Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Taai Taye kén van vasbyt in Arabiese sand

Om die Dakar-veldtydren, die wêreld se grootste, langste en gewis moeilikste motorsport­ren te wen, verg uithouvermoë soos min.

Die grootnaam-fabriekspanne met hul vragmotors vol onderdele, tegnici wat ’n ratkas in 20 minute kan vervang of spanmaats wat ’n afgeryde wiel daar en dan goed genoeg kan herstel om die eindpunt te bereik, het gewis uithouvermoë, en baie daarvan.

Taye Perry het saam met Kirsten Landman vasbyt in die Dakar op hul fietse getoon en die eerste Suid-Afrikaanse vroue geword om dié moordende ren te voltooi.Foto: AP

Wanneer dit egter by die jaers kom wat op eie houtjie aansukkel, veral wanneer hulle letterlik in die middel van nêrens meganiese probleme opdoen, gaan dit oor deursettingsvermoë – iets wat geen begroting kan koop nie.

Vanjaar se ren het weer talle van hulle opgelewer, onder wie die vroue-motorfietsjaer Taye Perry van Oos-Londen, wie se droom om die eerste vrou uit Afrika te wees wat dié ren voltooi, op die voorlaaste dag bykans aan skerwe was.

Perry, ’n buksie van net anderhalf meter lank (1,58 m en 58 kg), is een van die kleinste mense wat nog aan die Dakar deelgeneem het, maar een met ’n wil wat baie van die ander nie gehad het nie.

Sy was nog nie eens ’n tiener nie toe sy die eerste keer ’n motorfiets op haar ouers se plaas buite Pretoria, waar sy grootgeword het, aangedurf het.

“Sy was maar 12,” sê haar pa, Hein, self ’n veldrenjaer, wat vir die Dakar ook haar bestuurder en grootste ondersteuner was.

Taye se droom is verlede Donderdag halfpad deur die voorlaaste sneltrajek amper verpletter toe sy meganiese probleme opgedoen het.

Sy moes alleen spook om haar fiets weer rybaar te kry nadat sy geval en die enjin weens ’n elektriese fout nie weer wou aanskakel nie.

“Ek was onder die top-50 algeheel en was mal oor die duine, maar het geval en kon nie weer my fiets (KTM) aan die gang kry nie,” het sy later vertel. “Dit het gelyk asof dit verby is. Ek het alles probeer, maar kon nie weer aan die gang kom nie.

“Toe omtrent alles en almal verby is, het twee ouens, Pablo Martinez en Facu Jaton, in ’n Hilux stilgehou en aangebied om my op my fiets in te sleep. Dit was die dolste rit van my lewe!” het sy op Instagram vertel nadat sy eindelik ná 12 uur 21 minute en 59 sekondes in die saal heel laaste van die oorblywende 100 jaers by die eindpunt by Harad naby die Saoedi-Arabiese hoofstad, Riaad, aangekom het.

Haar fiets is oornag herstel en sy het net ’n uur en ’n half se slaap ingekry voordat sy die laaste verkorte sneltrajek van 167 km aangedurf het – en 46 posisies opgemaak het om eindelik 77ste algeheel uit die oorblywende 96 motorfietsdeelnemers (van die 140 wat weggespring het) by die eindpunt uit die stryd te tree. Sy was een van 13 vrouejaers in die ren.

“My pa ry al motorfiets van lank voordat ek gebore is, maar het opgehou. Toe ek 12 word, het ek vir een gevra en my pa het weer begin. Dit was ons naweekuitstappies. Ek het geleidelik van 80 cc-fietse tot 125 cc en 250 cc gevorder, tot die 450’s wat ek nou ry. Namate die motorfietse groter geword het, wou ek net meer van dié nuwe ervaring hê,” het sy voor die aanvang van die Dakar gesê.

Taye, wat die “ystervrou” gedoop is, se “verdwyning” Donderdag van die radar af tussen die navigasiepunte by 162 km en 212 km ná die wegspring, het haar ondersteuners bekommerd gehad.

“Ek besef ek lyk dalk ’n bietjie ongemaklik op ’n motorfiets. As ek neerslaan, moet ek baie meer energie gebruik om my wiele weer regop te kry. Maar ek het my eie tegniek,” het sy gesê.

Aan die plaaslike front het Perry elke nasionale veldrentitel vir vroue al ’n paar keer gewen. Dit was net genoeg om die avontuursin in haar aan te wakker.

“Ek het Laia Sanz en ander vroue in die Dakar sien jaag, en ek wou dit ook gaan probeer. Ek het eers vir die Merzouga-veldren en toe die Marokkaanse veldtydren ingeskryf. Dit het goed gegaan en ek het gesê ‘bingo!’ en vir die 2020-Dakar geregistreer.”

Perry was op die vooraand van die marathon-sneltrajek die voorlaaste twee dae van die byeenkoms versigtig om ooroptimisties te wees oor haar droom om die ren te voltooi – dit ten spyte van haar natuurlike optimisme dat sy wel die eerste vrou uit Afrika sal wees wat die Dakar-ren voltooi.

Sy het saam met Kirsten Landman gejaag en was die hele ren ’n paar plekke voor haar landgenoot, maar ná die voorlaaste dag het Landman verbygeskuif en die 55ste plek algeheel ingeneem as die eerste vrou uit Afrika wat die Dakar-ren voltooi.

Laia Sanz het die afdeling vir vroue gewen, met Mirjam Pol tweede, Kirsten Landman derde, Perry vierde en Sara Garcia vyfde.

Meer oor:  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.