Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Swede se antwoord is hul T6

Volvo se Mike Tyson in die sportnuts-gesin, die XC60 T6, benut ’n hele paar slim truuks om so subtiel as ’n Björn Borg-sweetband sy skouerspiere te span in ’n mark waar verrigting-waens al hoe meer kopers lok.

Met die rand wat verswak het, het ons mark in ’n nuwe rigting ontplooi. Daar is die meerderheid aan die onderkant, wat so R500 000 op die meeste sal bestee. En dan ’n kleiner, maar heel aktiewe groep boontoe wat bereid is om die hand diep in die sak te steek vir ’n spiertier-nuts.

BMW vul hierdie gaping met sy X4 M, Mercedes sit sy GLC Coupe AMG op die nodige bowwe, en Audi het sy SQ5.

Die Swede se antwoord is hul T6. Die groep het so tien jaar gelede ’n groot, maar slim stap geneem om al sy modelle waar moontlik met sy nuwe 2.0-liter-turbo toe te rus. Dis ’n viersilinder-enjinblok, en dieselfde blok is vir petrol- en dieselenjins gebruik. Dus, laer produksiekoste. Deur net met turbodruk te speel (hoër druk vir die topmodelle), kon hulle al die behoeftes die hoof bied van vorige eras se 1.8-liters en 3.0-liters, met een enkele enjin. Slim.

Noudat elektriese aandrywing op die horison is, vervaag hierdie strategie ietwat. Maar die tweeliterenjin is steeds die ruggraat van alle Volvo’s, sover.

In voorkoms dalk nie so flambojant as wat sy Duitse mededingers bied nie. Maar afwerkings binnelangs is uit die boonste rak, en die verrigting hou ook kers vas by die bestes. Foto: Marnus Hattingh

In die T6 se geval, waar jy werklike woema nodig het, gaan turbodruk egter nie die nodige kragsyfers oplewer nie. Daarom het Volvo se ingenieurs ’n blaadjie uit Volkswagen se boek geneem en die 2.0-liter met sowel ’n turbo- as ’n drukaanjaer toegerus. Die resultaat? Syfers van 235 kW en 400 Nm, wat nie net puik is nie, maar ook behaal word sonder om die enjin onder stres te sit.

Jy kan jou XC60 dus benut om ’n perde-sleepwa te haak, en langpad te toer sonder dat die enjin sal kla.

Ek het nou nie ’n tweetal voshaarperde agteraan my toets-Volvo gehaak nie. Maar so op sy eie draf die T6 darem lekker fluks. Daar is hope krag as jy die voet plant, en verbysteek was nooit ’n probleem nie.

Al wat jy moet onthou, is om die spaan agter die stuur so twee keer te tik om af te rat, en dan vet te gee.

In kombinasie met die enjintegnologie is die kajuit ook ’n visuele en sensoriese fees. Die groot raakskerm is vertikaal geplaas, en werk basies soos jou slimfoon met “bladsye” waartussen jy blaai. Funksies is ook in groepe gebondel. Die ikone is ook groot en maklik navigeerbaar.

As jy kan, let ook op hoe fyn is die afwerkings by die blink aansitknop en ritmodus se verstelknop (’n wiel wat jy draai).

My verbruik het in my toetstyd tot net onder die 8,0 liter gedaal, wat heel billik was. Groot sitplekke, sagte leer en ’n mooi, wit kontrasterende stikwerk het verdere luister aan die kajuit verleen.

Slotsom

Kyk, teen so R800 000 nog voor jy ’n paar ekstra opsies afgetik het, is die XC60 T6 glad nie goedkoop nie. Maar jy kry die topmodel in die reeks, en hiermee saam ’n Sweed wat vir ’n sneeustorm kan weghol as hy moet. Die Volvo is steeds die billike alternatief tot die immergewilde Duitsers.

Prys: Volvo XC60 T6 – R882 700.

Meer oor:  Swede  |  Mark  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.