Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sit agteroor . . . en ruik die lewe

Lus om die Kaap vanuit ’n nuwe hoek te sien? Maklik, klouter net agter in ’n syspanfiets in, skryf Jeanne Henning Els.

Almal saam (en Brody die brak) op die sonskyn kusrit om die Skiereiland op ’n syspan-motorfiets.

Kyk, Steve McQueen was een van my helde. Veral toe hy in die fliek The Great Escape allerhande wilde toertjies met sy syspanfiets uitgehaal het.

So hoor Tim Clarke, eienaar van Cape Sidecar Adventures, dat ek ’n ding oor sulke fietse het. Hy sê kom, hy vat my en Christiaan, een van my seuns, op ’n rit om die Kaapse Skier­eiland. Brody, sy gelukbringer, kom saam.

Die CJ750-fietse wat Tim uit China ingevoer het, is in die 1950’s en 1960’s gebou as militêre voertuie vir Mao Zedong. Dis die einste soort as die een waarmee McQueen so amok gemaak het.

Een oggend 10:00 hou hy in Groenpunt stil met Tammy, soos hy sy blink, pruim-pers fiets gedoop het.

Op die agtersitplek in die syspan sit Brody, met ’n bril wat vir hom in Amerika ontwerp en gemaak is. Ek klim in die syspan en gaan sit gemaklik op die breë plek voor hom. Christiaan skuif agter Tim op die motorfietsdeel in.

Rustig trek ons weg en al met die Atlantiese kus langs dreun ons voort. Verby Seepunt se promenade, Clifton se strande, verby Glenstrand.

Jy voel veilig, want Tammy se topsnelheid is 50 km/h, boonop klou sy stewig op die pad. Intussen rus Brody sy kop op my skouer, sy nekdoek wapperend in die wind.

Terwyl die Twaalf Apostels-bergkant oor die fynbosvelde troon en ons verby Llandudno en Houtbaai ry, sê Tim sy maatskappy kan met 40 fietse en oorgenoeg gelisensieerde bestuurders 85 mense per uitstappie vervoer. Weskus toe of na die Bolandse wynlande, selfs kus- en berglangs na Bettysbaai.

Ons ry nou deur Scarborough, waar walvisse digby die kus fonteine in die water spuit. En vat ’n breek op Red Hill met onder ons Simonstad en Boulders. Die laaste strek Valsbaai langs is deur Vishoek, verby Nuweland en die Rhodes Memorial, tot by die Waterfront.

Ná vier uur en sowat 120 km laai Tim en Brody ons af. Christiaan, wat maar stillerig was, laat val so in sy afklim: “Bliksem, nou dít was cool.”

Daardie syspan spel bevryding. Ek het agteroor gesit terwyl ek die lewe ruik. Die nektar van speldekussings. Gemaalde koffiepitte. Die kamfer van bloekoms en dennebome. En varsgebakte vis en tjips.

Dit was my eie Great Escape.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.