Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Statig, tot op ’n punt

Mercedes se intreevlak-C-klas-koepee en -kabriolet, die C200, is pas opgeknap. Egmont Sippel skryf.

Mercedes se intreevlak-C-klas-koepee en -kabriolet.

Die jaarlikse gemiddelde temperatuur in Stuttgart, Duitsland, is 9,3 °C.

Hoekom sou ’n motorvervaardiger in hierdie streek dan kabriolette wou bou?

Wel, júis omdat die weer in’t algemeen so gematig is. Op ’n ordentlike somersdag wil jy ieder geval nie jou kar se dak afslaan as die Afrika-son soos ’n inferno in die hemel hang, gereed om jou te verkool nie.

Jy soek eerder ’n sagte Stuttgartse somerson vir luilekker ritte deur die Duitse platteland of bietjie saagwerk deur die Swartwoud se kronkels.

Dis einste die rede dat Stuttgart se ander vermaarde vervaardiger, Porsche, ook soveel kaalkopwaens lewer – die Boxster en vele 911 Cabriolet-variante – sodat jy terselfdertyd in kontak met die pad én die natuur kan wees.

Hierin skuil dan ook die twee groot redes hoekom koepees en kabriolette wêreldwyd gewild is. Tweedeurmotors roep eenvoudig drome van la dolce vita op; sportiwiteit, as die spoedgeen in jou bloed ronddryf, of rustige romanse, as jou idee van la dolce vita-skemerkelkies teen sononder is. Noem dit onderskeidelik die Fangio- en die Casanova-geen.

Ieder geval kan jy ’n antwoord in Mercedes-Benz se vuurwa-arsenaal vind. Selfs die magtige GT, oorspronklik as ’n koepee gebore, word in kabriolet-vorm aangebied.

Noem hom sommer die Mercedes-AMG GT Roadster, maar hy’s ongelukkig nie op vandag se besprekings-agenda nie. Vir die GT C Roadster (410 kW/680 Nm) betaal jy hoeka ’n koel R3 miljoen. Dis geld waarvoor jy ook Merc se fabelagtige AMG G63 Edition 1 moet oorweeg, die kubus-op-wiele wat die Geländewagen se stamboom voortsit.

Daal egter nou uit die hemele tot op die bergspitse van Benz se goedkoopste koepees en kabriolette af, en die intreemodel, die C200 Coupé, begin steeds by R702 000 – vóór opsies.

En net ter verheldering: ál Benz se kabriolette, die GT Roadster ingesluit, is sagtekappe. Dit nou in weerwil van die moderne neiging om afslaankapmotors met ’n wegvoubare hardekap te bou, soos byvoorbeeld BMW se 4-reeks-Convertible.

Enjin

Sowel die C200 Coupé as die C200 Cabriolet word deur Benz se relatief nuwe M264-viersilinderbron met dubbelfase-turbokrag gedryf, in hierdie geval die E15-variant van die M264-enjin, wat beteken dat die slagvolume net 1 497 cc is, oftewel 1.5 liter. Dit nou in teenstelling met die M264 se E20-variant, wat 1 991 cc, oftewel 2.0 liter, verplaas.

Die C300 Coupé en Cabriolet, terloops, kry die 2.0-liter-viersilinderturbo, terwyl die C43-weergawe uit ’n 3.0 liter-V6 na al vier wiele dryf; ’n lieflike enjin, hierdie V6, vir ’n lieflike motor.

Van buite beskou is intreevlakmodelle egter ewe lieflik, maar dis uiteraard onder die enjinkap waar noemenswaardige verskille intree. Want kyk, ’n 1.5-liter kan eenvoudig nie met ’n 3.0-liter vergelyk nie; dis mos net logies. Ewenwel is dit logies dat die C200 met ’n 1.5-liter-viersilinderturbo “net” 135 kW/280 Nm lewer teenoor 190 kW/370 Nm uit die C300 se 2.0-liter-viersilinderturbo – en “net” is in aanhalingstekens, want 135 kW uit ’n 1.5-liter is baie, turbo of te not.

Dit nou alles vergeleke met die C43 V6 se 287 kW/520 Nm.

Dis groot verskille wat ook deur steil prystoenames verteenwoordig word: R702 000 vir die C200 Coupé; R808 000 vir die C300 Coupé; en R1,045 miljoen vir die C43 Coupé.

Tel in alle gevalle meer as R120 000 vir Cabriolet-weergawes by. Benewens twee ekstra silinders plus ekstra slagvolume voeg die C43 darem ook alwieldryf by die vergelyking.

Maar hier’s iets wat jy nooit uit syfers op papier kan aflei nie: die V6 se ekstra klank. Hy klínk soos ’n kragtige, sportiewe motor.

Die V6 se ekstra klank: Hy klínk soos ’n kragtige, sportiewe motor.

Klankbaan

Die viersilinders?

Nou ja. Die 2.0-liter klink klaar baie beter as die viersilinderturbo met direkte petrolinspuiting wat tien jaar gelede in 2009 se nuwe E-klas gedebuteer het.

Maar die 1.5-liter verhoog ongelukkig ’n kenmerk wat in ’n mindere of meerdere mate afbreuk aan alle kleiner Merc-bronne doen, naamlik dat hulle redelik dun aan klank is, in die 1.5-liter se geval soos ’n klaende eierklitser met ’n asemtekort as jy die enjin opwen.

Verrigting is nie sleg nie. Uit rus haal die C200 Coupé 100 km/h in omtrent 7.7 sekondes voor hy teen 240 km/h ophou versnel.

Die kabriolet, wat ’n goeie 140 kg swaarder is, se dienooreenkomstige syfers is 8.5 sekondes en 235 km/h.

Vir ’n 1.5-liter is dit uitstekend.

