Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Só takel jy kruiers op snelweg

Dis nie aldag dat ’n spietkop ’n skouerklop van motoriste ontvang nie. Immers, jy sou kon redeneer selfs taxibestuurders is gewilder as die ridders van die koeltebome.

Sersant Stephen Wheeles, besig om die lang arm van die gereg op die snelweë toe te pas. Stadige bestuurders inkluis.

Maar toe die immer wakende sersant Stephen Wheeles verlede week in Indiana, Amerika, ’n tante van die snelweg aftrek, het hy in ’n kits superheld-status oor die wêreld heen verwerf. Dit boonop in wat seker die ongewildste beroep is: die spietkop.

Soos sy naam aandui was Wheeles bestem om ’n verkeersbeampte te word. ’n Man wat nie nonsens van wetsoortreders vat nie, en as dit op ’n snelweg gebeur, het Wheeles laat wiel om die wet te laat geld.

Saterdag, twee naweke gelede, was Wheeles weer op sy pos in sy Ford Crown Vic, daardie ikoniese sedan waarmee Amerikaanse wetstoepassers reg en orde laat geskied. Die slagveld: die I-65, die snelweg wat Indiana deurkruis.

Wheeles is wat die Amerikaners ’n state trooper noem. Die berede verkeersbeampte. Sy strydros is die Crown Victoria, en gewapen met sy megafoon op die dak en cowboy-hoed op syne het hy die hoofpad gepatrolleer.

Als het saaklik en normaal verloop, soos dinge meestal op ’n Saterdagoggend op die platteland gebeur. Totdat ’n tou motors in die linkerbaan voor hom opgedoem het.

Dit was die rooi lig wat hom laat regop sit het. Die linkerbaan in Amerika is die vinnige baan. Stadige voertuie hou regs, en steek links verby. Presies die omgekeerde van hoe dit by ons werk.

’n Lang string voertuie in die regterbaan sou nie ongewoon wees nie. Dit is waar die vragmotors aankruie. En Winnebago’s op pad na die viswaters. Links? Daar ry die haastige kêrels.

Danksy ’n skalkse flits van die blou ligte op die dak kon Wheeles sy pad verby die stroom voertuie oopbeur. Net om ’n ouerige dame agter die stuur van haar motor te vind.

Wheeles het die bestuurder van die pad gedwing, ’n foto geneem en dit op Twitter verewig.

Die 20 voertuie agter haar was dankbaar om weer teen die spoedgrens te kon voortry. Teen die naweekeinde het nog 20 miljoen mense hom op sosiale media gelukgewens.

Sedert die Duitsers die eerste snelweë in die 1930’s ’n algemene gesig gemaak het, het die stadige motoris in die vinnige baan padgebruikers se siel versuur.

Dit is ’n universele probleem, erger gemaak deur die feit dat hierdie oortreders nooit eens bewus is van wat hulle besig is om te doen nie. Hulle is skynbaar totaal afwesig van die frustrasie agter hul rug.

Sommige sê ons opleiding is te veel op die werftoets gefokus, waar ons parkeerders eerder as bestuurders oplei.

In Suid-Afrika het ons net redelik hiermee te make. Ek sê redelik, want in my ervaring waar ek gereeld in Johannesburg en die Kaap bestuur, is dit eintlik maar net die Kaapse bestuurder wat geneig is om te dool in die vinnige baan.

Gautengers bestuur beter. Strate beter.

Daar is verskeie teorieë. Sommige sê ons opleiding is te veel op die werftoets gefokus, waar ons parkeerders eerder as bestuurders oplei.

Gebrekkige polisiëring is nog ’n moontlikheid. In Amerika is verkeersbeamptes oral sigbaar. Jy trap dus noodwendig in jou spoor. In Suid-Afrika is daar nie net te min beamptes nie, daar is ook ’n huiwerigheid om oortreders vas te trek. Dalk uit vrees; dalk omdat hulle weet die wetsproses gaan op nul uitloop.

Wat ’n mens dan by ’n moontlike oplossing bring. Is dit nie tyd dat ons owerhede ’n opvoedings-element vir verkeersbeamptes oorweeg nie?

Trek ’n oortreder af, maar pleks van berispe en boetes uitskryf, gesels die beampte vriendelik. Hy verduidelik die oortreding en die wet, sodat hy verstaan wat hy verkeerd gedoen het, en waarom dit gevaarlik is.

Dus, lei en voed op. Laat hom dan gaan met ’n waarskuwing.

Siniese waarnemers sal sê in ’n stelsel waar “uitvang” die wins­reël vir die munisipale staatskoffers is, gaan opvoeding nie as nuwe mantra deug nie.

Maar dalk lees ’n jong, potensiële Wheeles hier, en besluit om dit self eendag toe te pas. En so ’n nuwe manier van doen in bedryf te stel.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.