Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Stryd van die windtonnels
Mercedes het ’n wenresep bloot verder verfyn – hy jag Schumacher se kroon.

"Eenders, dog anders.” Of: “beproefde sjiek met ’n tikkie oorspronklike vernuftigheid”.

Wat klink soos daai “leefstyl­advertensies” op televisie waarvan g’n siel kan uitmaak wat hulle eintlik aan jou probeer verkwansel nie (gewoonlik lewens­versekering of lakseermiddels), verwoord ook die filosofie agter die ontwikkelinge rakende 2020 se Formule Een-motors. Dit nou veral die verwagte titelprotagoniste – Ferrari, Red Bull en Mercedes – wat almal verlede week hul nuwe strydwaens bekend gestel het.

’n Treffender klingelklankgreep sou wees “gister, vandag en môre.” Want met 2019 se tegniese bepalings wat onveranderd na 2020 oorgedra is; en ter afwagting van die radikaalste reëlwysigings in die sport se geskiedenis wat F1 tot in sy fondamente in 2021 gaan ruk, is die fokus op elkeen van vanjaar se motors die skaaf van 2019 se tekortkominge, terwyl daar terselfdertyd ’n parallelle ontwikkelingsproses aan volgende jaar se motors koorsagtig in die agtergrond woed.

Laasgenoemde teiken ’n doelbewuste klemverskuiwing na die najaag van lugvloei onderdeur in plaas van bo-oor en rondom die motors, in die soeke na ’n minder versteurde aërodinamiese volgstroom en dus makliker verbystekery – met ’n tans geraamde verlies van 3.5 sekondes per rondte.

Dit mag dalk klink soos die slagspreuk van ’n gesellinklub vir bejaardes, maar oud is dus vanjaar allermins koud en gevolglik sal die rondtetye van die uittredende geslag motors in hul swanesangjaar vir jare lank onoortref bly staan.

Die SF1000 – só vernoem na die eenduisendste F1-ren waarmee die Ferrari-vorstehuis in 2020 sal aantree – was die eerste van vanjaar se motors om die lig te sien. 2019 se SF90 was ’n ondeurdagte eksperiment, met die fatale genetiese flater van ’n konsep wat toegesien het dat pylvakke danksy ’n lae sleursyfer verorber word, dog skynbaar sonder inagneming van die gepaardgaande verlies van afwaartse druk sodra die stuurwiel gedraai word.

By die bekendstelling het die Ferrari-spanbestuurder, die Harry Potter-agtige Mattia Binotto, aan die media verduidelik dat die nuwe motor “ekstreme konsepte najaag.”

Die SF1000 se voorvlerk, wat lugvloei oor die res van die motor stuur, was egter nog die SF90 s’n (vanjaar s’n is óf nog in die broeikas óf opsetlik uit die oog gehou), maar die doelwit vir vanjaar is doodeenvoudig: meer greep en die gevolglike voordeel van beter bandgebruik, ten koste van ’n effense laer topspoed (sleur en afwaartse druk is interafhanklik), wat meer strategiese opsies vir kuipestoppe teweegbring.

Geheime van die SF1000

By ál vanjaar se motors is die area tussen die voorwiele en die verkoelerinlate die een wat die meeste aandag van ontwerpers geniet het. Die bande, stuurarms en vering het ’n verwoestende uitwerking op die lugvloei oor die motor se vloer, wat op sy beurt deur die noukeurige plasing van vinne en vlerke dié versteurde lug moet herstel en oor sy oppervlak agterwaarts kanaliseer.

Daarom is die SF1000 se verpakking van sy verkoeler-area nóg kompakter as vantevore om die vloeroppervlak te vergroot en maksimaal te benut. Eksperimentering met hoër enjintemperature en verwante vloeistowwe het ook daartoe gelei dat verkoelers – self ’n bron van die gehate sleur – elke jaar al hoe kleiner word om verdere verpakkingsvoordele te bied.

Die SF1000 is ook toegerus met ’n paar horings bo-op die enjin-inlaat om die stroom lug bo-oor die enjinkap en agtervlerk te stabiliseer, terwyl bloot deur assosiasie ’n mens eerder sou verwag om ’n paar horings op die Red Bull-Honda RB16 te sien.

Intussen, by Red Bull ...

Dié span – eens op ’n tyd die vernuftigste aëro-goëlaars wat vir Sebastian Vettel vier opeenvolgende titels besorg het – het die afgelope paar jaar tot groot frustrasie al te dikwels by Melbourne opgedaag met ’n weifelende aëro-konsep wat ’n handvol renne vat om klein te kry. Gebeur laasgenoemde mettertyd wel, dan is die kampioenskap reeds lankal buite bereik – en dáárop sal daar ook vir 2020 gekonsentreer word.

Die enkele foto wat aan die media bekend gestel is, dui op nuwe detail rondom die RB16 se snoet en verkoeler-area om sylangse lugvloei te manipuleer; asook dat net soos Ferrari die Red Bull se verpakking knapper is as ’n afgeblaasde, uhm, bul in ’n skoendoos, wat druk op Honda sal plaas om ’n betroubare enjin te lewer wat met beperkte verkoeling kan klaarkom.

Maar Stuttgart sê

Die heersende kampioen, Mercedes-Benz, het die W11 op Valentynsdag bekend gestel. Stuttgart se liefdesverhouding vir dubbele jaers- en vervaardigerstitels is sedert 2014 onwrikbaar – en jammerlik grootliks ongetoets.

Danksy die afwesigheid van enige konsekwente opposisie in 2019, kon hulle tóé al betreklik – en onheilspellend – vroeg aan vanjaar se motor begin beplan. 2019 se W10 was konseptueel lynreg in teenstand met sy Ferrari-eweknie: ’n draai-demoon, maar ’n donkie op die pylvakke. En moenie die fiasko van Oostenryk vergeet nie, toe hulle plase vol punte weens ’n onvoldoende verkoelingsontwerp moes prysgee.

Dít is alles aangepak in 2020 se motor, gevolglik kan Mercedes by énige van vanjaar se bane sonder ’n hol kol in die maag opdaag.

Die Mercedes se opmerkbaarste verfynings is ook meestal rondom sy sye, sowel as die uitleg van die vering om lugvloei beter te benut. Laasgenoemde is nou só gekonfigureer dat die neus van die motor outomaties nader aan die pad beweeg wanneer ’n ekstreme stuurhoek teen lae snelhede gebruik word, om die voorste aërodinamika harder te laat werk.

Lewis Hamilton se teiken is nie vanjaar om Charles Leclerc of Max Verstappen se nat oortjies droog te vryf nie. Sy silwer kruisboog is op die sterre gerig, en spesifiek dié van Michael Schumacher se rekord van sewe jaerstitels.

Stabiele reëls en die wet van dalende opbrengste bepaal wel dat Mercedes se voordeel oor Ferrari en Red Bull kleiner as vantevore sal wees. Die belofte van ’n skouspelagtige kampioenskap hang egter daarvan af of laasgenoemde twee spanne vanuit die staanspoor sélf die pas gaan bepaal – en of hulle bloot sal moet aanhou probeer om Mercedes in te haal.

  • F1 se eerste voorseisoense toets het gister in Barcelona begin en duur tot môre. Vanjaar se eerste Grand Prix is op 15 Maart in Melbourne.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.