Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Stellantis hou eers Alfa, Lancia

Die baadjiedraers van die nuwe Stellantis-groep, wat geskep is met die samesmelting verlede maand van Peugeot (die PSA-groep) en Fiat (die FCA-konglomeraat), het die sluier gelig oor hoe hulle hul premiumsegment- voertuie gaan hanteer.

Met die bekendstelling van die Stellantis-groep in Januarie het Carlos Tavares, voorheen Peugeot se grootbaas en nou hoof van Stellantis, gesê geen van die 14 handelsname wat onder die nuwe sambreel val, sal verdwyn nie.

Elkeen sal ’n kans gegun word om sy merk te maak op die markplein, alvorens ’n besluit geneem word.

Dit is veral goeie nuus vir Alfa Romeo en Lancia, want dié twee Italiaanse handelsmerke – ikonies soos wat hulle mag wees – verkoop nie juis die wêreld aan die brand nie. Daar was dus vrese dat hulle in die slag sou bly in ’n poging om groter sinergieë te skep.

Citroën gaan voortaan saam met Alfa en Lancia die Stellantis-groep se weelde-handelsname wees. Die Franse het pas hul nuwe DS 4 onthul, ’n lieflike kompakte sportnuts wat aan die Mazda CX-5 herinner.

Verlede week, tydens die onthulling van die nuwe DS 4 (DS is Citroën se nuwe weelde-handelsmerk), het die Stellantis-baadjiedraers gesê DS sal saam met Alfa en Lancia die groep se nuwe weelde-portefeulje vorm.

Ander handelsname in die nuwe, groot stal is natuurlik Fiat, Chrysler, Dodge en dan die PSA-familie se Peugeot, Citroën en Opel.

Die Stellantis-plan is om bepaalde enjins en ratkaste vir DS, Lancia en Alfa se eksklusiewe gebruik te reserveer.

’n Opel of Peugeot sal dus nie met daardie enjin toegerus word nie.

Dieselfde geld nuwe tegnotruuks, wat die groep nie by die naam wou noem nie. Maar ’n mens dink aan items soos monitors en gonsers en aktiewe sport- of lugvering of silinderafsluiting as enkele items wat vir weeldemotors eenkant gehou kan word.

Daar is in dié stadium net een dilemma vir die Stellantis-groep en dit is tyd.

Om ’n nuwe voertuig te ontwikkel neem so vier jaar. Die deursyfer-effek gaan dus nog ’n rukkie neem alvorens hierdie besluite in die realiteit gesien kan word. Dis hoekom die nuwe DS 4 nog ’n suiwer Citroën is.

Al die projekte waarmee ook reeds begin is, sal voortgaan en na die mark gebring word oor die volgende twee of drie jaar.

Eers daarna sal die samewerking se vrugte gesien kan word.

Die samewerking behels ook dat ’n nuwe platform vir die weelde-drietal ontwikkel sal word. Al drie sal hom deel.

Interessant genoeg is dat Lancia, ondanks die feit dat hy net een model het (die Ypsilon, wat ’n Fiat 500 is) en dat dié motortjie slegs in Italië verkoop word, steeds meer modelle verkoop het verlede jaar as Alfa in die hele Europa. Alfa het wel groter en duurder voertuie, wat ’n laer volume verteenwoordig.

Dit sal wel iets wees om dop te hou: of Lancia later buite Italië bemark sal word, en in regterstuur.

Ons vermoede is, helaas, nie sommer gou nie.

Meer oor:  Mark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.