Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Staan weg Fortuner, hier’s die Terra!

Terwyl Ford-, Mitsubishi- en Toyota-ondersteuners ’n puik keuse het van hardebaard-sportnutse wat op hul onderskeie bakkies gebou is, moes Nissan-aanhangers maar droëmond sit sedert die Pathfinder die wyk geneem het.

Maar nou’s daar weer goeie nuus, in die gedaante van die vervaardiger se X-Terra, wat hy pas oorsee opgeknap het. Nissan wil die varsgesig-X-Terra so teen middel volgende jaar na Suid-Afrika bring, juis om hierdie groeiende segment van fris sportnutse aan te vat.

Die X-Terra is op die nuwe Navara-bakkie geskoei, maar sal in Suid-Afrika as die Terra bemark word. Net soos die Toyota Fortuner , Mitsubishi Pajero Sport en Ford Everest sal die Terra ook op Nissan se eentonbakkie gebaseer wees – in sy geval die nuwe Navara. Maar wel darem ook met kronkelvere agter, en nie die bladvere wat bakkies benut nie.

Die Terra sal ’n lekker sewesitplekker wees met die agterste twee sitplekke wat individueel kan platslaan sou jy ’n plat laaivloer wou hê.

Oorsee praat Nissan van slegs ’n 2,5-liter- natuurlik geaspireerde enjin, maar ons verwag dat die groep darem sy fris nuwe 2,3-liter-turbodiesel vir ons mark sal bied. Dis dieselfde enjin as wat die Navara ook mee sal ry.

Nie lus om nog ’n wit Fortuner op die hoofweg te wees nie? Nissan se nuwe Terra is volgende jaar hier – sy hardebaard-sportnuts geskoei op die Navara.

Die enjin is in twee kragvlakke te kry, 120 kW vir die enkelturbo- en 140 kW vir die biturbo-model.

Ander tegnotruuks wat die Terra met die hardebaarde sal laat saamgesels, is ’n 4x4-aandryfstelsel, ’n laestrekratkas en ’n elektroniese sluitewenaar op die agteras.

Interessant genoeg sal die Terra ook die kamera-truspieëltjie hê wat pas in die nuwe Land Rover Defender gedebuteer het. Die stelsel laat jou toe om die spieëltjie as ’n gewone spieël te gebruik of as ’n kamerabeeld. Die nut daarvan is dat daar kameras bo teen die agterkant van die voertuig geplaas is.

Wanneer jou pakkaas op die agtersitplek so hoog gepak is dat jy niks deur die agterruit kan sien nie, bied dié kamerabeeld dieselfde sig agter jou voertuig as sou jy deur die agterruit gekyk het.

Die kajuit is beslis meer gemik op ’n gesinsvoertuig-ervaring as die hardebaard-lewenstyl van ’n werkesel-bakkie.

In die binneruim sien ons dat Nissan ’n ander instrumentpaneel vir die Terra ontwerp het as wat in die Navara te kry is.

Daar is ’n groot raakskerm in die middel wat jou nutsfunksies huisves, plus ’n kleiner digitale skerm tussen die spoed- en toerenaald wat jou ritrekenaar se lesings wys.

Nog tegnologiese speelgoed vir die nuwe Terra sluit in ’n kamera agter wat jou waarsku teen aankomende verkeer as jy tru uit ’n parkeerruimte sou ry, ’n selfstop-funksie in stadsverkeer as die blikbrein vermoed jy gaan teen iets vasry en ’n gonser wat kan waarsku as jy op ’n voetganger of staande voertuig afpyl.

Met al die kameras in die Terra se bakwerk geposisioneer, bied sy inligtingskerm (benewens die gewone trukamera) ook ’n beeld van die voertuig van bo en al om die voertuig. Dis veral nuttig as jy op rowwe veldterrein versigtig moet ry.

Die pryse en spesifikasies van die nuwe Terra sal eers nader aan sy bekendstellingsdatum bekend gemaak word, sê Nissan.

Maar ons sien reeds uit na dié nuweling se koms.

Meer oor:  Motors  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.