Maar is dit goed genoeg om vir die dun, angstige klankbaan en ’n prys van omtrent ’n driekwartmiljoen bokke te vergoed?

Middellewekuur

Wat die hersiene C-klas-koepee/kabriolet bied, is ’n pragtige motor wat uiteraard op die C-klas-sedan gegrond is, maar met ’n pens 15 mm nader aan’t pad.

Daarby word Mercedes se sogenaamde AMG Line-afwerkingspakket as standaard aangebied. Dit sluit ’n rooster vol klein metaalknoppies in, asook 18”-allooie. Die toetsmotor was met opsionele 225/40-R19- en 255/35-R19-Conti Sport Contact-rubber uitgerus en ons keer weldra terug na daai profielsyfers – 40 voor, 35 agter.

Ander kuurdetail sluit nuwe LED-kopligte as standaard in, plus nuwe buffers voor en agter.

Onses insiens kan mens ’n muntstuk opskiet om te besluit wat die mooiste van buite lyk: die uitgaande of die gepoetste weergawes. Maar waaroor mens nie kan twyfel nie, is kajuitopknappings.

Die nuwe 9G-Tronic-outokas werk ook puik.

Kajuit en opsies

Bo-aan die lys is die middelkonsole se pragtige (opsionele) nuwe houtpaneel plus ’n nuwe platboomroer. Benz se stuurwiele is, nes hul sitplekke, van die bedryf se allerbeste, sowel visueel, as wat gebruik betref; die roere se vorms, materiale, greep en groottes is prima.

Rolskakelaars einste op die gekuurde C200 se stuurwiel (in na-aping van Audi, wat dit al hoe lank gebruik) werk goed en die gemoderniseerde infoskerm spog met pragtige grafika, indien nie met ewe kordate werking nie. Party funksies, soos die soeke na radiostasies, is moeilik om met die hand te doen as jy nie vooraf weet hoe nie; op intuïtiewe vlak ontbreek die logika om die stelsel daar en dan uit te pluis.

Vir R11 000 ekstra kan jy egter ’n groter digitale skerm laat installeer.

Nog opsionele ekstras sluit verlengarms vir voorinsittendes se veiligheidsgordels in wat natuurlik uiters handig in tweedeurmotors met hul langer deure en daarom ver-na-agter-geplaasde B-pilare is.

En ja, dan kan jy in die elektroniese wondere van die moderne motorwese belê en stelsels soos Driving Assistance vir ’n verdere R36 000 aanskaf – en, en, en . . .

Verbruik, dinamika, stuur en ratkas

Solank enjintegnologie van vergelykbare vlak is, sal ’n motor met ’n 1.5-literbron uiteraard goedkoper as dieselfde een met ’n 2.0- of 3.0-literbron wees.

Benewens koste het “downsizing” natuurlik ook met verbruik, en derhalwe uitlate, te make. Mercedes se amptelike verbruiksyfer vir die C200 Coupé is 6,8 liter/100 km, maar in die werklike lewe is die syfer nader aan 8 tot 9 liter/100 km, afhangend van hoe hard jy ry.

Span egter die Casanova-geen meer as die Fangio-geen in, en jy kan sowat 750 km uit die C200 Coupé se 60-liter-tenk trek; die swaarder Cabriolet sal 100 km of 150 km minder lewer.

Span weer die Fangio-geen deur bergpasse in, en die C200 sal jou verras, eerstens met verrigting – sterk op die remme, vinnig uit draaie uit – maar ook met hantering. Laasgenoemde is uiters neutraal, ook omdat die onderstel véél meer krag as ’n viersilinder s’n kan hanteer.

Mercedes se elektries ondersteunde stuurstelsels lewer van die beste, maklikste en lekkerste wielbewegings in die ganse motorbedryf, veral teen lae snelhede, maar ook as mens Sport of Sport+ kies. Dit beteken nie dat jy ’n stortvloed terugvoer moet verwag nie, maar die gewig waarmee Benz-roere belaai word, is te alle tye omtrent so glad en goed soos kan kom.

Die nuwe 9G-Tronic-outokas werk ook puik, buiten dat hy – met die afrat – nogal in die onderste twee gange kan instamp voordat jy tot stilstand kom.

Swakpunte

Wat ons by die motors se twee gebreke bring, die een triviaal, die ander ernstig.

Die agterkajuit is, eerstens, ruimtelik beperk en die laairuim loop allermins van pakplek oor. Maar daarmee kan koepee- en kabrioletkopers seker saamleef, as die motor hoogstens twee volwassenes of ’n egpaar met twee kleintjies gaan vervoer.

Die probleem is egter ritgehalte, wat in die C200 Coupé/Cabriolet ’n fieterjasierige onrustigheid kweek. Geen 1.5-liter-motor is waarlike Fangio-materiaal nie. Benz moet dus van ferme veerinstellings op hul intreevlak-C-klas-koepee en -kabriolet vergeet, veral daar die motors boonop op paprybande met harde sywalle leef.

Waarvan jy as koper weer moet vergeet, is opsionele 19”-wiele met hul plat 40- en 35-profiele waarna vroeër verwys is. Spesifiseer 18”-wiele en klaar.

Dis jou beste kans om ’n goeie, aantreklike pakket met ’n mate van aanvaarbare ritgehalte af te rond. ’n Koepee of kabriolet met ’n 1.5-liter-enjin, mense, is Casanova-wiele. Jy wíl hom nie eens hard ry nie, want dan skree hy te veel.

Nee. Jy wil hom eerder stadig en statig ry sodat jy ook lekker na la dolce vita kan vry.

  • Pryse: Mercedes-Benz C200 Coupé/Cabriolet – R702 000/R837 000.
Meer oor:  Mercedes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.