Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Die Mustang as sekssimbool

Met ’n nuwe tiengang-outokas het die onlangs gekuurde Mustang 5.0 GT ’n groot sprong vooruit gegee.
Vir baie dekades, reken Egmont Sippel, het die Ford Mustang op beeld oorleef. Mustang V en VI het die legende in ere herstel. Maar dis die nuutste kuur wat ’n ware Mustang van Ford se topponie maak.

Wat’s die mees Amerikaanse wiele waaraan jy kan dink, buiten bakkies, brekers en veldvreters soos 1943 se Willys Jeep, die Hummer en ’n paar Ford- en Chev-pickups?

Wel, daar’s ’n horde Plymouths, Pontiacs, Dodges, Chevs, Chryslers en Cadillacs wat stem dikmaak, plus die Oldsmobile 88, wat deur sommige as Amerika se eerste spiermotor beskou word.

Die 100 kW-Olds met sy 5.0-liter-Rocket V8 het selfs as inspirasie vir die eerste rock ‘n’ roll-sông, “Rocket 88”, gedien.

Ike Turner, hy wat met Tina getroud was, had ’n stuiwer in daardie notebeurs.

Maar die mees Amerikaanse wiele tot nog toe?

Spoed en krag is faktore. Maar die ding met die ’Stang is daai beeld.

Waarskynlik ’n Ford – en nié die Model T nie. Hy’s tweede.

Eerste is die Mustang. Moet wees.

Wat anders?

Mustang-beeld, Mustang-moewies

Spoed en krag is faktore. Maar die ding met die ’Stang is daai beeld.

Dit begin in 1961 met die Ford-voorman Lee Iacocca se visie van ’n goedkoop, klein Amerikaanse spiermotor. In die aanloop tot 1962 se Amerikaanse Grand Prix-naweek te Watkins Glen behaal Dan Gurney rondtetye in ’n tweesitplek-Mustang-prototipe met ’n middelgemonteerde viersilinder-enjin wat F1-motors laat skrik.

En op 17 April 1964 volg ’n stormloop toe die Mustang vier maande voor die aanvang van 1965 se motormodelsiklus losgelaat word; so vroeg dat hy as die “1964½-model” bekend raak.

Steve McQueen se Mustang uit die moewie Bullitt. Die Mustang het in 1964 saam met twee ander ikone op die toneel ontplof: Porsche se 911 en Hollywood se verruklike Raquel Welch.

Die ’Stang as poniemotor-pionier is met ’n keuse tussen ’n 2.8-liter-V6 (75 kW) en ’n 4.3-liter-V8 (122 kW) gebore en skynbaar doelgemaak vir Steve McQueen se jaagtonele in die 1968-moewie Bullitt.

’n Ikoniese band is tussen die Mustang en spoed verewig toe McQueen – as die speurder Frank Bullitt – die boewe se swart Dodge Charger 440 Magnum in ’n GT Fastback V8 agtervolg het.

Ford het twee identiese GT-weergawes in Highland Green verskaf – een met ’n versterkte veerstelsel vir al die bokspringtonele voordat hy platmetaal in ’n herwinningsplaas sou word; en ’n ander wat later tot historiese voertuig met registernommer 21 verklaar is.

In 1974 het laasgenoemde in private hande beland en vir 40 jaar lank verdwyn. Vroeg vanjaar is einste ’Stang vir $3,4 miljoen verkoop. In plaaslike pitte beloop dit amper R60 miljoen.

Die Bullitt Mustang.
Krag, verrigting en karakter

Vir ietsie minder kan jy deesdae ’n splinternuwe, moderne Fastback Bullitt aanskaf wat 338 kW/529 Nm uit sy 5.0-liter-V8 skop, versus die fliekwa se 240 kW/ 580 Nm uit ’n 6.4-liter-V8.

Toentertyd se kwartmyllopie het 13 sekondes geduur, net ’n oogwink stadiger as vandag se veel swaarder Bullitt (1,75 vs. 1,3 t) met sy sesgang-handrat.

