Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Sideways’ Scheckter, ons F1-held

Veertig jaar gelede het Suid-Afrika sy eerste en enigste kampioen in Formule 1 opgelewer. Dit het alles begin met ’n ou ren-Renault R8 met ’n gesweiste diff, gebou deur ’n 18-jarige appy in sy pa se werkswinkel, skryf Braam Peens.

Jody Scheckter agter die stuur van die Tyrell P34 tydens die Duitse Grand Prix by die Nürnburgring in 1976. Foto: Lothar Spurzem

Dit het begin met ’n ou ren-Renault R8 met ’n gesweiste diff, gebou as ’n 18-jarige appy in sy pa se workshop. Sommer met exhaust tubing vir ’n roll cage.

En wanneer dié platsak dienspligtige nie mededingers oor naweke rondom Oos-Kaapse renbane geterroriseer het nie, het hy 20 uur lange ritte na Bulawayo toe onderneem met ’n geleende sleepwa om sy merk daarso te gaan maak, voorspelbaar gevolg op die opeenvolgende Maandae deur ’n siekbrief van sy tandartsneef aan sy bevelvoerder om hom te verskoon sodat hy van die voosgejaagde Renault kon red wat daar nog te redde is.

Dienspligtige met voet van lood

’n Geslote ewenaar verseker maksimale traksie, maar die keersy is dat albei wiele ten alle tye teen dieselfde spoed roteer. Wat beteken as een wiel te veel vet kry en begin tol, begin álbei tol en in ’n agterwielaangedrewe voertuig begin die stert te swaai.

Braam Peens

“Toe supercharge ek dit”, vertel hy aan die tydskrif Motorsport. “Maar toe word dit ’n handvol, want sy brieke was nog standard en met afgesaagde road springs . . . Dít was wat my so vinnig die leer laat klim het – nie omdat ek noodwendig vinnig was nie, maar omdat ek skouspelagtig was.”

Só skop die kronkelende lewensverhaal van Jody “Sideways” Scheckter af; die disleksiese Joodse boykie van Oos-Londen met ’n voet van lood en hare soos ’n mofskaap, vel dikker as ’n renoster, aksent platter as ’n vergruisde Lion-doppie onder ’n weermagstewel, maar later Ferrari se enigste Formule Een-kroondraer vir 21 jaar (en Suid-Afrika se énigste tot nog toe); toe wapenmagnaat, multimiljoenêr en vandag biodinamiese boer in Brittanje.

Sy reg-of-weg jaagstyl het veroorsaak dat hy van sy eerste nasionale wedren gediskwalifiseer is, maar onvermydelik ook aandag op hom gevestig het. Mazda het vir hom ’n geleentheid in die 1970-Springbokreeks aangebied, waarna hy sy klas in die destydse Kyalami Negeuur-uithouren in die M10A gewen het, gevolg deur ’n aanbod van Ford vir ’n rit in die Sunshinereeks. As die suksesvolste plaaslike deelnemer was Scheckter se prys ’n reis na Europa.

In Maart 1971 land Scheckter in Brittanje, met 300 pond in sy sak en sy destydse vrou, Pam, aan sy sy – en die droom om die beste renjaer ter wêreld te word. Sonder ’n ondersteuningspan of gereedskap – en sonder ’n renmotor – daag hy op die 21ste van daardie maand by die Brands Hatch-renbaan op, waar hy Emerson Fittipaldi se 1969 Merlyn Formula Ford koop en in die kuipe laat aflewer.

Die Burger berig in 1979 dat Scheckter as wêreldkampioen gekroon is.

“Dit het gereën en ek het nog nooit ’n enkelsitplekrenmotor op ’n nat baan bestuur nie, maar ek het die vinnigste wegspringtyd behaal en voorgeloop in die resies. Op die tweede laaste rondte het ek oorywerig geraak en getol. Maar ek het teruggeveg na tweede toe, en ’n halfsekonde agter die wenner klaargemaak.”

