Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Skerp C-HR draf fluks voort

Sowat drie jaar gelede het Toyota mooi raakgevat met die bekendstelling van sy kompakte sportnuts, die C-HR. Met sy op-en-wakker stilering en kyk-na-my-houding was hy die ideale bykomstigheid vir vandag se modebewuste jong kopers. Toyota het verras met sy uitbundige stilering, wat so byna aan die oordadige grens.

Jy het ’n skerp oog nodig om die verskille buite raak te sien – maar dan ook, hoekom torring aan ’n ontwerp wat steeds vars lyk?

Die gevolg is dat die C-HR soos ’n pou met die kleurvolste dos vere bo die res uitstaan in ’n oorvol mark.

Wêreldwyd is meer as 400 000 C-HR’s sedert sy bekendstelling in 2017 verkoop. Plaaslik verlaat sowat 120 C-HR’s maandeliks die vertoonvloer, wat ook nie te versmaai is nie.

Ná drie jaar het die C-HR weinig van sy glans verloor. Dit is dus moeilik om te glo dat hy pas moes aantree vir sy “middeljare”-opknappingsessie, maar heelwat nuwe mededingers het sedert sy bekendstelling hul opwagting gemaak en dit het tyd geword vir die C-HR om weer sy vere reg te skud.

Bring die poeierkwas

Toyota se bekende 1.2-liter-turbopetrolenjin (85 kW en 185 Nm) stoom onveranderd voort, in kombinasie met die bestaande sesgang-hand- en CVT-ratkas. Die reeks is ook onveranderd gelaat, bestaande uit die standaard-model, die Plus- en die Luxury-model. Die standaard-model is net met die handratkas beskikbaar, terwyl die Plus die keuse bied tussen die hand- en CVT-ratkas. Die Luxury-model is net met die CVT-ratkas te kry.

Toyota het die C-HR se gesig net liggies gepoeier met die opknapping. As jy lus is vir ’n uitdaging, kyk hoeveel verskille jy kan raaksien tussen die ou en nuwe model.

Die hoofligte het ’n effens meer vaartbelynde voorkoms, terwyl die goedkoper modelle nou met dieselfde LED-tegnologie as die Luxury-model spog.

Die opmerklikste is dat die omlyning by die lugskort onder ook nou in die bakwerkkleur afgewerk is, terwyl die lugskort self ’n raps breër en groter gemaak is. Verder is die swart, vertikale stroke weerskante van die buffer dieper gemaak met die misligte wat nou daarin gehuisves word.

Die hoofligte het ’n effens meer vaartbelynde voorkoms, terwyl die goedkoper modelle nou met dieselfde LED-tegnologie as die Luxury-model spog.

Agter is daar nie veel om oor te rapporteer nie, behalwe dat die ligte se lense nou deur die bank ’n helderrooi voorkoms het en nie meer verdonker is soos voorheen in die Luxury-model se geval nie. Verder is twee nuwe kleure beskikbaar, onder meer ’n treffende helderoranje. Die Luxury-model kom standaard met ’n kontrasterende blinkswart dak.

Ek sê, hoe is jou verbinding?

Die veranderinge aan die binneruim hou hoofsaaklik met die nuwe mediastelsel verband. Die nuwe stelsel kom van Toyota self in stede van ’n derde party soos voorheen. Dit beteken die stelsel het nou al die nuutste tegnologiese lekkernye, wat die onlangse weergawes van Android Auto en Apple CarPlay insluit.

Die mediastelsel en groter raakskerm is nuut en lyk ook sommer heel fraai.

Alle modelle is toegerus met die Toyota Connect-stelsel wat benewens WiFi-konnektiwiteit ook ekstra voertuigdata en app-funksies bied. Nie net lyk die stelsel netjieser en meer afgerond nie, dis ook nou ’n raps groter. Die inligtingskerm in die instrumenthuls voor die bestuurder is ook vergroot in die Plus-model se geval.

Soos die buitekant is die binneruim ’n hutspot van verskeie vorms en eiesoortighede wat tog heel netjies en stylvol vertoon, met diamant-patrone en -vorms wat ’n deurlopende tema vorm.

Sy afmetings lyk dalk relatief kompak, maar die C-HR is eintlik heel ruim binne. Dit nou ten spyte van die effe skuins dak en kloustrofobies-klein vensters agter. Die laairuim van 297 liter is wel aan die klein kant.

Wat veiligheid betref, kry die standaard- en Plus-model nou ook ’n volle sewe lugsakke wat hulle op gelyke voet met die Luxury-model bring. Op sy beurt is die Luxury-model met Toyota se Safety Sense-stelsel toegerus wat bestuurshulpmiddels soos blindekolwaarskuwing, ’n baanverlaatgonser en aanpasbare spoed-beheer insluit.

En hoe ry hy?

Die 1.2-liter is kragtig genoeg om onder die meeste omstandighede lewendige verrigting te bied. Daar is genoegsame oemf vir veilige verbysteek en selfs ’n bietjie pret agter die stuur, met drie bestuursmodusse, Eco, Normal en Sport, waaruit jy kan kies na gelang van jou bui.

Toyota het ook aandag gegee aan verbeterde klankdemping en die stil kajuit en algehele verfyndheid beïndruk.

Ons het net die CVT-model gery en gelukkig is dié beslis een van die beter CVT-ratkaste op die mark met gladde wisseling en weinig geraas, selfs onder harde versnelling.

Toyota het ook aandag gegee aan verbeterde klankdemping en die stil kajuit en algehele verfyndheid beïndruk.

Hy is nou wel g’n Supra nie, maar danksy ’n hergekalibreerde stuur met ’n bietjie meer gewigtigheid teen hoër snelhede, asook ’n relatiewe ferm veringstelsel, is die C-HR heel opgewasse vir die taak as jy ’n paar S’e wil gooi, sonder dat die ritgehalte daaronder ly. Die sig na agter is wel beperk weens die dik C-pilaar.

Slotsom

Die C-HR in sy opgeknapte gewaad is ’n veel aantrekliker kopie. Die nuwe mediastelsel en meer veiligheidstoerusting is groot pluspunte, terwyl die bougehalte en verfyndheid ook beïndruk.

Vir sy prys is daar ruimer en meer praktiese rygoed daar buite, maar dis te betwyfel of dit sy kopersmark veel sal skeel. As jy wil uitstaan, is die C-HR steeds die aangewese keuse.

Meer oor:  Toyota  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.