Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
T-klas mik na jong avonturiers

Europa se vervaardigers het snuf in die neus gekry van die nuwe gier wat jong Europeërs opgewonde maak, “mini-avonture”, met Mercedes wat ook nou ’n hap van hierdie nuwe koek wil hê.

Volkswagen was die eerste met die bemarkingsbaniere toe hy die planne vir sy volgende Mini-Camper onthul het. Mercedes het nie op hom laat wag nie en bevestig dat hy oor twee jaar ook ’n sakpas bussie vir dié segment op die toonvloer gaan hê.

Mercedes gaan sy nuwe bussie die T-klas doop om in te pas by sy bestaande naamgee-strategie. Die bussie sal die opvolger van die Citan (wat ons, helaas, nie in Suid-Afrika kan kry nie) wees en sal net soos die Citan op Renault se Kangoo geskoei wees.

Stuttgart het al vir meer as ’n dekade (redelik onder die dekmantel, bygesê) ’n samewerkingsooreenkoms met die Frans-Japanse konglomeraat ingevolge waarvan hy die Franse se klein turbo-enjins in sy A- en B-klas-voertuie gebruik.

Mercedes se Citan-bussie, wat reeds van 2015 dateer. Die groep gaan sy opvolger oor twee jaar op die Renault Kangoo skoei.

Die Kangoo en Volkswagen se Caddy is voëls van eenderse vere. Albei is ’n klein, praktiese paneelwa wat teen ’n sakpas prys vervaardig word. Die bussies word meestal deur kleinsakeondernemings gebruik vir aflewerings in stedelike gebiede. Die vervaardigers se platforms is lekker buigsaam: Die bussies kan in die gewone of ’n langas-weergawe bestel word, terwyl daar ook ’n hoëdak-model vir sommige markte te kies is.

Die belangrikste aspek van hierdie platforms is dat hulle ook tot ’n gesinsbus omgebou kan word in die fabriek. Die afwerking is maar spartaans – sitplekke, instrumentpaneel, basiese bekleding op die vloer, dak en deure – maar dit als hou die koste laag, terwyl die koper ’n lekker ruim bussie ontvang.

’n Nadeel van daardie kostebesnoeiing is dat jy wel met ’n holklinkende kajuit sit; met min klankdemping vir die enjin- en padgeraas. Jou sitposisie agter die stuur is ook baie regop.

Straks die grootste voordeel (benewens die laer prys as ’n deftige sportnuts s’n) van hierdie soort bussies vir gesinne is dat hulle altoos twee skuifdeure het, een weerskante. Dit maak die in- en uitlaai van stootwaentjies veral ’n veel makliker affêre as wat ’n luikrug of sportnuts jou sou bied.

Hoewel die konsep van ’n paneelwa-as-bussie al meer as twee dekades op die mark is, het produkbeplanners die laaste tyd raakgesien dat die mark dié soort bussies na private ombouers neem waar dit as mini-kampeerwaens uitgerus word. Tipies kry hulle ’n opvoubed agterin (minus die agterste sitplekke, dus), nuwe laaie vir stoorplek, ’n mini-kombuis en soms selfs ’n dak wat aan die een kant kan lig dat jy kan staan.

Dis uiters gewild onder die middelklas, wat nie ’n groot Kombi of Vito-bus kan bekostig en dit daarna nog moet laat ombou as ’n kampeerwa nie.

Die T-klas word vir 2022 beplan met straks ’n 1.3-liter-turbo en 1.5-liter-turbodiesel as enjins.

Twee jaar is nog ’n leeftyd weg vir Mercedes om in dié markbehoefte te voorsien, maar dit is opmerklik hoe bewus die vervaardiger van dié neiging is en dat hy dit nou reeds onder kopers se aandag wil bring. As Stuttgart die T-klas ook as regterstuur-weergawe gaan bou, sal ’n mens hoop Merc bring hom ook na Suid-Afrika, waar die buitelewemark al jare lank na sulke soort voertuie smag.

Meer oor:  Mercedes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.