Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Stadsbeplanners, kyk ’n slag na sirkel

Moet Suid-Afrika die roete van Europa volg en sy verkeersligte vervang met die moderne verkeersirkel? Marnus Hattingh weeg die voor- en nadele op.

In Suid-Afrika word die Vrystaatse myn-hartland van Welkom as die pionier van verkeersirkels gesien.

As ’n relatief nuwe dorp in die land het sy stadsbeplanners vrye teuels gehad om sy uitleg so te beplan dat dit die toekomstige verkeersvloei ten beste sou dien.

Vandag vloei Welkom se verkeer sonder ruk of stoot, danksy breë boulevards en opeenvolgende sirkels.

Ook oorsee, veral in Europa, word daar die afgelope dekade of twee fluks weggedoen met groot verkeerskruisings en verkeersligte. In die plek word sirkels opgerig – vanaf die klein sirkel wat die plek van ’n ou T-aansluiting inneem, tot die dubbelweg-sirkel en die moderne geligte sirkel waar die sirkel bo-oor die snelweg staan.

Verkeersirkel

Die kruising se kruis

Maar wat is die probleem dan van ’n tradisionele robotkruising?

Kritici sê dit kan verkeer vir die grootste gedeelte van die dag inderdaad meer ophou as wat dit dit laat vloei. Omdat robotte nie kan sien nie, moet hulle in siklusse geprogrammeer word om die verkeer te reguleer. Maar, dit kan steeds gebeur dat hoewel daar geen kruisverkeer is nie, jou verkeerslig rooi skyn sodat jy moet wag.

Dit is juis een van die achilleshiele van die robotkruising: Sy vermorsing van tyd en brandstof, as voertuie onnodig moet talm.

’n Tweede probleem wat verkeersligte bied, is hul hoë risiko vir ongelukke.

Volgens ingenieurs dra verkeerskruisings 24 moontlike kontakpunte waar voertuie teen mekaar kan bots. Wat dit erger maak, is die spoed waarteen voertuie bots. Wanneer iemand deur ’n kruising ry, doen hy dit teen 60 km/h.

Die botsing is dus maklik noodlottig, as twee voertuie reg van voor teen dié snelheid in mekaar vasry.

Dan is ’n derde nadeel wat verkeerskruisings inhou, hul afhanklikheid van krag. Beurtkrag of kabeldiefstal kan robotte dus in ’n oogwink neutraliseer.

G’n sirkel-redenasie

Verkeersirkels bied op hul beurt verskeie voordele – mits dit reg ontwerp is. Die geheim lê in die grootte van die sirkel, en die hoek van die toegangspaaie.

Hoe groter ’n sirkel is, hoe meer tyd is daar vir die volgende voertuig wat wag om die sirkel binne te gaan om ’n gaping te vind. Dit beteken voertuie wag minder by die aansluitingspunt, wat verkeersvloei verbeter.

Die hoek van die toegangspad speel ook ’n belangrike rol. As die toegangspad ietwat skuins by die sirkel aansluit, pleks van loodreg soos van ouds, kan ’n motor vinniger en makliker by die bestaande vloei binne die sirkel aansluit.

Dit is egter nie net maanskyn en rose vir verkeersirkels nie. Die groter oppervlakte beteken meer grond is daarvoor nodig, wat die prys van ’n sirkel opjaag. Dit is ook duurder om ’n sirkel te bou as om ’n reghoekige kruising met verkeersligte op te rig. Meer ingenieurswerk en beplanning en bane is nodig, byvoorbeeld.

Sirkels het ook ’n swakplek, naamlik spitsverkeer. ’n Stroom aankomende verkeer kan maak dat ’n baan van aansluitende voertuie nie die sirkel kan binnegaan nie. ’n Robot dwing op sy beurt voertuie om stil te hou, en kans vir die ander bane te bied.

Sirkels help wel met veiligheid en omgewingsbesoedeling. Botsings geskied nie loodreg nie, en ook teen ’n stadiger tempo, wat die impak verlaag. Omdat voertuie stadiger ry in ’n sirkel, en nie hoef weg te trek nie, verbruik hulle minder energie en blaas dus minder gasse uit.

Die pad vorentoe

Motoriste sal wel beter opgelei moet word hoe om verkeersirkels te hanteer. Een van Suid-Afrika se dilemmas is sy twee soorte sirkels wat jy in woonbuurte aantref. Ons het enkele gewone sirkels, maar dan is daar ook talle mini-sirkels, wat pleks van die gewone toegee-na-regs-stelsel eerder soos ’n vierrigtingstop werk. Dit kan verwarrend vir motoriste wees.

Sirkels met twee bane kan ook verwarrend wees wanneer ’n motoris die sirkel moet verlaat.

Ingenieurs beklemtoon egter die langtermynvoordele van sirkels bo dié van robotte. Dis duurder om ’n verkeersirkel te bou, maar oor die lange duur beloon hy die gemeenskap met skoner lug, laer brandstofverbruik, vinniger verkeersvloei en geen instandhoudingskoste of afhanklikheid van elektrisiteit nie.

Kom ons hoop ons dorpe en stede begin ál meer van verkeersirkels gebruik maak by hul kruisings en T-aansluitings.

Meer oor:  Motors  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.