Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Só vaar BMW iX3 op langpad

In ’n interessante eksperiment het BMW se witjasse vroeër die maand met ’n nuwe, batterygedrewe iX3 vanaf Berlyn na Parys gery, ’n afstand van sowat 1 000 km, om enersyds te sien hoe lank dit hulle sal neem, maar ook hoeveel so ’n rit jou sal kos.

Dit is immers een van die groot haakplekke wanneer daar oor e-voertuie gepraat word. Hoe ver kan ’n mens met hom ry? Hoe lank neem dit om hom te herlaai? En wat gaan dit jou kos?

Die antwoord is ongelukkig nie so eenvoudig soos met ’n petrol- of ’n dieselgedrewe voertuig nie. Petrol en diesel se pryse op jou roete is voorspelbaar. Jy weet ook hoe ver kan jy met ’n tenk ry. Dus, maak die som en siedaar. Jou toer bied sy brandstofprys in ’n kits.

Met ’n goed beplande rit oor 1 000 km vanaf Berlyn na Parys kon BMW sy kostes laag hou en redelik vinnig herlaai. Kostes is egter nog nie vergelykbaar met binnebrandenjins nie.

E-voertuie se reikafstand kan met redelike sekerheid vooraf bepaal word. Maar jou kostefaktor raak ingewikkelder. Herlaai jy by ’n ander vervaardiger se kragpunt, kan hy jou ’n premie (per krageenheid) hiervoor laat opdok. Of, gestel jy kan die beste eenheidsprys kry met jou eie vervaardiger se herlaaipunte, maar wanneer jou battery leeg is en jy dringend ’n herlaaipunt soek, is slegs ’n winkelsentrum se kragpunte beskikbaar, en hulle vra ’n peperduur prys.

Nie almal se herlaaispoed is ook altyd ewe vinnig nie. Wat jou rit verder kan beduiwel.

Die groot toets

In die BMW se geval het die witjasse met die groep se nuwe iX3 gery. Dis basies jou gewone X3-sportnuts, maar nou met ’n elektriese motor pleks van ’n binnebrandenjin. Die nuwe iX3 bied ’n ideale reikafstand van 460 km. As jy met ’n volgelaaide battery in Berlyn wegspring, kan jy jou roete so beplan dat jy strykdeur op snelweë ry (die matigste gradiënte, om krag te bespaar, en met die meeste herlaaipunte beskikbaar).

Met ’n vol battery kon die ingenieurs dus op rondom 400 km die battery herlaai, en ’n tweede keer op 800 km, voordat hulle met 1 000 km agter die rug in Parys aangekom het.

Die rit het hulle net minder as tien uur geneem. Ons hier in Suid-Afrika kan goed identifiseer met so ’n rit, want Bloemfontein is presies dieselfde afstand vanaf die Kaap. Tien uur vir die Kaap-na-Bloem-sessie is ’n goeie gemiddeld, en die Duitsers het hul soortgelyke Berlyn-na-Parys in nege en ’n half uur afgelê.

Die battery lê plat in die vloer, met die kompakte e-motor by die agteras.

Die Duitsers het dus nie rondgesit en teen 80 km/h na Parys aangekruie nie. Selfs met twee herlaaisessies is daar steeds goed vordering gemaak.

Wat koste betref, het dit hulle 91 aan elektrisiteitstariewe gekos. Dit was te danke aan ’n goeie eenjaar-promosie-tarief wat hulle kon benut, wat deel van die koopsom sal uitmaak as jy ’n nuwe iX3 aanskaf.

Daardie 91 is so R1 800 in ons taal. Spring jy in Bloem weg met ’n vol tenk petrol, sal jy net een keer hoef vol te maak langs die pad, wat jou enigiets van R500 tot R700 kan kos. Spring jy met ’n dieselvoertuig weg, kan jy selfs R0 se uitgawes aan brandstof hê. Want ’n Mercedes C-klas sal jou net-net meer as 1 000 km met net een tenk diesel kan laat aflê.

Wat sê ons?

Die geheim van die Duitsers se som – wat bedoel was om te wys hul nuwe e-voertuig se koste-aspek is grootliks dieselfde as ’n petrolmotor s’n – was dus dat hulle met ’n volgelaaide battery weggespring het. Vir tyd, en koste.

E-voertuie se sterkpunt bly dus voorlopig by stadsgebruik. Vir die langpad sal ons nog eers ’n rukkie moet wag.

Meer oor:  Motors  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.