Beide die Surtees- en McLaren-renspanne het in 1972 aan Scheckter se deur kom klop met die oog om hom agter die stuur van hulle onderskeie Formule Twee-motors te kry. In daardie dae het F2-jaers teen hulle F1-eweknieë deelgeneem, maar die Suid-Afrikaner kon nie aanvanklik die McLaren M21 kleinkry nie. Die latere vind van ’n fout by die agterste skokbrekers het wel sy hongerte en haas herstel.

“Ek het die resies by Crystal Palace gewen . . . en vir die eerste keer het ek gedink ek sal dit in F1 kan maak.”

Die kosmos het saamgestem.

Scheckter in Duitsland in 1979, sy beste renjaer. Foto: GETTY IMAGES

Van joller tot toller

Sy deurbraak het gekom toe Lotus met ’n versoek kom dat Scheckter in hulle tweede F1-motor vir die oorblywende vyf renne van daardie jaar wou jaag. As sy werkgewer was McLaren onwillig, maar het onder druk geswig en Scheckter in hulle eie derde motor by Watkins Glen, 1972 se laaste resies, ingeskryf.

Jody Scheckter se dae van visvang in Oos-Londen, ure op sy pa se werkswinkelvloer en selfs sy Europese debuut by Brands Hatch ’n skamele 18 maande vantevore het skielik soos ’n leeftyd gelede gevoel toe hy vir sy eerste Formule Een Grand Prix aantree. Hy het agtste weggespring, maar dadelik sy pad na derde oopgekerf. ’n Onverwagse reënbui het hom sy plek gekos, maar hy het uiteindelik negende klaargemaak met ’n tweede vinnigste rondtetyd van ’n halfsekonde stadiger Jackie Stewart. Die knuppel was in die hoenderhok.

Hoewel Scheckter se spoed onbetwisbaar was en sy motorbeheer ongeëwenaard, was sy temperament aanvanklik nie ewe onwrikbaar nie. By die Franse Grand Prix van 1973 – nog net sy derde in F1 – het hy tweede weggetrek en die ren oorheers, tot Emerson Fittipaldi, die vorige jaar se kampioen, 12 rondtes voor die einde in sy Lotus by Scheckter probeer verbyskouer het.

Wat is Brasiliaans vir “aikôna”? Die Suid-Afrikaner sou eerder wiele stamp as om sy plek op te gee – en het ook: hy het die Brasiliaan spermuur toe gestuur, maar die McLaren se vering was flenters.

Maar die mees onvergeetlike insident wat Scheckter se etiket van joller tot toller verewig het, is twee weke later by die Britse Grand Prix ontketen, waar hy aan die begin van die tweede rondte eers oor die gras gegly, terug oor die baan teen die kuipemuur vas en daarna middelwaarts oor die baan gebons het – en nege motors in die proses vernietig het.

“Ek het opgekyk en daar was botsings oral rondom my, voordat die wrakke my motor getref het. Ek het afgebuk in die kajuit en toe dit stil word, weer my kop uitgesteek, maar toe volg nog ’n stortvloed ongelukke, toe buk ek maar weer af.”

Sy spanbestuurder se advies – of bevel – agterna? “Gaan kruip in die motorhome weg en moenie gou weer uitkom nie.”

’n Sege in Monaco in 1979. Agter Scheckter is prins Rainier (middel) en prinses Grace. Foto: GETTY

Versoeke dat hy van F1 verban moet word, het gevolg; en Scheckter het inderdaad vir ’n paar maande in die VSA gaan skuil, waar hy onder meer aan Formule 5000-enkelsitplek- en CanAm-renne deelgeneem het. Laasgenoemde was aan die stuur van ’n plat 12-turbo Porsche 917, wat op sy warmste verstelling 1 500 perde (1 118 kW) kon uitskop.

Scheckter was terug in ’n McLaren vir die laaste twee rondtes van die 1973-F1-seisoen. Met rede om te glimlag, omrede hy Jackie Stewart, wat aan die einde van daardie jaar as kampioen in die beste motor van die seisoen sou uittree, se sitplek die volgende jaar sou oorvat, het hy sy toekomstige spanmaat, François Cevert se Tyrell tydens die kwalifiseringsrondtes uit die kuipe by Watkins Glen gevolg.

