Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sportage sit klem op sport

Vroeg vanjaar het Kia aan ons verklap dat die Suid-Koreaanse vervaardiger hom al hoe meer op weeldeprodukte wil toespits – ontwerp en afwerkings binnelangs.

Kia noem die ontwerptaal wat hy in sy nuwe Sportage benut Opposites United. Behalwe dat dit na ’n baie vriendelike sokkerspan klink, lyk dit heel dramaties op sy groot sportnuts.

Dit nou om homself los te maak van sy historiese wortels as die maker van sakpas rygoed met harde, grys plastiek en ’n Asiatiese voorkoms wat maar net nie vatplek kon kry in Westerse markte nie. En derhalwe ook nie die nodige pryse kon beding wat hy graag sou wou vra nie.

Kia se jongste reeks modelle wat uit Korea kom, is egter ’n antitese van wat ons 20 jaar gelede leer ken het. Kyk na die klein Sonet, die nuwe, groot Sorento, en verlede maand se e-voertuig, die EV6. Of, kyk net hier na die groep se nuwe Sportage – ’n sportnuts wat ons al ’n geruime tyd in Suid-Afrika ken.

Sterk ontwerp

Die nuwe, vyfde-generasie-Sportage is pas in Korea aan die wêreld bekend gestel en hy lyk nie net dramaties anders as sy voorgangers nie, sy afwerkings binnelangs is ook modern en selfs futuristies.

Die lang lyf word gekenmerk aan sy hoë heuplyn by die vensters wat agter, by die C-pilaar, opwaarts loop. ’n Profiel amper soos wat die Mitsubishi Pajero Sport ook vertoon.

By die deure is ’n mengsel van sterk aksentlyne en ’n ingetrekte middel, terwyl die sierrooster self ’n paar klasse by die dramaskool agter die rug het. Opvallend is die breë rooster wat reg op die hoeke al begin, en ’n besige heuningkoek-ontwerp vertoon.

Op die hoeke van die neus is die klein LED-hoofligte, met ’n mooi boemerang-swiep van LED-dagryligte wat op strek tot bo-op die enjinkap.

Dis werklik ’n dramatiese ontwerp vir die Sportage se vooraansig.

Die moderne kajuit se breë digitale instrumentpaneel en stomp rathefboom val dadelik op.

Nuwe elemente binne

In die kajuit het die Koreane net so fleurig met die ontwerpkwas te werk gegaan. Opvallend hier is die nuwe instrumentpaneel wat nou uit een, breë digitale skerm bestaan. Dis baie soortgelyk aan wat Mercedes in sy nuwe modelle bied.

Die groot paneel bestaan uit twee skerms – een voor die bestuurder, en een in die middel van die instrumentpaneel wat die nutsfunksies en trukamera huisves. Dis ’n eerste vir Kia en die lang skerm strek boonop ietwat in ’n boog voor die bestuurder uit, ’n kenmerk wat jy nie aldag in kajuite teëkom nie. Die skerms is meestal plat soos ’n TV-skerm.

Die tweekleur-afwerkings in die kajuit met talle blinkswart-panele vertoon ook werklik treffend, terwyl die stomp rathefboom dadelik aantoon dit is ’n elektronies beheerde ratskakeling dié. Daar is nog ander ontwerptemas in die kajuit. Let op die T-vormige luginlate, terwyl die voorste sitplekke se rugleunings elk ’n haak het waaraan jy ’n kantoorbaadjie kan hang.

So lyk die reeks

Kia het nog geen inligting bekend gemaak oor enjinkeuses nie, asook watter kombinasies na Suid-Afrika gaan kom nie. Ons vermoed egter die meganika het nie verander nie. Daar sal steeds die 2.0-liter natuurlik-geaspireerde en 1.6-liter-petrolturbo beskikbaar wees, asook die 2.0-liter-turbodiesel, almal gekoppel aan ’n sesgang- (basiese modelle) of agtgang- outomatiese ratkas.

Ons verwag die nuwe Sportage vroeg volgende jaar in die land, met die reeks en pryse wat dan eers bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Sportage  |  Kia  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.