Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sportiewe T-Roc bied iets vir jonges

Volkswagen se nuwe T-Roc is in die grendeltyd aan ons voorgestel via ’n aanlyn bekendstelling, maar verlede week het ons eindelik die geleentheid gekry om hierdie Golf-gebaseerde sportnuts op die Overberg se lekkerste bestuursroetes te beproef.

Waar pas die T-Roc in?

Die T-Roc is gebou op dieselfde MQB-platform as die Golf, maar is ’n rapsie breër en ook effens korter as die Golf.

In die groep se sportnutsfamilie het ons dus die kleinste lid, die Polo-gebaseerde T-Cross, daarna die T-Roc, en dan die groter Tiguan en Touareg heel bo.

Interessant genoeg, ondanks sy groter lyf sit die T-Roc laer op die teerpad as die T-Cross danksy ’n laer grondvryhoogte. Dit nou omdat VW die T-Roc as die sportiewe nefie in die gesin wil aanbied, terwyl die T-Cross meer van ’n stofpadryer is.

Danksy die groter lyf bied die T-Roc wel heelwat meer ruimte binne en sy bagasiebak kan ook meer kiste Brut Rosé hanteer. Maar dis die T-Roc se uiterlike skoonheid wat die kopers moontlik vanaf die groter Tiguan gaan wegrokkel; hierdie sportnuts-buks het hope houding, asook ’n paar oulike ontwerpkenmerke – soos die wit, D-vormige LED-liggies onder in die buffer wat oranje flikker as jy wil draai.

Vir die glansryke T-Roc-kopers onder ons is daar 25 verskillende kleurkombinasies asook ’n verskeidenheid kleurvolle binneruime om van te kies.

Volkswagen se nuwe T-Roc is die partytjie-dier in die groep se groot sportnutsgesin.
Só lyk die reeks

Daar is twee turbo-enjins (1.4- en 2.0-liter) en twee afwerkingspakkette beskikbaar: Die T-Roc Design en die T-Roc R-Line.

Die R-Line is meer verrigting-gedrewe, terwyl die Design weer verskeie opsies vir mooi afwerkings en verpersoonliking bied.

Die 1.4-liter dien as intreemodel en is met ’n agtgang- outomatiese ratkas gekoppel.

Die tweeliter op sy beurt is die sportiewe nefie en kom met ’n sewegang- dubbelkoppelaar-ratkas en vierwielvastrap.

Gooi kole

Die T-Roc is heel lewendig, maar genadiglik was ons model ook toegerus met ’n selfstopfunksie. Toe ’n Prado vanuit nêrens voor ons opdoem, het die T-Roc vanself ankers gegooi nog voor ons kon reageer, en was almal ongeskonde.

Die selfstopfunksie vorm deel van die VW se I.Q. Drive-stelsel, wat ’n selfstuurfunksie insluit. Die kamera in die neus kan voetgangers en fietsryers identifiseer en ankers gooi, sou iets voor jou in die pad verskyn.

Op die oop pad voel die T-Roc se 1.4-liter turbo-enjin in kombinasie met die agtgang- outomatiese ratkas lekker lewendig en gedra hy homself mooi (danksy die blikbrein) om skerp draaie. Vir my is dit ’n goeie opsie omdat ek meestal kinders rondkarwei en graag ’n goeie grondpad of twee ry oor naweke.

Die vlagskip in die reeks met sy 2.0-liter-turbo, laeprofielbande en vierwiel-vastrap het gesorg vir verdere motor-fynproe, en dis asof die deurdringende lentereën gestuur is vir ekstra pret op die nat teer.

Hierdie model het ’n aptyt vir spoed en jy kan maar mielies gooi, want daar is elke moontlike elektroniese hulpstelsel wat jou mooi in jou spoor hou.

Daar is ook ’n verskeidenheid ritmodusse beskikbaar.

Onthou net dat die grondvryhoogte nie vreeslik hoog is nie, maar my mede-bestuurder re-ken jy sal ’n duik-trippie Mo-sambiek toe kan doen met hom, as jy bietjie lug uit die bande laat!

Die T-Roc kry VW se mooi digitale raakskerm binne. Vier ritmodusse en ’n seepgladde outomatiese ratkas laat hom soos ’n wafferse sedan oor die pad blits.
Wil ons een hê?

Beslis, maar die intreevlak model, sonder twyfel. Die feit dat die 1.4-liter se agtgang-’kas nie so glad is soos die dubbelkoppelaar-weergawe in die tweeliter-modelle nie, skeel my bitter min. Waar teken ek?

Meer oor:  T-Roc  |  Volkswagen  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.