Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Taai roete laat jaers klippe kou

Die laaste byeenkoms in die nasionale veldrenreeks wat die naweek in die omgewing van Parys in die Vrystaat beslis is, het min verrassings opgelewer.

Die pasgekroonde algehele kampioene in die afdeling vir produksiemotors, Henk Lategan en sy navigator, Brett Cummings, in hul Toyota Hilux het met hul vierde sege in die seisoen bewys hulle is waardige kampioene.

Die besoekende Brasiliaanse jaers Marcos Baumgart en Kleber Cincea het heel goed op hul Suid-Afrikaanse safari gevaar en eerste in Klas T in hul Ford Ranger geëindig. Foto: Quickpic

Lategan-hulle het die kampioenskap in die vyfde ronde van die reeks oor ses rondes reeds beklink, en in die naweek se Parys 400 weer in moeilike omstandighede uitgeblink en in die laaste byeenkoms van die seisoen geseëvier.

Die naweek het met droë, stowwerige toestande begin, maar ’n laatmiddag-haelstorm, gevolg deur deurdringende reën oornag, het tot ’n goed deurdrenkte openingsrondte gelei.

“Die toestande in die eerste rondte was baie uitdagend, maar die roete het gou droog geword en toe ons die tweede rondte aandurf, het ons baie beter kloukrag gehad,” het Lategan later opgemerk.

Die roete is in twee rondtes van 170 km elk verdeel met ’n onderbreking ná die eerste rondte sodat die deelnemers die Bokke se eindstryd op TV kon volg. Lategan en Cummings het alles in die tweede rondte uitgehaal en die wenstreep uiteindelik 5 minute en 11 sekondes voor Chris Visser en Danie Stassen (Hilux) oorgesteek.

Giniel de Villiers en sy navigator, Alex Haro, het egter ’n teleurstellende begin in hul rennaweek gehad. Hulle het Vrydag pas die stadiongedeelte van die kwalifiserende voorren binnegery toe hul motor se koppelaar-as die gees gegee het, wat hulle sonder aandrywing na die wiele gelaat het. Hulle het dus geen keuse gehad as om aan die voorren te onttrek nie, wat beteken het hulle moes Saterdag heel agter in die hoofren wegtrek.

De Villiers-hulle het as die 30ste motor op die roete weggetrek en vinnig begin inhaal. Die klam toestande het aanvanklik in hul guns gewerk, aangesien hulle nie stof teëgekom het wat hul uitsig sou versper nie. En toe hulle hul Hilux eindelik oor die eindstreep stuur, het hulle genoeg gedoen om tot sesde algeheel en vierde in Klas FIA op te skuif.

Die Klas T-kampioene (reeds in die vorige ronde beklink), Lance Woolridge en Ward Huxtable, het hul Ford Ranger net agter ’n besoekende Brasiliaanse tweetal oor die wenstreep gestuur, terwyl Johan Horn en Leander Pienaar (Hilux) die derde plek beklink het.

  • Die laaste ren in die reeks word die naweek beslis – die eerste keer op ’n Saterdag en Sondag. Die byeenkoms aan die Oos-Rand sal ’n naelbytstryd wees met net Guy Botterill (Toyota Etios) wat die jaerstitel al beklink het. Sy navigator, Simon Vacy-Lyle, kort nog twee punte om dié titel agter sy naam te kan skryf terwyl al die ander klaskampioenskappe ook nog beslis moet word.
Meer oor:  Parys  |  Vrystaat  |  Nasionale Veldrenreeks  |  Motors  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.