Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Subaru sit resep voort met sy XV
Is dit net ’n opknapping? Nee, dit is die splinternuwe Subaru XV, die Japanse groep se luikrug-stofpadtrapper. Foto’s: Quickpic

Subaru se rygoed bevind hulle in Suid-Afrika dikwels in ’n sytak van die hoofstroommark wat verkope betref. ’n Gebrek aan nuwe en vars modelle kan dalk deel van die probleem wees.

Dit is dus goeie nuus dat 2017 ’n redelik besige jaar vir Subaru is met ’n paar heel nuwe modelle wat bekend gestel gaan word, waarvan twee, die Impreza en XV-sportnuts, reeds hul verskyning gemaak het.

Vinkel en koljander

Die tweedegenerasie-XV is, soos voorheen, op die luikrug-weergawe van die Impreza gegrond. Sy pens is ’n entjie hoër van die grond af gelig en ’n paar ekstra tooisels buitelangs gee hom meer houding. Terloops, ons het nie die vorige model van die Impreza in Suid-Afrika gekry nie.

Alles egter in ag genome, lyk die XV se sagter lyne heel netjies, en kan dalk ’n kop of twee laat draai.

Die Impreza en XV word op Subaru se nuwe globale platform gebou. Hulle deel ook dieselfde normaal geaspireerde 2.0-liter-bokserenjin en CVT-tipe sewegang- outomatiese ratkas, asook Subaru se vierwielaandryfstelsel.

Van buite beskou

Die XV en Impreza is feitlik heeltemal nuut, al lyk dit in terme van die basiese ontwerp nie juis so nie. Inteendeel, die nuwe XV lyk meer soos ’n opknapping as ’n nuwe model.

Alles egter in ag genome, lyk die XV se sagter lyne heel netjies, en kan dalk ’n kop of twee laat draai.

Die Impreza is ook ’n aantreklike voertuig, maar sy algehele voorkoms laat ons meer koud as in die XV se geval.

Die Impreza lyk nogal sportief, maar sy enjin laat hom in die steek.

As jy inklim

Waar die veranderinge aan die buitekant jou nie heeltemal omboul nie, lyk dinge binne opwindender. Die XV en Impreza lyk byna identies, van die deurpanele en sitplekke tot instrumente.

Die gehalte is ook ’n paar kerwe hoër met heelwat sagte oppervlakke, terwyl die sportiewe leersitplekke heel deftig lyk. Ons hou ook van die kontrasterende oranje stikwerk plek-plek in die XV se geval.

Die XV en Impreza het albei in hul onderskeie afmetings gegroei, maar ten spyte hiervan bied die XV steeds ’n klein bagasieruim van net 310 liter, ’n probleem waarmee die vorige model ook gesukkel het. Die Impreza se groter laairuim van 460 liter is darem meer bruikbaar.

Nie die XV of Impreza ly gebrek as dit by standaardtoerusting kom nie, met onder meer ’n sondak en satellietnavigasie wat ingesluit is.

Gee vet

Die 2.0-liter-bokserenjin, so genoem oor die horisontale plasing van die silinders, byna soos twee boksers in die kryt, is ook grotendeels nuut, maar baat nie veel as dit by krag kom nie (115 kW, 5 kW meer as voorheen; wringkrag dieselfde op 196 Nm).

Dit sal onregverdig wees om die enjin lui te noem, hy wikkel nogal in die stad en op die oop pad vaar hy ook nie te sleg nie, al gaan dit met ’n raserige geween van die CVT-ratkas gepaard.

Ons was ook beïndruk met die veiligheidstelsel op die XV, genaamd EyeSight, wat uitkyk vir gevare en die bestuurder waarsku of self tot aksie kan oorgaan.

Die CVT-ratkas bly maar ’n doring in die vlees. Hy bly steurend op die oor as jy hard lepel trap – en dit is nie ’n sportiewe klank wat ’n mens graag in motors soos die Impreza of XV sal waardeer nie.

Maar as jy gewoond raak aan die manier hoe die CVT-kas sy krag oordra en jou bestuurstyl daarby aanpas, is die ervaring agter die stuur glad nie onaangenaam nie.

Die XV en Impreza se ritgehalte is baie gerieflik met min pad- of windgeraas en die voertuie voel stewig geplant op die pad, deels danksy die vierwielvastrap waar die blikbrein die krag tussen die voor- en agterwiele verdeel.

Die XV se X-Mode-ritmodusknop kan jou ook in die veld uithelp deur die werking van die enjin, ratkas, 4x4-stelsel en remme te beheer.

Die grootste blerts op die voorruit is egter die louwarm enjin gekombineer met die CVT-ratkas.

Ons was ook beïndruk met die veiligheidstelsel op die XV, genaamd EyeSight, wat uitkyk vir gevare en die bestuurder waarsku of self tot aksie kan oorgaan. Die EyeSight-stelsel is ook in die Impreza te kry, maar nie in die model wat ons getoets het nie. Ons verbruik was 9,1 liter vir die Impreza en 8,3 liter vir die XV.

Wat dink ons?

Die XV sowel as die Impreza blaas nuwe lewe in Subaru se modelreeks. Wat gehalte, dinamika en verfyndheid betref, is groot vooruitgang gemaak, maar nie soveel aan die visuele front nie.

Albei dra ook swaar aan ’n stewige prysetiket, maar jy kry wel heelwat vir jou geld en die 4x4-stelsel laat hulle uitstaan onder hul mededingers.

Die grootste blerts op die voorruit is egter die louwarm enjin gekombineer met die CVT-ratkas.

Ons voel hulle verdien iets beter.

  • Pryse: Subaru Impreza 2.0i-S – R399 000; Subaru XV 2.0i-S ES – R439 000.
Meer oor:  Subaru  |  Toetsbestuur  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.