Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Sy Cadillac met staalwol gewas
Louis en Hermien Coetzer deel ’n oomblik tydens ’n motorskou.

Louis Coetzer het so graag nuwe karre gekoop dat sy kinders smiddags ná skool baie mooi moes kyk om by die regte pappa in te klim, maar hy was ook die soort pa wat sy kleuter saggies reggehelp het toe dié ’n Cadillac met staalwol was.

Só onthou dié legendariese motorversamelaar van Bloemfontein se kinders hom.

Jan Coetzer sê sy pa het die staalwolstorie graag oorvertel.

“Pa het glad nie negatief gereageer toe hy dit besef nie; hy het bloot vir my ’n sagte lap gegee en voorgestel ek probeer dít eerder. Selfs al moes die kar weer gespuitverf word, het Pa volgehou hy kon nie vir my kwaad word nie omdat ek goeie bedoelings gehad het.”

“Ons het nooit geweet met watter kar Pa ons smiddags by die skool sou kom haal nie,” vertel sy suster Hermie Matthysen. “Soms sou jy stadig langs die ry afstap en elke kar en nommerplaat bestudeer, dan teruggaan en na elke bestuurder kyk totdat jy die regte een kry! En partykeer sou ons in een kar met vakansie gaan, maar uiteindelik in twee terugry, want op ons reise sou hy op ’n ander een verlief raak of ’n winskopie raakloop.”

Lida van der Merwe sê sy sal ewig dankbaar wees vir haar pa se geduld. “Ek dink nie ek was ooit weer so trots soos toe ek ses jaar oud was en my pa my toegelaat het om ’n pap wiel om te ruil terwyl die hele gesin langs die pad gewag het en dit baie vinniger sou gewees het om dit self te doen nie.”

Sy onthou nog ’n voorbeeld van Coetzer se geduld: “Daar was ’n oom met ’n ou Chev Impala wat op ’n plaas gebly het waar ons dikwels verbygery het,” sê Lida. “Die eerste keer toe ons pa die Chev gesien het, het hy aangebied om dit te koop, maar die oom het nee gesê. ’n Paar maande later het Pa op die plaas stilgehou en die aanbod herhaal, wat weer afgewys is, maar hy wou nie opgee nie. In die daaropvolgende agt jaar sou hy die oom besoek om te vra of hy die Chev kan koop. In die agtste jaar het hy met die kar by die huis aangekom.”

‘n Trotse Louis en Hermien Coetzer by die 1958 Mercedes-Benz B300 Dora. Foto: Verskaf

Coetzer en sy vrou, Hermien, het in ’n stadium ’n motoronderneming in die Oos-Kaap gehad. Jan vertel: “Pa was ’n baie goeie verkoopsman en hy sou karre dikwels vinnig koop en verkoop – ook dié wat my ma bestuur het. Dikwels sou sy eers as sy iewers heen wou ry, besef haar kar is verkoop.” Naderhand het sy ’n kar gekies wat volgens haar die lelikste gebruikte kar op die handelaar se vloer was. “Sy was oortuig Pa sou dít nie kon verkoop nie.”

Eendag kon sy die groot geel kar nêrens kry nie. Uiteindelik het sy hom in die werkwinkel opgespoor. “Sy was reg dat Pa die lelike kar nie verkoop kon kry nie, maar trou aan sy aard kon hy wel ’n koper kry – vir die enjin!”

Lida sê om die karre te laat staan en agteruitgaan, sou hom hartseer gemaak het. “Dit sou hom gelukkig gemaak het om ’n geesdriftige nuwe geslag in sy karre te sien ry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.