Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sement vir paaie – seën, of las?

Brittanje beplan om ’n massiewe R7,0 miljard te bestee om 600 km se snelweë wat met sement gebou is, se oppervlak met teer te vervang.

Volgens Engeland se hoof van paaie, Martin Fellows, het hul talle sementsnelweë die land goed gedien, maar is dit nou tyd om dit met ’n nuwe oppervlak te seël.

Die Britte se sementsnelweë is grootliks in die 1950’s gebou. Benewens dat dit ná 50 jaar se gebruik opknappings nodig het, is daar ook periodiek klagtes vanaf die publiek dat die bandgeraas wat van dié paaie afkomstig is, dit erg irriterend maak om dit te gebruik.

Die padingenieurs sê die nuwe teer-bolaag sal nie net ’n stiller rit bied nie, maar sal ook ’n skoner, gladder oppervlak hê.

Daar was nog altyd deur die jare ’n groot tweestryd tussen die ondersteuners van sement- en teerpaaie.

Die Ben Schoeman-snelweg tussen Johannesburg en Pretoria was vir lank die vaandeldraer van sementpaaie in die land. Suid-Afrika se platteland gaan tans erg gebuk onder swak verbindings- en munisipale paaie. Terwyl amptenary nie vinnig sal verander nie, is langdurige sementpaaie straks ’n oplossing om minder van lakse amptenare vir instandhouding afhanklik te wees.

In Suid-Afrika het ons maar slegs enkele voorbeelde van sementpaaie, maar die plaaslike bedryf maak gereeld voorbrand in ingenieurskringe om as voorkeur vir padoppervlakke ingespan te word ten koste van die verkose teerpaaie.

Enkele voorbeelde van sementpaaie in die land is die Ben Schoeman-snelweg tussen Pretoria en Johannesburg, en enkele vragmotorbane op die N3. Ook in Kaapstad het die N2 ’n kort sementgedeelte gehad, maar is intussen met teer vervang.

Sement se voorstanders sê alhoewel die aanvangskoste sowat 15% duurder is vir ’n sementpad as ’n teerpad, is dit op die lange duur goedkoper. Aangesien sementpaaie tipies ’n rakleeftyd van 50 jaar het, teenoor teerpaaie se veronderstelde 20 jaar maar wat in die praktyk, met oorlading en swak onderhoud die groot rolspeler, nader aan tien jaar is, sal ’n 50 jaar-vensterperiode goedkoper uitwerk vir ’n sementpad as vir ’n teerpad.

Dis dan veral provinsiale en munisipale owerhede wat hulself teen die aanvangskoste vasstaar, sê die sement-steungroep.

Die oplossings is egter nie eenvoudig of, wel, in beton gegiet nie.

Sementpaaie kan basies met twee tegnieke gebou word. ’n Pad wat ligte vrag sal dra (’n distriks- of plaaspad, of selfs ’n voorstedelike straat) kan in kompakte blokke gegiet word (soos menige huis se oprit, byvoorbeeld). ’n Snelweg op sy beurt sal aaneenlopend gegiet word, maar moet dan ’n staalrooster as versterking ingebed hê.

In Suid-Afrika word daar egter al hoe meer van ’n hibridiese aanslag gebruik gemaak wanneer dit by die konstruksie van snelweë kom. Padingenieurs gebruik ’n binnelaag van sement om krag en duursaamheid te bied, terwyl ’n paar lae teer bo-oor gerol word om die oppervlak glad en geraasvry en ook ietwat meer buigsaam te kry.

Die opknappings aan die N2 en N7 tans rondom Kaapstad benut hierdie metode.

Die sement-steungroep se voorstel dat provinsiale paaie sover moontlik met sementpaaie vervang moet word, maak egter sin. Waar Sanral vir nasionale paaie verantwoordelik is, en dus op die beste ingenieurs en toegewyde begrotings kan steun, is sake op provinsiale vlak tans baie treurig wat dié belangrike aspekte betref.

Daarom sou dit sin maak om die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga se etlike verrinneweerde teerpaaie (tipies verbindingspaaie tussen dorpe, wat deur vragmotors, busse, gesinsvoertuie en trekkers benut word) met langdurige sementpaaie te vervang.

Reën en verwering kan dus nie so gou slaggate begin veroorsaak nie, wat die nodigheid vir instandhouding – ’n vae begrip by provinsiale owerhede – daadwerklik vermeerder.

Die toestand van die platteland se broodnodige verbindingspaaie kan dus sodoende vir ’n langer tyd kommervry benut word nadat dit eenmalig gebou is.

Meer oor:  Martin Fellows  |  Brittanje  |  Sementsnelweë  |  Paaie  |  Teer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.