Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Tasmin slaggereed vir tweede seisoen
Tasmin Pepper

Tasmin Pepper is slaggereed vir vanjaar se tweede seisoen van die nuwe Formule W-reeks, ’n renreeks waarin slegs vrouejaers in motors soortgelyk aan F3-voertuie in ’n seisoen wat reg om die wêreld strek, deelneem.

Die 30-jarige Pepper is die ouer suster van Jordan Pepper, wat vroeër die maand die Bathurst-uithouren in Australië in ’n Bentley gewen het.

Die Pepper-telge jaag permanent oorsee nadat hul pa, Ian Pepper, vir jare in plaaslike baanrenformules betrokke was.

In ’n onlangse vinnige gesels langs ’n Kaapse renbaan het Tasmin aan ons haar verwagtinge vir die nuwe seisoen en drome vorentoe uitgelê.

“Kyk, ek is al 30 jaar. Die ander vroue wat deelneem, is meestal van Europa en jonger. Hulle ken die renbane waarop ons deelneem. Vir my was laasjaar, in ons eerste Formule W-seisoen, ’n groot leerskool. Ek moes ’n renbaan op ’n Donderdag die eerste keer leer ken, en Sondag het jy gejaag.”

Tog het sy bestendig in die middel van die veld klaargemaak. “Die motors is almal dieselfde, wat die speelveld baie gelyk maak. Ek het ’n span wat na die motor omsien, maar jy kan ook nie te veel aanpassings aanbring nie. Dis net jy en jou vaardighede agter die stuur wat die verskil beteken.”

Vanjaar sal die Formule W-reeks ook deel van die F1-sirkus in Europa wees, waar hulle in dieselfde naweek op dieselfde renbane gaan jaag, maar net op die Saterdag pleks van die Sondag. “Dit is goed vir die reeks se blootstelling,” sê Pepper. “Ons jaag vinnig en mededingend, en die motors lyk soos F1-voertuie. Dis lekker.”

Die jong Tasmin het al haar skoolgeld in motorsport betaal. Sy het as jongeling na Europa gekom om te sien hoe ver sy dit kon bring. As die oudste het hulle egter nie altyd die regte strategiese besluite geneem nie, erken sy.

“Met terugskouing was die keuse om in enkelsitplekkers te probeer jaag nie die praktiese een nie. Dis baie duur, en die mededinging is groot. Jou ervaring is ook min, want in SA jaag ons meestal in Polo- en Groep N-tipe renne.

“Dit sou beter vir my gewees het om van die begin af in so ’n tipe reeks te kon ry. Ek het my kans gehad, en ná ’n paar seisoene het my pa gesê dis nou Jordan se beurt.

“Hy het van die begin af enkelsitplekkers vermy, en sy sukses was dus vinniger. Hy is raakgesien deur die groot fabriekspanne, en nou jaag hy vir Bentley in die GT-reeks.”

Die lewe as ’n SA gebaseerde renjaer is egter nie maklik nie. Sy het ’n gewone kantoorwerk in Gauteng, en vlieg elke rennaweek teen die Woensdagaand na Europa. Donderdag kan sy oefen, Vrydag is kwalifisering en Saterdag is dit rendag. Dan weer terug huis toe om agter ’n rekenaar ’n salaris te verdien. “Wat ek eers later verlede jaar agtergekom het, is dat die Europese meisies Maandae en Dinsdae by die renbaan al gaan oefen. Hulle het ure meer baantyd as ek wanneer ek vlugflou op ’n Donderdag daar opdaag.”

Maar dis hoe die dobbelstene val. Vanjaar fokus sy vierkant op goeie uitslae in die Formule W-reeks. Ons hou saam duim vas SA se haastigste blondine gaan die Europese dames wys van watter stoffasie ons gemaak is.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.