Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Taai lyk nou soos taai!

Stuart Johnston het die bekendstelling van Toyota se gekuurde Hilux-reeks by die Gerotek-toetsterrein buite Pretoria bygewoon en was veral beïndruk met die legendariese taai bakkie se tawwe nuwe aangesig, asook kikkerings op die 2.8-liter-turbodieselbron plus die veerstelsel.

Die Ford Ranger se plaaslike sukses kan in ’n groot mate aan macho­stilering toegeskryf word. Toyota se huidige geslag Hilux, daarenteen, word esteties gekortwiek deur visuele eienskappe wat voorkeure in Asiatiese markte bevredig. Sedert die Toyota se plaaslike debuut vier jaar gelede is die Hilux elke nou en dan visueel gekikker om hom sterker op die oog te laat val, maar uiteindelik hanteer die nuwe Hilux Legend die probleem ordentlik.

Voorkoms

Eerstens het die Legend van chroomversiering ontslae geraak wat ’n bietjie te blieng was. In die plek daarvan spog die nuwe Legend met dun kopligte; ’n dun, swaelswarte rooster; en ’n stileringsraam om die rooster in dowwe grys. Die rame om die misligte lyk of dit deur ’n militêre kenner ontwerp is om skade in die aangesig van vyandelike vuur tot ’n minimum te beperk.

En die wielrame het dieselfde soort “woestynstorm”-voorkoms wat op duursaamheid eerder as vertoon fokus.

Let wel dat bakkies met die Legend-afwerking nie meer ’n beperkte uitgif is nie.

Die Legend is voortaan die Hilux-reeks se nuwe vlagskip en sal in die toekoms in groot getalle gebou word.

Enjin en ratkas

Die gekuurde Hilux se bekendstellingsprogram is saamgestel om ’n paar van die belangrikste verbeterings op die nuwe vlagskip te belig. Baie van hierdie verbeterings word ook op goedkoper weergawes van die gekuurde Hilux gevind.

My toetsvoertuig by die Gerotek-toetsterrein, noordwes van Pretoria, was die Legend-dubbelkajuit 2.8 GD-6 4x4.

Die belangrikste verbetering is die nuut ontwikkelde 2.8-liter-turbodieselbron, wat nou 150 kW/500 Nm in stede van 130 kW/ 450 Nm lewer.

Die gekuurde enjin se grootste aanwins is ’n teen-roterende balanseerskag wat die tipiese vibrasies van ’n groot viersilinder neutraliseer.

Die sesgang-outokas is ook geherprofileer sodat hy dié nuwe oond se ekstra krag kan hanteer.

Veerstelsel, ritgerief en toerusting

Daarbenewens het Toyota heelwat aandag aan die Hilux se ritgerief gegee.

Veer- en dempinstellings is vir die voor- én die agteras aangepas, terwyl monteerpunte tussen die onderstel en die bakwerk hersien is om die kajuit beter van die pad te isoleer.

Die Legend word ook vir die eerste keer met aanpasbare kruisbeheer, laanverlaatwaarskuwing en ’n voor-ongelukse veiligheidstelsel toegerus.

Ons bekendstellingsbakkie op Gerotek was ook toegerus met die indrukwekkende, opsionele RS-pakket, wat ’n geïntegreerde rolstaaf, asook ’n gemotoriseerde rolskerm plus ’n vloer, wat met rubber behandel is, vir die laaibak insluit.

Die tonneau-rolskerm, wat gesluit kan word, bied monteerpunte vir drastawe sodat jy bergfietse kan laai, al is die laaibak toegetrek.

Kajuit en gevolgtrekking

Nuwe afwerking sluit swart leer in, asook ’n nuwe instrumentpaneel plus ’n losstaande agtduim-infovermaakskerm.

Op die bekendstellingsritte is hoofsaaklik op die nuwe Legend se veldryvermoëns gefokus. Harde looiwerk oor ’n rowwe stuk veldterrein het my oortuig dat die nuweling se veldvermoë ’n groot stap vooruit is.

Die Legend doen beslis nou sy legendariese status gestand.

  • Prys: Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4-handrat – R733 500; GD-6 4x4-outo – R765 600.
Meer oor:  Toyota
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.