Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Taycan skep ’n taai dilemma vir SA

Dis makliker om oor die kwotastelsel in Suid-Afrikaanse sport te praat as oor batteryvoertuie op ons paaie.

Die handvol wat op die mark beskikbaar is, is peperduur, wat bekostigbaarheid by die venster uitblaas. Voeg hierby beperkte herlaai-infrastruktuur en selfs vir diegene wat kans sien om R2 miljoen vir ’n voertuig te hoes wat andersins die helfte sou kos, raak die ekovriendelike wortel al hoe kleiner.

Porsche se eerste batterymotor, die Taycan, verskaf ’n heerlike sportmotor-rit sonder enige enjingeluid of uitlate. Nou moet Suid-Afrika se infrastruktuur ook net inhaal.

Dis ’n hoender-en-eier-situasie, want met groter subsidies en goedkoper infrastruktuur en meer mense wat die voertuie koop, kan die koste afneem. Maar, ons is nog nie daar nie.

Ek het Porsche se nuwe Taycan vir ’n paar dae gery, en emosioneel wissel jou gewaarwordings agter die stuur van enigiets soos ’n Bok-sege tot ’n Piet Snorre-laggie.

Die Taycan is in vier modelle te kry, wisselende in kragvlakke en verrigting en weelde. Terwyl die topmodel-Turbo S nek-ruk-verrigting bied, is sy prys van R4 miljoen ewe rof met die nekspiere. Aan die ander kant van die spektrum sit die basiese Taycan, wat net een e-motor op die agteras het en ’n kleiner 79 kWh-battery. Versnelling (teen 5,1 sek.) is steeds deksels haastig, maar nie die amperse 3 sek. van die Turbo S nie.

Vir sy eerste proesel van ’n ten volle elektriese motor het Por­sche die interessante roete van ’n vierdeur-sedan gekies, met die koepee-agtige lyf van ’n Panamera. ’n Ligte lyf en plat, glibberige kontoere maak sy sleursyfer van net 0,22 Cd die laagste nog vir ’n Porsche, en eintlik ook vir enige gesinsvoertuig. ’n Mens sou dink Porsche sou ’n batterygedrewe Macan of nuwe sportnutsvoertuig as eerste poging kies, maar die Taycan vaar glo heel goed in Europa.

Mooi ontwerp, maar . . .

Die Taycan is werklik laag en plat – dis ’n mooi sportmotor, maar jy plons behoorlik diep in sy maag in as jy inklouter. Agter die stuur sit jy amper soos ’n F1-renjaer: Laag, bene diep uitgestrek en die stuur hier voor jou.

Digitale skerms oorheers die instrumentpaneel. Voor jou is ’n boog van beelde wat jy na jou smaak kan afwissel, maar dit wys meestal jou spoed en satnav-stelsel. In die middel van die paneel is die radio en trukamera en op die stuurwiel sit jou ritmodus-knop. Ietwat vreemd is die aansitknop op die instrumentpaneel geplaas, agter die stuurwiel. Net so die rathefboom, waarmee jy tussen D en R kan wissel. Dis buite sig en kon eerder op die tradisionele plek op die middelkonsole kom.

Meganies is dit ’n fantastiese voertuig, maar rit-beplanning is ’n werklikheid.

Om ’n batterymotor te ry, bly ’n vreemde ervaring. Als is doodstil: Die kajuit, die enjin. Slegs teen hoë snelhede hoor jy ’n fyn fluitgeluid van die enjin opklink.

Die groot aspek van batterymotors tans is hul reikafstand, en meer so in Suid-Afrika. Jy moet mooi beplan waar jy gaan ry. Die Taycan het ’n billike reikafstand van net oor die 400 km – ás jy hom aanskakel met sy battery vol gelaai. Maar om dit moontlik te maak, moet jy ’n paar goed doen wat jy nie noodwendig in ’n dieselvoertuig hoef te doen nie.

Eerstens sit jy hom in sy Eco-modus: Minder enjinkrag tot jou beskikking. Dan moet jy stadig versnel by elke verkeerslig en ’n matige topspoed handhaaf op die pad. As jy wil verbysteek, los dit liewer. En laastens kan jy die lugversorger afsit.

Dit raak gou ’n speletjie om die ritrekenaar se voorgestelde reikafstand wat jou battery nog bied, te vergelyk met ware kilometers op die pad afgelê. Dus, as jou roete 50 km is en jou voorgestelde reikafstand 400 km, staan hy op 350 km as jy by jou bestemming aankom? Meermale nie (daar sal eerder 320 km oorbly).

Tensy jy natuurlik baie matig ry. In ’n R2 miljoen-Porsche. En al die Picanto’s ry vir jou weg by die verkeerslig.

Afsaal

Meganies is dit ’n fantastiese voertuig, maar rit-beplanning is ’n werklikheid. Met sy swaar batterye in die vloerpan gemonteer hanteer die plat Taycan soos Pac-Man om die draaie. Die onmiddellike en kragtige versnelling is ook puik, en die stil rit.

Alternatief: Kry ’n 2.0-liter-turbodiesel, ry soos ’n besetene – en gooi eers weer ná 1 000 km vol.

  • Selfs in die kleinste dorp. Prys: Porsche Taycan – R2 222 700.
Meer oor:  Porsche  |  Taycan  |  Elektriese Motors  |  Motors  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.