Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Taycan bal ’n vuis vir Tesla

Ná heelwat gerugte en uitgelekte foto’s het Porsche verlede week sy langverwagte eerste elektriese motor, die Taycan, in Berlyn aan die wêreld bekend gestel.

Die nuwe Taycan is ’n suiwer elektriese model en sal onder meer met Elon Musk se Tesla-voertuie asook Jaguar se I-Pace om kopers se beursies meeding. Anders as die I-Pace is die vierdeur­Taycan egter veel meer van ’n sport­motor met sy lae profiel en glibberige ontwerp (die sleurkoëffisiënt is slegs 0.25 Cd).

Getrou aan Porsch­e se DNS is sy eerste elektriese voertuig, die Taycan, ’n ware sportiewe knaap.

Porsche het besluit om die nuwe reeks met twee topmodelle af te skop, die Taycan Turbo en Taycan Turbo S. Goed­koper modelle met makker enjins sal later volg. Die keuse van die Stuttgartse groep om met sy Turbo-benaming vol te hou vir sy elektriese topmodel (wat natuurlik geen turbo-enjin het nie), val dadelik vreemd op.

Porsche se uitdaging met die projek se aanvang was om ’n e-voertuig te skep wat getrou aan die sportkarakter van ál sy voertuie sal kan wees. Gelukkig vir hom het die tegnologie in dié verband die afgelope dekade merkbaar verbeter. Die Taycan se 800 V-litiumioon-battery kan dus voldoende krag na die voertuig se twee elektriese motore stuur om nie net tipiese Porsche-verrigting­syfers te lewer nie, maar jy sal ook ’n billike 400 km-reikafstand kan behaal.

Daar was dus drie kopsere vir Porsche vooraf. Eerstens moes die voertuig sportief wees, maar in dié verband het die tegnologie genoegsaam ingehaal om die Taycan dit te bied.

Tweedens moes die sogenaamde reikafstand-vrees oorkom word – Porsche het geweet dat die voertuig net suksesvol sal wees as hy kopers ’n goeie reikafstand kan beloof.

Die sitposisie is laag, terwyl die middelkonsole hoog tussen die sitplekke na voor strek.

En derdens is daar die tipiese stadige herlaaityd wat ’n potensiële sementblok aan die enkel kon wees. Hiermee help die nuwe 800 V-battery heelwat aangesien dit, as jy dit saam met Porsche se eie hoëkrag-herlaaipunte by Porsche-handelaars benut, hom binne 40 minute van pap tot 80% vol gelaai sal bring.

Sou jy nie by ’n handelaar jou motor kan herlaai nie, kan jy dit steeds by ’n openbare punt laat herlaai (teen ’n stadiger tempo), of oornag tuis.

Een interessantheid wat genoem kan word, is dat die Taycan se kragtige battery wel vinnig warm word, en vir hierdie doeleindes het Porsche ’n slim waterverkoelingstelsel ontwerp wat die battery voortdurend monitor en dit verkoel soos en waar nodig.

Die binneruim van die Taycan is net so futuristies as sy aandrywingsmeganika. Die instrumentpaneel bestaan uit ’n breë, swart glasstrook wat van kant tot kant strek. Voor die bestuurder is ’n digitale skerm waar jy uit vier beelde kan kies (soos die tradisionele spoed- en kragmeter), terwyl in die middel van die paneel die inligtingskerm sit waar al jou nutsfunksies gehuisves word.

Benewens dié raakskerms kan jy die stelsel ook met stembevele aktiveer, beginnende met “Hei, Porsche.”

Die Taycan behoort in die derde kwartaal van aanstaande jaar na Suid-Afrika te kom, met pryse wat nader aan die tyd bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Porsche Taycan  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Sportmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.