeg skop gee vir gerieflike langpad-toer. 

VW maak aanspraak op rondom 8,0 liter verbruik, maar my ervaring was nader aan 10,0 liter.

Trek uit, wip op

Die kajuit is egter sy sterkpunt, en waar jy die meeste van die tyd wil deurbring. Dis duidelik Klaus en Fritz van Wolfsburg het lank onder die sterrehemel gelê en dink wat als nodig gaan wees vir ’n toerwa se ruim.

Eerstens is daar twee skuifdeure weerskante van die bus. Die luikdeur agter maak ook oop, maar is helaas nie elektronies beheerbaar nie. Dis ’n groot deur, en jy moet hom ’n pluk gee om af te trek as jy dit wil toemaak.

Voor in die ruim is die kombuis, wat bestaan uit ’n wasbak, tweeplaat-gasstofie en klein (42 liter) vrieskas. Net agter die kombuis is ’n breë rusbank met ’n ekstra skerm daaragter. Die rusbank se rugleunings vou plat sodat jy ’n dubbelbed kan prakseer saam met die skerm as jy als laat plat lê.

Gaaf om te weet is dat die voorste twee individuele sitplekke ook kan omswaai, sodat jy ’n sitkamer kan vorm as die rusbank regop is.

Heel agter in die bussie kan jy die skerm as ’n tafel inspan, terwyl die een kant van die bussie ook gepak is met kassies. In die kassies is ’n stortpyp en -kop, plus sy watertenk (en die opwasbak s’n) en die gasbottel. Die stortwater is nie verhit nie.

Buite die bussie is daar ’n uittrek-skadunet asook ’n tafeltjie en twee stoele, wat jy vir piekniek of middagete onder jou afdak kan gebruik.

Ek het ook die vloer se duursame bedekking met ’n dik, swart plastieklaag waardeer.

Maar wag, daar’s nog

Straks die wen-ses van die toerbussie is sy opwip-dak. Dit verg ’n bietjie moeite om al die ritssluiters en gespes los te maak, maar dan druk jy dit net vinnig op dat dit met ’n helling oop staan, en dan kan jy ’n smal dubbelbed daar bo opmaak. Daar is ’n 12V-sok asook liggie, slegs vir hierdie boonste slaapruimte.

Terloops, die res van die kombi het ook 12V-sokke en lampies wat jy individueel kan verdof vir sagter beligting. 

Voor in die kajuit is ’n beheerpaneel waar jy water- en gasvlakke kan nagaan, ’n alarm kan stel of die ligte se outo-aanskakel kan beheer (vir jou vroeg opstaan as jy wil gaan leeus soek).

Afsaal

Die California Coast is ’n heerlike toevoeging tot die SA motorlandskap, en daar is nie nog so ’n doelgeboude weergawe by ons beskikbaar nie. Jip, hy is duur, maar gegewe dat jy basies die deftige Caravelle kry met ’n rits ekstras, is die sowat R1,2 miljoen pryskaartjie verstaanbaar.

Jy kan ’n ou Iveco- of Mercedes-bussie aanskaf en na jou smaak inrig as ’n toerwa, wat hope pret sal verskaf en dalk minder mag uitwerk op jou begroting. 

Maar hier is ’n doelgeboude bus reeds ingerig, met al wat jy moet inpak jou swembroek en draftekkies – as die leeus jou saans op pad na die kleinhuisie wil jaag.

Prys: VW California Coast – R1 232 600.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Kamp  |  Vw  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.