Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Só lyk VW se groen ID

Volkswagen se eerste doelgeboude e-voertuig wat na Suid-Afrika gaan kom, die ID.4, het pas in Duitsland sy formele buiging gemaak.

Die ID.4 behoort einde volgende jaar of vroeg in 2022 op ons paaie te wees.

Die ID.4 is die tweede model in Volkswagen se nuwe gesin van kompakte e-voertuie. Die ID.3, ’n langerige luikrug, het reeds die lig gesien, maar VWSA het besluit om hom eerder oor te slaan (aangesien sy Polo en Vivo reeds fluks in hierdie segment verkoop) en liewer die sportnuts-tipe ID.4 na ons mark te bring.

Albei die twee e-voertuie ry op VW se nuwe MEB-platform vir sy nuwegeslag- elektriese motors. Waar die ID.3 ’n luikrug-stadsmotor is, is die ID.4 ’n kompakte sportnuts.

Gaan VW hom mededingend kan prys op ons mark? Die nuwe batterygedrewe ID.4 is oor ’n jaar of wat op pad, en beloof billike verrigting met ’n skoon gewete.

Onder in die plat vloer sit ’n 77 kWh-batterypak wat ’n elektriese motor (150 kW) op die vooras aandryf. VW sê die stelsel lewer 310 Nm-wringkrag en behoort ’n reikafstand van 520 km te bied. Topspoed word tot 160 km/h beperk en versnelling geskied in 8,5 sekondes.

Die voorkoms ontlok maar gemengde reaksie. Natuurlik, as ’n sportnuts, sit die ID.4 hoër op sy tone (21 cm-grondvryhoogte) en daar is ook die verwagte swart plastiek-skermstroke by die some en wielboë. Die opgeswelde wangbene bokant die agterwiele en die golwende skouerlyn laat hom egter opgeblase lyk.

Voor het die neus ’n skerp voorkoms danksy die afwesigheid van ’n sierrooster, terwyl ’n rooi LED-staaf agter van kant tot kant tussen die remligte strek.

Binne is die ID.4 relatief modern. ’n Klein digitale skermpie sit reg voor die bestuurder en bied die belangrikste inligting aan hom of haar, terwyl ’n inligtingskerm bo in die middel van die voorpaneel sit. Dis effe gedraai na die bestuurder.

Wat ruimte betref bied die ID.4 egter baie. Die laairuimte agter is byvoorbeeld meer as wat die Nissan Leaf bied mét sy rugleunings platgeslaan, en is vergelykbaar met die Tiguan se kajuitgrootte.

Die kajuit is heel ruim en vergelyk goed met wat ’n huidige Tiguan jou bied, sê VW.

Topmodelle het tegnotruuks soos ’n selfstopfunksie, parkeergonsers en ’n trukamera, ’n terugdu-funksie sou jy uit jou baan uit dwaal, en ’n matige selfstuurfunksie (dit hou jou in jou baan op die snelweg).

VW het interessant genoeg ook ’n aluminiumstaaf rondom die battery gesit om dit in ’n ongeluk te beskerm. Daar is ook ’n verwyderbare aluminiumbak onder die battery, om dit teen klippe te beskerm.

Met so ’n lang tyd nog alvorens die ID.4 na ons mark toe sal kom, is dit nog moeilik om ’n prys vas te stel. Maar oorsee wil VW hom teen $40 000 bemark, wat amper R670 000 is. Maar, dan het ons invoerbelasting, terwyl Amerikaners ook ’n $7 500 afslag kry vir die aankoop van ’n e-voertuig. Dan bied VW ook die gratis herlaai van jou battery vir die eerste drie jaar by ’n bepaalde diensverskaffer se herlaaipunte. Daardie versoeters bring die kompakte e-sportnuts se eindelike prys veel nader aan dié van ’n tradisionele sportnuts.

Meer oor:  Volkswagen  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.