Tot op daardie stadium was die lewe vir die Suid-Afrikaner ’n nimmereindigende ABBA-treffersalbum. En dit was in die dae toe manne nog manne was; toe renjaers nog tussen sessies gerook (en soms gedrink) het; ego’s en hare ewe groot en medaljes hulle pad tussen borsboskasies moes oopveg; en veiligheid so skraps soos die gewillige grid girls se uitrustings.

Die naald van die klankbaan van Scheckter se lewe sou binne sekondes ontspoor.

Cevert het beheer oor sy motor deur die esse verloor en die veiligheidsreling teen 240 km/h trompop getref. Sy liggaam was middeldeur gesny en die wrak ’n vlammesee (Vermy dit liefs op YouTube).

Scheckter was eerste op die ongelukstoneel. “Ek wou sy veiligheidsgordels gaan losmaak. En ek het dadelik omgedraai en weggeloop. Ek sal nooit onthou wat ek in daai kajuit gesien het nie; tot vandag toe onthou ek nie, want ek het dit uitgeblokkeer. Ander jaers het ook stilgehou en wou kom help, maar ek het hulle gekeer en gesê ‘nee, dis verby’.

“Dit was die eerste persoon wat ek geken het se dood . . . Al wat ek van daardie dag af wou doen, was om F1 te probeer oorleef.”

Jody Scheckter (in blou) en Gilles Villeneuve op Kyalami in 1979. Villeneuve was in dié wedren eerste en Scheckter tweede. Foto: GETTY IMAGES

‘Holistiese’ deurbraak

Drie jaar het gevolg by die Tyrell-span, waar die eienaar, Ken Tyrell, hard aan Scheckter se jaagtegniek geskaaf het om hom sy renne holisties pleks van impulsief te laat benader, maar vir al sy oënskynlike hardkoppigheid het laasgenoemde dit eintlik reeds geweet: “Jy gaan nooit die kampioenskap wen as jy die heeltyd ongelukke maak nie.”

Sy gewilde sege by Kyalami in 1975 was die prys vir sy nuutgeleerde geduld.

In 1976 het Tyrell die seswiel-P34 bekendgestel – waarskynlik een van die herkenbaarste F1 motors ooit. As jy sukses nagejaag het in ’n era gedefinieer deur die Ford Cosworth DFV-enjin, tesame met opponente waarvan twee-derdes die talent had om renne te wen, moes jy stroomop swem met ’n ander motorkonsep. Die smaller P34 was vinniger in die pylvakke en veronderstel om meer stabiel te wees tydens remmaneuvers, maar sodra een van die vier voorwiele gesluit het, het die asafstand verkort óf verleng en die stabiliteit dadelik verdwyn. Al het Scheckter dit gehaat, het hy die P34 se enigste oorwinning in Swede gelewer, en ’n derde plek in die kampioenskap losgestoei.

Teen die einde van 1976 het Scheckter die perke van die Tyrell-span raakgesien en hulle verlaat. Hy het by die nuwe Wolf-span aangesluit in 1977 en tweede in die kampioenskap geëindig. Die 1978-motor was egter ’n ramp en Scheckter se oë was reeds elders.

Maar waar?

“Vir jare lank het Ferrari gesê hulle wil met my praat, maar dit het nooit gebeur nie. Ek het die Ou Man [Enzo Ferrari] in Mei van daardie jaar gesien, en sy eerste vraag was ‘Hoeveel geld soek jy?’ ”

“Ek is nog te jonk om oor geld te praat.”

Vir jare lank het Ferrari gesê hulle wil met my praat, maar dit het nooit gebeur nie.

Die antwoord, oftewel uitkoms van hierdie gesprek was $1.2 miljoen vir twee jaar, prysgeld uitgesluit. ’n Plaas se geld, selfs in daardie dae.

Ferrari se droom-duo – kookwater-Scheckter as nommer een met sy spanmaat, die later-mitiese Gilles Villeneuve (wat in 1982 in ’n rooi F1-motor sou omkom) – het 1979 in die 314 T4 oorheers. Maar ná vyf rondtes was dit die Kanadees in puntevoortou. Scheckter het egter teruggeslaan met opeenvolgende oorwinnings by Zolder en Monaco; en op 9 September van daardie jaar het die Oos-Londense boorling kampioen geword by Monza voor Ferrari se tuisskare, toe hy eerste verby die geruite vlag gejaag het.

