Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Tegnologie – van vloek na seën

Hoewel Lewis Hamilton se 11de sege by Sondag se Bahreinse Grand Prix die soveelste F1-rekord van 2020 ewenaar, sal dié wedren allermins verewig word vir ’n naelbytstryd om die boonste podiumtrap; en veel eerder vir ’n gru-ongeluk – met ’n wonderwerk as nadraai.

Enkele sekondes ná die wegspring het die Switserse Haas-Ferrari-jaer, Romain Grosjean, in die harwar van die middelveld van links na regs oor die baan gedu, die linkervoorwiel van Daniil Kvyat se AlfaTauri-Honda getref; waarna die Haas dwars gedruk is, van die baan gepyl en die veiligheidsreling teen 220 km/h deurboor het.

Die impak (bereken as F=ma) was teen byna 100 G (100 keer die aarde se gravitasiekrag) en het die motor se agterkant, wat tydens die oomblik van impak tydelik 50 ton laat weeg het, laat losskeur van die kajuitarea, waarna die brandstoflyne oopgeruk is en oombliklik die wrak wat in die veiligheidsreling vasgeknyp was, in ’n Hollywood­agtige vlammesee verswelg.

Dit was F1 se bloedstollendste toneel sedert dié van Ayrton Senna se kop wat leweloos op sy skouers in sy motor gerus het nadat hy ’n spermuur by Imola op 1 Mei 1994 teen 211 km/h getref het. Hy is ure later dood verklaar.

Romain Grosjean word deur Suid-Afrika se Alan van der Merwe uit die vlammehel gehelp ná sy gru-ongeluk in Sondag se ren. Moderne tegnologie het die Franse jaer se lewe gered. Foto: Getty Images

Die Bahreinse Grand Prix is ná net 57 sekondes gestop, maar vir televisiegehore het dit soos ure gevoel voordat die insident weer teruggespeel is; en eindelik weer kon asemhaal toe hulle sien hoe Grosjean uit die vlammewolk spring en dadelik deur die reddingspersoneel ontvang is.

Hoewel die hitte sy valhelm se gesigskerm gesmelt het, het hy net tweedegraadse brandwonde aan sy hande en enkels opgedoen. Hy is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan.

Grosjean se ongeluk het raakpunte met François Cevert s’n van 1973 by Watkins Glen, toe sy Tyrell die veiligheidsreling trompop teen 240 km/h getref, sy lyf middeldeur gesny is en sy motor ook aan die brand geslaan het. (As jy vanoggend ’n verskoning soek om nie meer jou vrou se koue rubbereier hoef te trotseer nie, behoort die beeldmateriaal op YouTube beskikbaar te wees.)

Vyftig jaar is ’n egter leeftyd in F1-evolusieterme; en het die kwantumspronge met veiligheid in die sport ongetwyfeld Sondag Grosjean se lewe gered, waar ander vantevore sou omgekom het.

Hoe?

Eerstens het die skuins hoek waarteen die motor die reling getref het, reeds die skade van die impak beperk. Wanneer een voorwerp ’n ander tref, word daardie energie verplaas; en het daar ná die ren vrae ontstaan oor die toepaslikheid van ’n ontblote Armco-staalreling met drie horisontale elemente by ’n baan waar lae enkelsitplekmotors jaag en laasgenoemde staalpanele juis kophoogte is. Dat die reling se ankerpunte gebreek het, tesame met die so-ontwerpte losruk van die enjin en ratkas terwyl die Haas se snoet vasgedruk tussen die twee Armco-kake was – het eintlik gehelp om van die energie te absorbeer.

Vuur is motorsport se grootste vyand en geen ander motorsportklas se brandstoftenk is so duursaam soos ’n F1-motor s’n nie. Dit word deur ATL as enkelvervaardiger aan die kategorie verskaf, van Kevlar en rubber gemaak en selfs ballisties getoets. Nietemin is die Haas se brandstoflyne oopgeskeur en dié se inhoud vermoedelik deur die battery (wat ook losgekom het) aangesteek.

Die Mercedes-AMG mediese bystandmotor (bestuur deur die voormalige Suid-Afrikaanse renjaer Alan van der Merwe) was nege sekondes later op die toneel; en het daar 17 sekondes verloop nadat die eerste brandblussertjie die vlammesee amper vergeefs die stryd probeer aansê het. Byna 30 sekondes later het ’n duidelik gedisoriënteerde Grosjean uit die inferno verskyn, met sy vuilgebrande, vuurvaste oorpak en afwesige linkerstewel – wat óf afgeval óf weggesmelt het – as bewys van sy vlammehel.

Vir al die negatiewe publisiteit wat F1 se onooglike plakkieband – daardie veiligheidstaaf bo-oor die kajuit – sedert sy bekendstelling in 2018 ontlok het, is daar geen twyfel dat die einste Quasimodo-loopraam Sondag Grosjean se lewe gered het nie, en nog vele ander in die toekoms sal red. Terwyl die kajuit as ’n veiligheidsel vir die jaer se liggaam dien, was sy kop tot voor die dae van dié handdoekreling weerloos teenoor projektiele, of so-geteikende impakte. Senna se dood, en F1 se mees onlangste sterfte in F1 – Jules Bianchi in 2014 – sou albei vermy kon gewees het as daar beter kopbeskerming was.

Daar’s ’n rede waarom dit ’n halo in Engels genoem word, die ligstraal van ’n beskerm­engel; en het dit Grosjean se amper noodlottige ongeluk gekos om die spotters se smoele te stil.

Die laaste rede is die gebruik van ’n sespunt-veiligheidsgordel. In 1970 het die Oostenryker Jochen Rindt by Monza omgekom toe hy net vier van die ses gespes vasgemaak het deur te weier om die onderste twee wat bo-oor die bobene vassluit, te dra uit vrees dat dit hom sou verhoed om vinniger tydens ’n brand uit die motor te klim. Nadat sy motor die sperreling getref het, het hy weens die afwesigheid van juis daardie twee gordels onder die oorblywende vier ingegly en het die sentrale gespe sy hoofslagaar afgesny.

Rindt sou later daardie jaar F1 se enigste kampioen wees om postuum gekroon te word.

Sulke sukses ontwyk egter die onderpresterende Haas-span en is Grosjean sowel as sy spanmaat, Kevin Magnussen, vroeër vanjaar ingelig dat hul kontrakte nie vir 2021 hernieu is nie: ’n Onvermydelike uitkoms in ’n uitslag-gedrewe pirana-poel waar punte aan geld gemeet word en die kaf moet draf.

Desnieteenstaande het die see van ondersteuning deur Grosjean se medejaers ná sy ongeluk – sowel as die breër kykerskorps – in ’n jaar waartydens ’n mens jou geloof in F1 verloor het danksy die oorheersing deur een span, dit Sondag dubbel en dwars terugbetaal as hoop vir evolusie; en immers die mensdom.

  • Volg die Sakhir Grand Prix Sondag in Bahrein regstreeks om 19:00 op kanaal 215 op SuperSport.
Meer oor:  Bahreinse Grand Prix  |  Lewis Hamilton  |  Vloek  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.