Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Terug na die ou skool, sê Hyundai

As dit van voorkoms afhang, sou Hyundai se 45-konsepmodel bes moontlik die prys gewen het vir treffendste voertuig op die Frankfurtse motorskou vanjaar.

Die Koreane het verras met hierdie pragtige luikrug met sy skerp lyne wat aan die voorkoms van voertuie van die 1980’s herinner. Foto: Marnus Hattingh

Hyundai self sê die 45 is ’n ontwerpstudie om te wys waarheen hy neig met die ontwerptaal van sy nuwe gesins-e-voertuie wat hy vir die nabye toekoms beplan.

Nou, die woord toekoms word mildelik hier ingespan. Maar die 45 is meer 1970’s en 1980’s as enigiets anders. Agter die skerms het ons verneem Hyundai se volgende voertuie – dus, nie net e-voertuie nie – gaan almal ’n hoekige ontwerp hê. Natuurlik nie so akuut as die konsepmodel nie, maar beslis nie meer die geronde voorkoms waarmee ons met die huidige Hyundai’s aan gewoond geraak het nie.

Die 45 kry sy naam by die Koreaanse groep se Pony-koepee wat hy presies 45 jaar gelede in Europa onthul het. Dit was een van sy eerste gesinsmotors wat hy na Europa gebring het.

Maar dan kry die 45 ook sy naam by die konsepmodel se rits skerp lyne wat almal teen ’n 45° hoek kruis en dwars oor die bakwerk strek. ’n Mens kan bepaald ’n paar uur bestee om te tel hoeveel 45°-hoeke daar op die motor se bakwerk versteek is.

Die 45 is ’n kompakte luikrug wat nogal aan die 1980’s se Lancia Gamma herinner. Daardie skuins voor- en agterruite asook die breë C-pilaar is tipies van wat ons op luikrûe in die 1980’s aangetref het.

Die konsepmodel is weliswaar net ’n dop wat op die skou staan, maar Hyundai maak wel melding van ’n paar tegnologie-items op die 45 wat gou die produksielyn sal sien.

Dit sluit in die kantspieëls wat met klein kameras vervang is, en die groot, breë instrumentpaneel wat pleks van om net een raakskerm met ’n klein oppervlak te wees, eintlik ’n breë skerm is wat ’n rits klein beelde langs mekaar kan vertoon.

Ons hoop Hyundai kan deurdruk met hierdie ontwerptaal van hom, want die konsepmodel lyk heerlik retro met sy skerp lyne en 1980’s-profiel.

En terloops, talle van sy potensiële kopers sal nostalgies aan die voertuie van hul kleintyd dink as hulle die 45 aanskou. – Marnus Hattingh

Meer oor:  Hyundai  |  Motorskou  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.