Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Stryd van die straatvegters

Laat verlede jaar het BMW die jongste generasie van die F750 GS en F850 GS in Suid-Afrika bekend gestel.

Waar die F850 GS, soos ’n mens van die GS-nomenklatuur kan verwag, ’n dubbeldoel avontuurfiets is, is die F750 GS meer van ’n pendelfiets.

BMW se nuwe F750 GS is ’n gemaklike pendelfiets met ’n rits moderne tegno-truuks.

Oor die hardebaard-F850 is daar al heelwat geskryf. Maar vir die doelgeboude pendelfiets wat die makker F750 is, het ek besluit om hom eerder teen sy direkte Japanse mededinger op te weeg, Honda se gewilde NC750.

My eerste indrukke was dat die BMW ’n meer tegnologies gevorderde ryding is. Ons toetsfiets het letterlik elke tegno-truuk beskikbaar gehad. Alles mooi en in volkleur vertoon op ’n groot tablet-tipe skerm. Die Honda daarenteen wys sy ritinligting op ’n ouskool-LCD-skerm.

Blink Stefaans

Aanvanklik het die BMW se stelsel om ’n magdom inligting op die skermpie te wys, ’n mens mateloos beïndruk. Enige inligting is op jou vingerpunt beskikbaar, en altyd leesbaar. ’n Rolmuis by jou linkerhand laat jou toe om tussen verskillende skerms te wissel, en jy kan dinge verstel soos die fiets se vering (Road of Dynamic), die rit-modus (Rain, Road, Dynamic, Enduro Pro) of selfs jou slimfoon en die luidsprekers in jou valhelm met die fiets koppel.

Die rits opsies en inligting is werklik omvattend. Verder bied die fiets sleutellose toegang, spoed-beheer, ABS-remme en vastrap-beheer (albei kan afgeskakel word) en handvatsel-verwarmers.

Hou egter in gedagte dat dit alles opsionele ekstras is – in ons toetsfiets se geval ’n fris R44 350 ekstra wat jy sal moet hoes.

Die Honda daarteenoor het minder inligting op die skerm gebied, maar tog alles wat ’n mens op ’n pendelfiets sou verwag. Al inligting wat ek gemis het, was die oorblywende reikafstand. Spoedbeheer sou ook welkom gewees het, maar dis nie iets wat jy baie sal gebruik as jy pendel nie.

Sit jy op die fietse, voel die Honda effens kleiner (die BMW is inderdaad bietjie langer en breër). Die Honda voel ligter en sy voetruste is effens hoër en nader aan die sitplek. Danksy ’n nouer gemaakte sitplek voor strek jou bene ook meer reguit en gemaklik af na die grond as jy stilhou.

Teen ’n veel billiker prys bied die Honda NC750 ’n stadsvriendelike rit met ’n paar slim, praktiese verpakking-oplossings.

Die BMW was net so gemaklik. Die sitplek is wyd en ondersteunend en selfs ná lang tye in die saal was ek nooit moeg of seer nie. Die opsionele verstelbare vering, wat jy in die ry kan verstel, doen baie om enige rit ’n heerlike ervaring te maak.

Op die pad het die Honda se hoër windskerm meer beskerming gebied, nie net teen die wind nie maar ook insekte. Die BMW het voelbaar meer krag as die Honda, met ’n meer entoesiastiese versnelling en ’n hoër topsnelheid, maar albei is meer as rats genoeg om die verkeer om hulle agter te laat. Nie een van die twee sal 200 km/h haal nie, maar albei is vinnig genoeg om jou toegesluit te kry. Wat verbruik betref, het die Beemer my 5,4 liter gebied, terwyl die Honda ’n veel suiniger 4,2 liter opgelewer het.

Afsaal

Die BMW bied ’n legio indrukwekkende tegno-truuks, maar in die verkeer gaan jou oë op die pad eerder as op die moderne inligtingskerm wees.

Die Honda het egter ’n verdere troefkaat: Teen R8 000 ekstra kan jy ’n outomatiese dubbelkoppelaar-ratkas kry, ’n opsie wat die Beemer nie bied nie. Dit bied ’n groot voordeel in die verkeer.

Die Honda se brandstoftenk sit ook onder die sitplek wat beteken dat hy nou ekstra bêreplek bied waar die tenk sou sit. Die ruimte is groot genoeg vir ’n valhelm, of ’n brood en tweeliter-koeldrank.

Tussen die twee fietse is die Honda ’n fris R40 000 goedkoper – dis meer as 2 500 liter se brandstof, wat jou 60 000 km se rygenot sal bied.

Dis moeilik om te sien wie die F750 GS se koper sal wees. Teen net R10 000 ekstra kan jy die kragtiger en veelsydiger F850 GS aanskaf.

As jy bloot ’n pendelfiets soek, is die Honda NC750 moeilik om te klop. Anders, kies die F850 GS en gaan verken oor die naweke ook die grondpaaie.

Meer oor:  Bmw  |  Motorfiets  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.