Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sprinter vir digitale era

Die aflewering van pakkies en yskaste het pas die digitale era betree met ’n paneelwa wat eerder soos jou gesinsmotor voel as iets waarvoor jy ’n werkpak moet aantrek.

Mercedes-Benz het sy nuwe Sprinter-bussie pas in Nederland aan die wêreldmedia gewys, en te oordeel na die gemak waarmee ’n mens kan oorskakel van gesinsmotor bestuur na paneelwa ry, gaan die Sprinter vele bestelhandtekeninge kry.

Soos dit in die handelsvoertuigwêreld gaan, verander dinge nie te vinnig nie. Hierdie Sprinter met sy uitstaanneus en skoon flanke is maar die derde generasie in sy bloedlyn. Die huidige bussie het reeds in 2006 sy buiging gemaak.

Die voordeel is dat Mercedes nou ’n rits van sy tegnologieë wat jy voorheen net in ’n C-klas sou vind, in die paneelwa kon bou – tot voordeel van die operateur én die kêrel in uniform wat hom elke dag in middestede en op die lang pad moet bestuur.

Welkom! Ná 12 jaar is daar ’n nuwe Sprinter-bussie op die pad. Oorsee is hy in ’n toerbus, bakkie en gewone paneelwa met verskeie dak- en asafstandkonfigurasies te kry.

Wat bied hy?

Die nuwe Sprinter is oorsee in verskeie bakwerkvorms beskikbaar. Daar is ’n kort-, medium- en langasmodel, asook ’n gewone dakhoogte en ’n ekstra hoë dak. Laasgenoemde bied jou byvoorbeeld 17 m3 laaivolume.

En dan kan jy jou Sprinter ook as ’n bakkie (met ’n plat laaibak wat bo-oor die wiele strek) of toerbus bestel.

Die groep se tweeliter-turbodiesel dryf al die Sprinters aan, maar jy kan wel kies tussen die kragvlak van die enjin, asook of jy ’n sesgang-handratkas of ’n
negegang- outomatiese ratkas wil hê.

Laasgenoemde ratkas is een van die gesinsmotor-kenmerke wat oorgebring is, aangesien dit dieselfde ratkas is as wat jy in jou C-klas sal aantref. Die ratverhoudings is wel aangepas om by dié van ’n vragdraer te pas.

Daar is nou ook ’n voorwielgedrewe model te kry met ’n laaivloer wat 8 cm laer is. Sommige modelle kan 5,5 ton dra.

Slim kenmerke

Ongelukkig kon ons nie die toerbus ry nie, net die bakkie- en die paneelwa-weergawe. Wat danksy die bekendheid van al die stelsels wat jy reeds in die vervaardiger se gesinsmotors sal aantref, nie juis ’n probleem was nie. Die wa laat jou tuis voel soos klompe op ’n polder.

Hiervan is die grootste aspek seker die Sprinter se nuwe digitale instrumentpaneel. In sy mees basiese (en dus goedkoopste) vorm behels dit weliswaar net ’n gewone instrumenthuls voor die bestuurder met ’n toere- en spoednaald voor jou.

Maar die duurder Sprinters kry ’n breë, digitale paneel wat tot in die middel van die voorpaneel strek. Die groot skerm huisves die trukamera en satnavstelsel, onder meer, en word als met ’n draaiknop beheer.

Afgesien daarvan dat die skerm se beelde lekker groot is, veral as jy jou bus tru moet ry in ’n smal ruimte, is sy ander sterk punt dat ’n slim interaktiewe program nou gelaai is.

Dink daaraan as jou denkbeeldige vriend wat jy met stembevele en -vrae kan nader vir raad, aanwysings en oplossings.

Die stelsel word geaktiveer deur “Hei, Mercedes!” hardop te sê.

Dit volg jy dan op met ’n vraag of stellings, soos “Ek’s honger”, waarna hy al die restaurante in die omgewing op die skerm sal aandui.

Nog ’n kenmerk is dat die stelsel ook jou gedrag aanleer. Byvoorbeeld, sou jy soggens na ’n bepaalde radiostasie luister en ’n sekere roete gereeld neem, sal hy met die volgende aanskakel reeds daardie stasie aktiveer en jou satnav-roete op die skerm wys.

Die groot digitale skerm kom net in die duurder modelle voor. Dit is ’n slim en nuttige toevoeging. Benewens die groot inligtingskerm is daar ook ’n interaktiewe “persoon” aan wie jy algemene vrae kan rig oor onder meer rigting, brandstof en restaurante.

Maar kan hy darem ry?

Ons het die groot Sprinter op snelweë en in die kleinste woonbuurtstrate beproef, en die bus voer sy taak op ’n drafstap uit.

Die enjin voel lewendig terwyl iets prakties soos ’n blindekolgonser wat waarsku teen voertuie skuins agter jou as jy van baan wil verwissel, altyd ’n nuttigheid is. Ek het ook gehou van die vier kamerabeelde reg van bo af wat ’n beeld rondom jou voertuig wys. Dis nuttig met parkeerwerk in smal ruimtes.

Die sitplekke is gemaklik en taamlik regop, sig na voor en die kante is goed en die handrathefboom is lekker hoog in die voorpaneel geplaas.

Slotsom

Voorkomsgewys het die Sprinter nie te veel verander nie. Maar danksy ’n nuwe voorwielgedrewe model is dié weergawes se laaivloer met 8 cm verlaag – nuttig vir swaar items se in- en uitlaai.

Die hoogtepunt is sekerlik die moderne binneruim, waar die blikbrein jou vrae in ’n kits beantwoord. En als soos ’n bekende gesinsmotor voel.

Die nuwe Sprinter is vroeg in 2019 op pad.

Meer oor:  Mercedes-Benz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.