Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Swiep deur die lug werk toe

Selfrymotors is die volgende ontwikkeling in persoonlike mobiliteit. Maar wat as jy kantoor toe kan vlieg – sonder om self te stuur? Marnus Hattingh delf dieper.

Uber het groot planne om selfrydienste met klein vliegtuigtaxi’s binne groot besige stede aan te bied. Nasa moet nou met sy kundigheid help om te kyk of dit prakties uitvoerbaar kan wees.

Die nuwe konsep in persoonlike vervoer is al wyd bekend. Verskeie tradisionele motorvervaardigers maar ook nie-tradisionele groepe, soos Google en Uber, is reeds besig om selfrymotors te ontwikkel.

Dit wil sê ’n voertuig wat geen bestuurder benodig nie en een tot vier persone kan oplaai en van huis na werkplek vervoer.

Die voordele is legio. Selfrymotors maak minder ongelukke, is die teorie, want die bestuurder let te alle tye op en raak nie dronk of vaak agter die stuur nie.

Dit bied ook die insittendes die geleentheid om tydens die rit op hul skootrekenaars te werk, soos jy reeds in ’n trein, bus of trem doen.

Voeg hierby dat so ’n voertuig battery-aangedrewe is, skakel jy geraas- en lugbesoedeling ook uit.

Terwyl vervaardigers hard aan elektriese en selfrymotors werk, is enkele groepe ook besig om ’n tree verder te kyk: na lugvervoer, op dieselfde model geskoei.

Die gedagte is dus dat jy soggens, pleks van om saamrygeleentheid met ’n selfrymotor via ’n app op jou slimfoon te bestel, eerder ’n selfryvliegtuig nader wink. Dieselfde beginsel, maar net luglangs.

Die elektriese aandrywing is om enjingeraas teen te werk. ’n Tradisionele helikopter of vliegtuig met ’n spuitenjin maak ’n onaardse geraas, en sal nie in ’n binnestedelike omgewing deur owerhede toegelaat word nie.

Dit is wat die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa en die saamrygeleentheidsdiens Uber nou in die oog het, as ’n mens na sy jongste verklaring kyk.

Uber sê hy het emmersvol data oor gewone pendelritte wêreldwyd versamel. Nasa is op sy beurt weer gemaklik om met groot data te kan werk, soos om dit in simulasies te toets.

Die plan is nou dat Nasa se ingenieurs verskeie simulasies van ritte soggens en saans met klein selfbestuur-vliegtuie in Dallas se lugverkeer moet naboots.

Die gedagte is om te sien hoe erg dit die bestaande lugverkeer affekteer, en of so ’n plan hoegenaamd kan werk.

Uber se droom is om klein lugtaxi’s of -bussies te bou wat vier passasiers kan vervoer. Dit moet met slegs ’n elektriese motor toegerus wees, en moet vertikaal kan opstyg en land.

Ideaal dus om soggens in jou voortuin te land en binne ’n paar minute by jou werk se voordeur te wees.

Die elektriese aandrywing is om enjingeraas teen te werk. ’n Tradisionele helikopter of vliegtuig met ’n spuitenjin maak ’n onaardse geraas, en sal nie in ’n binnestedelike omgewing deur owerhede toegelaat word nie.

Vir dié doel het Uber die slim ouens by Embraer genader om te help. Embraer is ’n Brasiliaanse vliegtuigvervaardiger wat veral spesialiseer in kleiner vliegtuie.

Die groep het ’n spesiale afdeling van ingenieurs en planmakers wat hulle net op nuwe, ongewone projekte moet toespits, die “skunk works”-span soos die Engelse dit noem.

Het die toekoms aangebreek waar ons soos die strokiesgesin die Jetsons met ’n vlieënde taxi hoog bo die stad gaan swiep?

By Embraer staan dié afdeling as EmbraerX bekend.

Terwyl Embraer aan die fisieke vlieguigie werk, het Nasa intussen ook al skouer aan die wiel gesit om ritte in Dallas se besige lugverkeer na te boots.

Volgens Nasa sal lugowerhede oor die wêreld na verskeie aspekte van so ’n nuwe taxidiens laat kyk alvorens hy die groen lig sal gee.

Die vliegtuig self sal min geraas moet maak. Dit sal ook laag moet vlieg, om nie in die pad van gewone Cessnas en helikopters te kom nie, maar steeds hoog genoeg om oor wolkekrabbers te kan beweeg.

Die klein selfbestuurvliegtuie sal ook sodanig onafhanklik moet kan wees met die invoer van nuwe vlugplanne en roetes dat hulle nie ’n ekstra las op die lugtoring-beamptes op die lughawens plaas nie.

En laastens wil Nasa ook kyk hoe die wetlike raamwerk van so ’n diens eendag sal moet lyk.

Dus, wat sal die aanvaarde bedryfstandaarde moet wees, in watter mate sal bestaande lugvaartreëls aangepas moet word om vir dié nuwe dienste voorsiening te maak, en hoe sal bestaande prosedures aangepas moet word om plek te skep vir die nuwe klein selfbestuurvliegtuie.

Dit is ’n fassinerende nuwe ontwikkeling in persoonlike mobiliteit, en dit het die potensiaal om net so positief ontwrigtend op ons lewens te wees as wat slimfone, sosiale media en apps is.

Daar’s inderdaad nog ’n lang entjie wat gestap moet word voordat dit prakties uitvoerbaar gaan wees.

Maar die toekoms waarin jy soos die strokiesgesin die Jetsons van ouds in ’n klein, robottuigie deur die stad kan swiep, is dalk nader as wat ons besef.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.