Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Suzuki se klein Vitara raak groot

So stil-stil is Suzuki besig om groot treë te gee in Suid-Afrika. Net nou die dag nog kondig hulle aan die groep is tans die sesde grootste verkoper in die land. Van agterna-drawwers tot saamdrawwers, kan jy maar sê.

Die pap ekonomie is natuurlik iets wat in sy guns werk. Suzuki spesialiseer in klein en sakpas gesinsmotors, voertuie wat in goeie tye nie werklik in aanvraag is nie. Veral nie ’n randspeler nie. Dis die Toyota Etiosse en Volkswagen Polo’s wat maar die meeste aftrek kry.

Nou, in ons nuwe normaal waar almal hul sente moet omdraai, tree Suzuki se stewige aanbod van sakpas motors sterk na vore.

Suzuki se klein Vitara bied nou ’n veel sterker koopaanbieding met sy nuwe 1.4-liter-turbo onder die enjinkap. Foto: Marnus Hattingh

Lekker langpad

Een van sy gewilde modelle is die Vitara, ’n kompakte sportnuts wat meer die lyf van ’n stasiewa as ’n nuts het, om die waarheid te sê. Die Vitara het verlede jaar nuwe lewe gekry met ’n nuwe 1.4-liter-turbo (103 kW, 220 Nm), wat die ou 1.6-liter- natuurlik geaspireerde enjin (86 kW, 156 Nm) vervang het. Soos jy kan sien, is die kragverskille dramaties, selfs met ’n kleiner slagvolume.

Die Vitara is hier met ’n keuse van ’n sesgang-handrat of ’n sesgang-outokas te kies, en ek het weer ’n slag met die outomatiese model kennis gaan maak in ’n tyd dat dié soort voertuie al meer op mense se radar verskyn.

Die voorkoms gaan my nie noodwendig laat wawiele maak nie. Waar die Ford EcoSport ’n mooi, regop voorkoms het en die Renault Captur, Mazda CX-3 en CX-5 en die Honda CR-V almal gewaagde lyne bied, lyk die Vitara maar soos die hoofseun in die skoolsaal.

Ek hou egter van die sleutellose toegang en die aansitknop, wat die inklim-en-wegry net soveel makliker maak. Plus, die selfskakel-gerief van die outomatiese ratkas.

Deesdae se Vitara het ’n langer lyf as vantevore, wat beteken hy’t ’n heel bruikbare laaibak. Twee volwassenes kan ook gerieflik agter inpas.

Die inligtingskerm se ikone is ’n raps te klein na my smaak, maar die stelsel bied wel ’n ingeboude trukamera wat heel nuttig is in vandag se dae waar ons by winkelsentrums in klein parkeergarages moet parkeer.

Die 1.4-liter-turbo is strate beter as die ou 1.6-liter. Daar is nou goeie krag vir wanneer jy wil verbysteek.

Die outomatiese ratkas het wel ’n trae aksie vandat jy jou voet plant totdat die rat haak en die krag jou vorentoe stu. My verbruik van net bokant 6,0 liter was straks nie die beste vir ’n klein sportnuts nie, maar steeds heel billik.

Afsaal

Die Vitara is vandag ’n lekker dorpsmotor met ’n ruim laaibak, lewendige verrigting en billike verbruik. Daar is goeie mededingers, egter, soos die bogenoemde lysie plus Volkswagen se puik T-Cross, en die Hyundai se Venue (maar dalk ’n bietjie kleiner). Teen net meer as R400 000 is hy wel nie die goedkoopste nie. Hy is dalk nie Suzuki se sterkste aanspraakmaker soos sy stadsbuksies nie, maar hy sal jou nie teleurstel nie.

Prys: Suzuki Vitara 1.4 GLX (out.) – R416 900.

Meer oor:  Motors  |  Suzuki
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.