Koppel egter Ford se uitstekende nuwe tiengang-outo aan die 5.0-liter-V8 en jy kan die kwartmyl in ’n knerts minder as 12 sekondes kou. Selfs in die 0-100 km/h- lopie is die outo-weergawe van die GT Fastback 0,2 sekondes vinniger as die Bullitt-handrat se 4,5 sekondes.

Dis Porsche 911 Carrera-terrein, met drie verskille: (1) gewig (die 5.0 GT Fastback is 300 kg swaarder as die 911 se 1,4 t); (2) verbruik (14 vs. 10 liter/100 km); en (3) hantering.

Die 911 is Mannetjies Roux, die Mustang is Jonah Lomu, ’n chirurgiese instrument teen ’n donderbus. Die Porsche lewer Duitse ingenieurswese, kampioenrenstatus en serebrale verwondering; die Mustang straatgravitas, klubrenstatus en sekssimbool-magnetisme.

Die 911 is Mannetjies Roux, die Mustang is Jonah Lomu, ’n chirurgiese instrument teen ’n donderbus. Die Porsche lewer Duitse ingenieurswese, kampioenrenstatus en serebrale verwondering; die Mustang straatgravitas, klubrenstatus en sekssimbool-magnetisme.

Só was dit in 1964 met hierdie twee se geboorte.

Só is dit vandag nog.

Van sexy tot slodderkous

Met ’n mikpunt van 80 000 vir die Mustang se eerste produksiejaar het Dearborn 16 000 eenhede vir sy bekendstellingsdag voorberei, wat 6 000 te min was!

Drie maande later het die verkoopsyfer deur 100 000 gebreek. In die eerste jaar is 700 000 verhandel. Op 1 Maart 1966 is die miljoenste Mustang gebou.

Dit alles in minder as twee jaar!

Die verrotting het egter kort daarna met 1967 se groter en swaarder wa begin. In die vroeë 1970’s is die klem selfs van krag en spoed na grootte en weelde verskuif. Die laaste weergawe van die eerste Mustang was 360 kg – oftewel drie Eben Etzebeths – swaarder as die debuutmotor. Spesiale uitgifte soos Boss 302, Boss 429 en Mach 1 het, as brug tussen standaard-Mustangs en Shelby-variante, soos rodeo-bronco’s geskop.

Maar nes pragtige jong flieksterre wat soms weens ’n oormaat gemorskos en goedkoop plastiese snykunde verouder, nog vóórdat drank en dwelms inskop, het Ford se pronkstuk in sy tweede geslag van sexy tot slodderkous verval.

Mustang II, III en IV was onherkenbaar. Tussen 1974 en 2004 het daar van die oorspronklike motor se oorrompelende magnetisme net ’n herinnering oorgebly. Ten minste het Ford aan tegniese front van die 30 jaar oue kleinblok-en-stootstang-V8 ontslae geraak, voordat 2005 se vyfde geslag weer in die Mustang-mosterd sou rol.

Mustang V- en VI-ontwerp

Sterk, kragtig en aangrypend, met raamlose deurvensters en ’n swiepende rug. Dit nou Mustang V. Die kort agterstewe had drie klassieke agterligslierte en die lang neus diep ingeburgerde kopligte, alles in die idioom van Mustang I.

In 2015 het Mustang VI kepe op die dak bygevoeg, ’n enjinkap met twee luggeute en ’n rooster waarvan die bolip wellustig na buite bol, terwyl die mondhoeke kwaai na onder oopbreek. Dis ’n Welch-mond, niks minder nie. As erkenningsknik aan 1964½ se agterligontwerp dra Mustang VI ook haai-kiewe in die kopligte se binnehoeke, in die vorm van drie vertikale ligstafies met dagry-funksionaliteit. Ná die onlangse kuur krul einste stafies se punte na buite weg; agterligte se stafies krul hul punte na binne.

