Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sjiek Fransman wys sy kloue

Met ’n dwarsgly oor modderbesaaide paaie in Gauteng se natste somer in jare het Peugeot vasgebyt om sy nuwe 2008 in lewende lywe aan ’n handvol joernaliste te wys.

Gewoonlik gee ons nie om vir – en skryf nie oor – die omstandighede van ’n bekendstelling nie. Maar met hierdie nuwe sportnutsie van Peugeot was die omstandighede werklik uniek.

Ons is nog in die middel van ’n viruspandemie. Trouens, al wat ander vervaardiger is, het in Januarie besluit om hul eie bekendstellings eerder aanlyn aan te bied. Peugeot het deur reën, virus en modderpaaie of te nie, volhard om joernaliste agter die stuur te kry.

En dis ook duidelik hoekom.

Hierdie nuwe 2008, die tweede weergawe sedert nommer een in 2013 sy buiging by die Genève-skou gemaak het, is ’n visuele en sensoriese belewenis.

Die navorsing lei

Laat verlede jaar is ’n paar duisend eienaars van nuwe voertuie gevra waarom hulle op hul bepaalde voertuig besluit het. In die afdeling vir klein sportnutse – die warmste segment in die mark met een uit elke vyf voertuigverkope – het amper ’n derde gesê hulle kyk heel eerstens na die voorkoms.

Joie de vivre! Peugeot se nuwe 2008 lyk sommer ramkat met al sy aksentlyne en katnael-hoofligte.

Verder af op hul lysie is dinge soos hoe ry die knaap, hoe lekker sit hy, kan ek my naweektassie inlaai. Daardie praktiese dinge. Maar eerstens, hoe lyk hy.

Met dit in gedagte het Peugeot groot moed dat sy nuwe 2008 ons mark soos ’n Italiaanse skuldeiser aan die ore gaan beetkry. Kyk net na sy uitdagende lyne. Die groot, forse rooster met die fyn chroomdetail. Die vertikale LED-ligte wat soos katnaels krap. En onder dit, les bes, so ’n lang sabeltand van ’n mislig. Lekker eiesoortig, in ons mark.

Ek hou ook van die uitgeboude wielboë – die resultaat van ’n paar aksentlyne wat in die regte lig pragtig uitstaan.

Druk net die knoppie

In die kajuit het Peugeot sy slimgeit voortgesit. Op die foto’s lyk dinge ietwat plat, maar voor in die bestuurder se skoot sit die klein stuurwiel, lekker laag. En dan kyk jy bo-oor na die digitale instrumente wat in die topmodelle ’n driedimensionele beeld het. Werklik treffend.

In die middel van die instrumentpaneel het Peugeot ’n lekker groot raakskerm geplaas, so effe na die bestuurder gedraai. Jy vee en blaai met die vingerpunt en kan ook die agtergrondkleur daarvan verander.

Nuwe platform

Sedert Januarie is Peugeot en Fiat een groot gesin, maar hierdie troue het nog nie die Fransman direk geraak nie. Die 2008 ry op die ou PSA-groep se CMP-platform, wat net so deur die nuwe PSA-en-Fiat-Chrysler-troue oorgeneem is vir toekomstige nuwe voertuie.

Die binneruim is besonder stylvol. Kyk net die klein stuurwiel, die driedimensionele beeld, en die horisontale knoppies in die middel.

Vergeleke met die vorige 2008 het die knaap nou ’n handbreedte gegroei in asafstand, asook in sy algehele lengte en in die breedte. Dus, meer ruimte en pakplek, maar veral ook meer knieruimte agter.

In Suid-Afrika kry ons slegs voorwielgedrewe 2008’s, en een enjin, die 1.2-liter-petrolturbo. Dit is darem in twee kragvlakke te kry. Ons reeks sal uit drie afwerkingspakkette bestaan, met die intree-Activ wat ’n sesgang-handrat het, terwyl die Active en Al­lure ’n keuse van ’n sesgang-handrat of -outokas sal bied. Die topmodel is die GT Line, wat met net die sesgang-outokas te kry is.

Bzt, oppas

Toerusting hang af van die bepaalde model, maar in topvlak-afwerkings kry jy items soos ’n baanverlaat-gonser, ’n selfstopfunksie en outomatiese hoofligte, onder meer.

Daar is ook sitplekverwarmers binne en ’n koordlose herlaaikissie vir jou slimfoon. Dié het ’n oulike voorkoms met ’n laaitjie wat jy bo-oor kan toetrek, dat jou foon buite sig is as jy dit in jou voertuig los om te herlaai.

Gooi kole

Peugeot se vasbyt om met sy beplande bekendstelling in ’n sopnat Gauteng voort te gaan, het eindelik in sy guns gewerk. Ons stofpad het toe in ’n modderbad ontaard.

’n Mens sou wonder of die tweewielgedrewe Fransman daar sou kon deurkom, want die modder was diep en omgedolwe, en die nat stroke lank, wat momentum geverg het.

Maar danksy vier ritmodusse wat ’n verstelling vir dié tipe toestande bied, het ons net matig op die versneller gebly en gekyk hoe die blikbrein oortyd werk om krag tussen die wiele te wissel.

Op die oop pad het die stil kajuit en afwesigheid van enige pad- of windgeraas opgeval.

Afsaal

Peugeot het ’n lieflike knapie in die baba-nutsmark na ons gebring. Sy kenteken op sy neus mag dalk teen hom tel in Suid-Afrika, maar wat eiesoortige stilering en gerieflike rit betref, het hy nie sy gelyke nie.

Meer oor:  Peugeot  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.