Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Slap 600 ’n merker vir sy tyd

Die diktator se motor van keuse? Marnus Hattingh vertel van ’n verrassende kennismaking met ’n Mercedes 600 in Amsterdam se rykmansbuurte.

Op sy dag was die statige Mercedes 600 Pullman die spogryding van menige staatsleier.

Dit was een môre vroeg toe ek pas tuisgekom het van ’n drafsessie in Amsterdam se loofryke Vondelpark wat die plat, breë bagasiebak van die seegroen Mercedes soos ’n gemufte sny brood in dié smal keisteenstraat uitgesteek het.

Oudstaatspresident Blackie Swart het in ’n swart Mercedes 600 na die parlementsopening gery. Maar so ook Idi Amin, Bob Mugabe, Nicolae Ceausescu, Mao Zedong en Pablo Escobar.

Trouens, so gewild was die slap, statige 600 onder die wêreld se ongure karakters dat hy gou in die populêre kultuur met diktatorskap vereenselwig is. Wat nie heeltemal getrou aan die werklikheid was nie. Want ook die pous had ’n Mercedes 600 as ryding. Net soos ander mense met ’n fyner smaak in die lewe, soos Herbert von Karajan, Mireille Mathieu, Coco Chanel, Elizabeth Taylor en Elvis.

Dit was dus koddig om hierdie voorkeur-ryding van die wêreld se kleurrykste politici van die 1960’s tot 1980’s hier in Amsterdam se welvarende dele raak te loop. Nederland is ’n voorspoedige land, maar daar word nie met rykdom gespog nie.

Model-embleme word afgehaal, en groot voertuie is meestal ’n subtiele swart. Boonop, hier in Amsterdam se gragte-gordel is kleiner die inding, en as dit elektries is wen jy nog meer punte by die bure.

Die seegroen Mercedes 600 vlak voor my woonstel was eintlik die kleintjie in die reeks. Destyds, vandat hy in 1964 in Stuttgart gebou is, kon jy hierdie “kortas” (3,2 m) koop, of dan die Pullman-weergawe met ’n langer asafstand (3,9 m). Hierdie gewone kortas was egter steeds ’n gesonde 5,5 m lank – die lengte van twee Mini’s.

Waar die gewone (kort) model die beste verkoper was, was dit die Pullman met sy sitkamerstylkajuit agter (’n rusbank wat vorentoe kyk, en twee stoele wat tru kyk) wat die liefling van staatsleiers was. Mercedes se doelwit was duidelik: Die gewone model ry jy self, maar vir die Pullman kommandeer jy die chauffeur op.

Die seegroen-model wat op die wal van ’n grag in Amsterdam rusplek gevind het. Foto: Marnus Hattingh

Die Pullman kon egter ook aangepas word na jou smaak. Daar was die keuse van ’n ekstra, derde stel deure. Of jy kon ’n lapdak vir die agterste deel bestel, die Landaulet-model. Die pous het byvoorbeeld so ’n model gehad, sodat hy agter regop kon staan en vir die skare langs die pad wuif.

Om die massiewe voertuig van bykans 6 m gemaklik oor die pad te laat suis, het Mercedes spesiaal ’n nuwe enjin laat bou, die M100 met sy slagvolume van 6.3 liter en ’n V8-silinderuitleg.

Wat min bekend is, is dat Mercedes van meet af aan ook ’n spesiale beskermingsopsie van die bakwerk vir kopers beskikbaar gestel het.

Sou jy dus voel die bure raak net te jaloers op jou sakesukses, kon jy die model met dubbeldikte vensters en ’n metaalversterkte bakwerk – genoeg om aanvalsgewere op kort afstand en ’n handgranaat of drie te weerstaan – aanvra. Vir ’n paar rand ekstra, natuurlik.

Plus ’n bestuurskursus vir jou chauffeur, want om dié swaarder voertuig steeds behendig te kon ry, moes jy jou storie met sy langer remafstande en ekstra momentum in die draaie ken.

Op my model in die Amsterdamse straat was die 600 se legendariese weelde redelik sigbaar. Mooi houtpanele is orals in die kajuit te sien, en sitplekke en deurpanele is als met sagte, wit leer oorgetrek.

Alles het destyds in dié grote 600 ook met die druk van ’n knoppie gewerk, iets wat vandag algemeen in ons Corollas is, maar destyds tog ’n vernuwende kenmerk was.

Al verskil is dat alles toe nie met elektriesgedrewe motore geskied het nie, maar met ’n hidrouliese stelsel. ’n Massiewe pomp het druk tot op 150 bar gehou, wat dan al die vensters (die middelste skuifraam ook, wat die bestuurder van die passasiers afgeskei het) outomaties laat oopsuis het.

Ook die deure het met dié hidrouliese pomp self toegetrek, terwyl die vering ook hoër of laer gestel kon word. Selfs jou sitplekke, die sondak en die bagasiebakdeksel het als met hierdie hidrouliese pomp en die druk van ’n knoppie gewerk.

Teen 1981 het Mercedes produksie van sy statige 600-reeks gestaak. In die vroeë 2000’s het hy dit vervang met sy Maybach-modelle, maar dié was bloot langer en deftiger S-klas-modelle, en het boonop in die nagloed van die 2008- ekonomiese krisis gou in die stof gebyt.

Net minder as 2 700 modelle is gebou, maar talle word nog benut. Of dien in versamelings, soos Jay Leno, Mr Bean en Jack Nicholson s’n van getuig.

Die res? Dalk staan dit nog iewers in ’n staatsmotorhuis in Pakistan, die Kongo of Venezuela – of ’n boomryke straat in Amsterdam.

Gereed vir die volgende hoofstuk in sy lewe.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.