En op watter beter manier as om sy oorwinning op die sinvolste manier te bemeester? Terwyl Villeneuve daardie naweek vasberade was om die vinnigste in elke oefensessie te wees, het Scheckter uitsluitlik gefokus op die resies en sy enjin- en bandgebruik daarvolgens haarfyn beplan. “Ek het nie daardie jaar die heeltyd sideways gery nie.”

Euforie? Selfregverdiging? Nee. “Verligting.”

As die 314 T4 perfeksie verpersoonlik het, was die onbetroubare en swak kompeterende 314 T5 ’n tondeldoos eerder as ’n torpedo – en was 1980 vir Scheckter ’n vergeetlike jaar in F1. “Onbewustelik het ek begin afstomp . . . As jy vir die 18de plek moet veg, is dit baie moeilik . . . Die wonder van F1 het vir my verdwyn.”

In Julie 1980, op die ouderdom van 30 jaar, het Jody Scheckter sy uittrede uit F1 aangekondig.

>> Twee Formule Een-legendes, Niki Lauda (links) en Jody Scheckter in Kent, Engeland, in 1973. Toe was Scheckter nog ’n impulsiewe jaer wat nie bang was vir ongelukke nie.Foto: getty images

Bees- en suiwelboer

Anders as die siele wat F1 groet maar nooit verlaat nie, het Scheckter daarna ’n heel ander lewensrigting buite die sport ingeslaan. Teen 1996 was FireArms Training Systems (FATS) – sy wapenopleidingsmaatskappy, wat hy 12 jaar vantevore begin het, operasioneel in 35 lande, met ’n personeeltelling van 280 en ’n omset van meer as $100 miljoen per jaar. Hy het dit verkoop en is vandag ’n biodinamiese boer in Suidwes-Engeland, wat spesialiseer in biogeproduseerde vleis- en suiwelprodukte.

Totdat hy weer betrokke geraak het by sy seuns, Ian en Toby, se motorsportloopbane, met veral die bestuur en finansiering hiervan, het Jody Scheckter die selfopgelegde ballingskap verkies van randfiguurskap buite F1-kringe: deels om geografiese redes vanweë die vestiging van FATS in die VSA, waar F1 vir die deursnee-Amerikaner omtrent so bekend soos Gonubie was, maar ook omdat hy by tye geglo het die 21-jarige heerskappy as Ferrari se langsdienende wêreldkampioen was ’n vloek. Eers nadat Michael Schumacher die kroon by Scheckter in 2000 oorgeneem het, kon hy voel dat mense weer sy bydrae tot die span (her)waardeer.

Enzo Ferrari het weinig van sy jaers as gelykes behandel. Sommige was bloot werknemers; ander – veral húlle wat in sy motors gesterf het – was vir hom soos sy eie seuns.

“Hy het baie respek vir my gehad, maar was lief vir Gilles.”

Enzo Ferrari het weinig van sy jaers as gelykes behandel.

Besoek jy vandag sy plaashuis, is daar geen teken van enige renmemorabilia nie; geen motgevrete vlae of muwwe renoorpakke vasgekeer agter ’n glasraam nie. Elders op die perseel pronk elke enkelsitplekrenmotor wél (in lopende toestand, vir gebruik op die spesiaal geboude baan op die plaas) waarmee Jody David Scheckter tussen 1971 en 1980 gery het, wat insluit die Merlin, sy McLarens, die Can-Am Porsche, die Wolf, en natuurlik die T4 – almal behalwe die seswiel-Tyrell, wat elders uitgestal word.

Maar dan is daar sy Twitter-rekening, waar hy homself beskryf as “1979 Formule Een-wêreldkampioen vir Ferrari en vervaardiger van die lekkerste, gesondste kos by Laverstoke Park-plaas”. Net vir ingeval die wêreld durf vergeet het.

Meer oor:  Formule 1  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.