In 2015 het Mustang VI kepe op die dak bygevoeg, ’n enjinkap met twee luggeute en ’n rooster waarvan die bolip wellustig na buite bol, terwyl die mondhoeke kwaai na onder oopbreek. Dis ’n Welch-mond, niks minder nie.

Toentertyd se sekssimbool het uit die slaap verrys. Die nuutste Mustang lyk na die motor wat hy nog altyd moes wees.

Maar is hy?

Vóór laas jaar se opknapping, nee.

Ná die opknapping? Jô.

Greep, veerstelsel en hantering

Deur die jare is top-Mustangs merendeels vir spoed in ’n reguit lyn gebou. Ten spyte van goeie greep was hulle lomp deur draaie. Onthou dat Ford se poniemotor aanvanklik op die Falcon Sprint se onderstel en meganika gery het, insluitende ’n soliede agteras, wat goed vir versnelrenne was en niks meer nie.

Selfs in 1978 het die Mustang nog op agterste bladvere galop!

Gewig en ’n vae stuur was ook vaal kolle. Teen 2015 was dit dan te verwagte dat Mustang VI se onafhanklike agterveer-uitleg ’n nuwe rit- en hanteringsheelal sou betree. Greep was steeds die dominante dinamiese kenmerk, maar laas jaar se kuur het die hanteringskoker ook met stywer kantelkeerstawe en wringstewiger stertbakwerk gevul.

Sagter nuwe dempers lewer boonop beter gevoel en beheer oor rowwe padoppervlakke, veral as jy 275 mm- breë agterwielrubber op 19”-allooie plant.

Lugdinamika, veiligheidstoerusting en die kajuit is ook liggies verbeter, terwyl ’n hersiene stuurstelsel sorg dat die vooras se 255/40-ZR19’s nou akkurater navigeer.

Greep, traksie en tien-spoed-outo

Vir kragapies is daar ook ’n wegtrektruuk wat die voorste ankers vasgryp en die suidelikes ontkoppel sodat jy die agter-as se Michelin Pilot Sport-vellies via ’n rookmielie kan opwarm vir ’n traksiegulsiger wegvlie.

Geniet dit, as dit jou soort ding is.

Maar wat waarlik tel is die dinamiese sprong wat, ironies genoeg, met die hulp van ’n nuwe ratkas ontluik het.

Vat nou die pre-gekuurde Mustang se sesgang-outo. Tydens spoedslagting vir ’n draai moes jy kunsmatig lank op die remme vertoef om toere amper tot by 4 000 r.p.m. te kalmeer, voordat ’n laer rat gehaak kon word.

Die ankers het al die harde werk sónder enjinremming gedoen.

Dis ’n algemene tekortkoming op feitlik alle motors met outokaste.

Met ’n handrat kan die wisselwerking tussen remme, koppelaar en ratkas self gemanipuleer word om laer gange teen veel hoër toere te vind.

Dit bied twee voordele: Vinniger versnelling uit die apeks; en beter benutting van enjinkompressie om sterker vir die indraai te rem.

Die GT se blitsige, naatlose nuwe tiengang-outo is ’n katalisator vir presies dít. Met genoeg ratio’s om die enjin heeltyd in sy viriele strek te hou, is laer gange gemaklik bo 5 000 r.p.m. beskikbaar, sou jy hard van die rooi lyn by 6 500 toere rem.

In 2015 se Mustang kon die sesgang-outo nie altyd die regte balans tussen spoed, toere en ratio’s, en daarom krag, wring en traksie vind nie. Gevolglik moes jy uitermate op greep staatmaak om vinnigrig deur draaie te seil.

Greep was dus ’n vangnet vir vaart, ’n verdedigingsmeganisme om nie van die pad te boender nie.

In die gekuurde model kan mens greep ook as aanvalswapen inspan, omdat die regte ratio’s en derhalwe optimale wring en traksie ’n vroeë, aggressiewe versneller op draai-uitvalle bemagtig, veral in Race Track-modus.

