Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Staatmaker van die Oosblok, da

In die hartjie van die Koue Oorlog was daar een staatmaker vir die gewone kameraad van die Oosblok: die hoekige, eenvoudige maar hoogs betroubare Wartburg 353.

Hans Fleischer se ontwerp vir die werkersklas se nuwe ryding in die vroeë 1960’s het die tendens van die era gevolg: ’n Fiat-sedan se voorkoms met ’n lang, plat enjinkap voor en lang, plat bagasiebak agter.

Maar in ’n ietwat revolusionêre streep het Fleischer sy tydgenote in die Weste een verborge middelvinger gewys. Daardie enjinkap se omvou-rande, wat vandag weer hoogmode by luukse rygoed soos die Range Rover Evoque is.

Die Wartburg 353 – te sien in jou naaste Oosblok-fliek as polisieryding.

Wartburg was ’n Oos-Duitse vervaardiger wat ’n mengsel van DKW- en ander onderdele benut het, tesame met ou tweeslagenjin-tegnologie en slordige afwerkings binne, om eenvoudige en basiese vervoer aan die werkers van Oos-Europa te verskaf.

Die 353 as ’n middelslag-sedan het gou stapelvoedsel geword, selfs al moes heelwat gesinne 10 tot 15 jaar wag alvorens hulle hul hande op een kon lê. Dit nou danksy die beheerde ekonomie van die kommunisme.

Die eerste 353 is in 1966 bekend gestel as ’n vierdeur-sedan. Later het ’n stasiewa gevolg, maar dié was nie werklik gewild nie. Daar was ook ’n bakkie-weergawe, maar aangesien ligte bakkies meer vir klein ondernemings geskik was – iets wat in die kommunisme ongehoord was – moes Wartburg dit eerder uitvoer na die Weste om dit hoegenaamd verkoop te kry.

Onder die enjinkap was ’n 1.0-liter-tweeslagenjin, fris genoeg om 40 kW en 100 Nm wringkrag na die voorwiele te stoot. ’n Viergang-handratkas het die krag beheer, en net soos die DKW’s van sy era het die motor ’n vryloopkoppelaar gehad wat jou toegelaat het om van rat te verwissel sonder om die koppelaar in te trap.

Aangesien die Wartburg 353 slegs 920 kg geweeg het, was verrigting nie te sleg nie. Sy groot sterkpunt was egter sy min bewegende dele, wat hom maklik onderhoubaar gemaak het.

Die vryloopewenaar se eerste doel was om enjinremming teen te werk, en sodoende brandstof- en olieverbruik laer te maak. ’n Mens kon die stelsel egter wel met ’n hefboom weer aktiveer sou jy enjinremming wou benut.

Vroeë modelle het die ou badkamerskaal-tipe spoedmeters gehad waar die naald dwars oor die instrumentpaneel beweeg het. Latere modelle is egter met moderner, ronde spoedmeters toegerus.

Verkope in die Oosblok was voortdurend sterk. Die staat het hom as ampsvoertuig vir al sy amptenare benut, en veral die polisie sal vandag nog in rolprente wat in die Oosblok afspeel, in hul ou Wartburgs gesien kan word.

Die vryloopewenaar se eerste doel was om enjinremming teen te werk, en sodoende brandstof- en olieverbruik laer te maak.

Enkele tegniese en binneruim-opknappings het deur die jare gevolg, maar reeds in die 1970’s het Wes-Europa besluit om die tweeslag-Wartburg op sy paaie te verbied vanweë dié tegnologie se dik borrels rook wat hy uitgestoot het.

Wartburg se ingenieurs het strykdeur probeer om moderner enjins te ontwerp, maar was nooit suksesvol nie. In 1984 het die Oos-Duitse vervaardiger dit reggekry om ’n kontrak met Wes-Duitsland se reus, Volkswagen, te sluit om sy Golf se inlyn-vier van 1.3-liter in sy voertuie te benut.

Danksy die Oosblok se berugte burokrasie kon die groep egter eers in 1988 sy eerste 1.3-Wartburgs na die mark bring. ’n Jaar later het die Muur – en kommunisme – geval en kon Oosblok-kopers skielik Westerse voertuie koop. En was dit die einde van die Wartburg-era – ’n enkele ontwerp wat vanaf 1966 tot 1988 oorleef het.

Meer oor:  Veteraanmotors  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.