Maar die grootste bonus bly die ekstra vermoëns en vertroue wat Ford se eie, tuisgeboude tiengang-outo op die inval na draaie skep, ’n skuif wat hantering ook nou in die kredietkolom plaas, naas ou bekendes soos voorkoms, verrigting en klank.

Enjin, krukas-argitektuur en klank

In die Coyote-V8 se nuutste inkarnasie word silinderwande juis met ’n plasma-bedekking besproei wat 0,8 mm dunner as die vorige ystermantel is. ’n Effe breër boor rek dus slagvolume van 4 951 na 5 038 cc.

Met hoë 11.0:1-kompressie lewer die 5.0 GT se onaangejaagde 32-klep-aluminiumbron nou 331 kW/529 Nm (pleks van 306 kW), en 338 kW/529 Nm in die 5.0 Bullitt Z plus natuurlik daai rollende donderklank, teen luier en kruip afgelewer in ’n diep, rustige doek-doek-doek-doek wat jy net uit ’n kruisvlak-kruk kry.

Of noem dit ’n kruispatroonkruk, daar dit – in sy lengte af beskou – na ’n vliegtuigskroef met vier lemme (oftewel ’n kruis) lyk, juis omdat suierstange elke 90° aan die as heg, teenoor ’n platvlak-kruk met hegpunte elke 180°.

Laasgenoemde is gewild vir renenjins omdat dit kragontwikkeling bevorder, onder meer weens beter asemhaling omdat silinders gevuur word na elke 180° waardeur die krukas wentel, wat uitlaatpolse van mekaar skei.

’n Kruispatroonkruk vuur silinders ná elke 90°. Saam met swaar kontragewigte op die as lewer dit konstante, eweredige silindervuur – doek-doek-doek-doek – en derhalwe gladde, hoëwring-enjinrotasie, teen lae toere.

Wring, spierkrag en sekssimbool

Teen 30 km/h per uur in die dorp dreun die Mustang GT feitlik net op sy enjinklank voort, in vyfde rat! Teen 40 km/h haak hy sesde, teen 45 sewende, teen 53 agtste – sonder om te snork of te slurp of te stotter.

Dís wat mens wring noem! Kombineer dit met ’n macho voorkoms en die Yankee-ste motor tot nog toe het sedert sy geboorte in kamers van verwagting en wolke van begeerte gelewe, met hope beeld en bruikbare binnegoed, ja, maar ook ’n vitamien-C-arme dinamika.

Daai oorspronklike beeld, terloops, het in dieselfde jaar as die 911 s’n ontkiem. Einste in 1964 het ’n verruklike jong godin met ’n selfs groter sensuele impak haar silwerskermdebuut in ’n Elvis-moewie genaamd Roustabout gemaak.

Raquel Welch

Raquel Welch het van wulpse erotika gedrup (sien meegaande foto). Elvis het libido uit sy heupe losgepelvis. Die ’Stang het testosteroon gepomp.

Tussen dié drie het hulle Amerika op horings geneem.

Maar die Ford had ’n langtermynvoordeel. Anders as die Koning lewe hy steeds bogronds. En anders as die Koningin raak hy by die dag jonger en virieler.

Neem die komende, baangerigte Mach 1-variant met sy 353 kW in berekening, en Ford se sekssimbool lewer ten laaste waarvoor hy bestem was. Sy dinamika pas nou by sy huid en derms.

Die planeet se besverkopende sportwa – laas jaar met 102 000 eenhede – is uiteindelik dan volbring.

Die Mustang, om dit só te stel, Mach maar mosterd maal. En sexy spoeg.

  • Prys: Ford Mustang 5.0 GT Fastback – R965 000, 2.3T Fastback – R809 000, + R65 000 vir Convertible-weergawes. Die 5.0 Fastback Bullitt kos R1,048 miljoen.
Meer oor:  Mustang  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.