Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Terug na die ou skool vir 911

Toe die sluier in Los Angeles amptelik vir die eerste keer oor die nuwe Porsche 911 gelig is, was dit die eerste keer in die 55-jarige bestaan van hierdie ikoniese Duitse sportmotor dat ’n nuwe weergawe buite Europa aan die wêreld bekend gestel is.

Porsche se nuwe 911 bied skoon lyne geskoei op ’n nuwe, langer platform.

Heel gepas ook. Want was dit nie vir ’n Amerikaner nie, sou die sportblits met sy aweregse enjin-op-die-agteras-uitleg nie tot in die agtste geslag bly voortbestaan het nie.

Die storie in kort (net om die geheue te verfris) loop so: Toe Peter Schutz, kort nadat hy oorgeneem het as Porsche se uitvoerende hoof (op persoonlike uitnodiging van Ferry Porsche), tydens ’n swartbord-voorlegging gesien het die 911 se tydlyn eindig in 1981 het hy die bordkryt gegryp en die lyn van die bord af, al langs die muur tot by die deur uit verleng.

Daarna het die Amerikaner (hy is in Oktober verlede jaar dood) Porsche se hoofingenieur, prof. Helmuth Bott, een kyk gegee en gesê: “Verstaan ons mekaar?” Prof. Bott het glimlaggend geknik en, nou ja, die res is geskiedenis.

Die turbogedrewe drieliter-bokser-ses is oorgedra van die ou model, maar is opgeknap om nou meer krag te lewer. Daar’s ook ’n nuwe agtgang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaartipe).

Kodenaam 992

Die bekendstelling verlede week van ’n nuwe weergawe van wat steeds as Porsche se kernmodel beskou kan word, is ’n treffende finale hoogtepunt vir sy 70ste bestaansjaarvieringe.

Geslag agt van die 911 (kodenaam 992) is effe groter, kragtiger, tegnologies meer gevorderd en vinniger as sy 991-voorganger – en tog moet jy fyn kyk om die verskille in die evolusionêre ontwerp van die 992, soos neergepen deur Peter Verge, raak te sien.

Sy vorm is steeds onmiskenbaar 911, maar die jongste model het ’n paar unieke eienskappe.

Die eerste is aansienlik groter wielhulsboë om sy groter wiele en bande te huisves, en ’n opmerklike breëboud-voorkoms – voorheen net die vierwielgedrewe Carrera S- en GTS-modelle beskore – is nou eenvormig vir alle modelweergawes.

Ook het die nuweling ’n aansienlik breër, verstelbare en intrekbare drukvlerk agter en die agterlig-samestelling vorm nou
’n aaneenlopende lyn (soos reeds te sien op die Panamera- en Cayenne-modelle) oor die agterkant, wyl twee hooggeplaaste remligte dit verder van sy voorgangers onderskei.

Sy voorkant is nou 5 cm breër, spesifiek om padbyt voor te verbeter, en die voorste inlate en drukskorte het nou meer hoekige lyne.

Spesifieke kontoere in die voorste kap herinner sterk aan dié wat in die eerste 911-reekse gebruik is.

Soos die meeste van sy sportmotor-mededingers het die 911 nou ook versonke deurhandvatsels.

Voorts is die bakwerk van die jongste 911, behalwe vir die voorste en agterste dele, geheel van aluminium (om gewig te spaar).

Die binne-uitleg is geheel nuut, en tog ook nie, want hoewel dit nou feitlik volkome digitaal is, is die skoon, reguit lyne van die instrumentpaneel, die versonke instrumente en die spaarsamige gebruik van beheerknoppe deur die 911-modelle van die 1970’s geïnspireer.

Die sentrale inligtingskerm is nou ook groter en makliker beheerbaar.

Nes die jongste Panamera is die 911 nou ook volledig in die 21ste eeu. ’n Sentrale raakskerm bied toegang tot ’n rits verrigtingdata, maar reg voor jou sit steeds die enkele, groot toereteller. Analoog, natuurlik.

Natweer-funksie

In ’n onderhoud op die LA-motorskou het August Achleitner, hoofingenieur van die 992-projek, gesê wyl die breër nuweling steeds op dieselfde onderstel as sy 991.5-voorganger gegrond is, is sy asafstand effens langer, dog lengte-gewys is daar feitlik g’n verskil nie.

Volgens hom is ’n mid-enjinuitleg vir die jongste 911 (selfs met die GT3-renmotor wat nou dié uitleg het) nooit oorweeg nie, maar die moontlikheid van elektrifikasie wel, met plek wat geskep is vir hibriede kragbronne.

Wat kraglewering betref, is die 911 Carrera S- en 4S-modelle wat op die skou bekend gestel is, met verder ontwikkelde weergawes van Porsche se turboaangejaagde 3-liter-plat-sessilinderenjins met direkte inspuiting toegerus.

Die kragbron lewer nou 331 kW (30 kW meer as in die vorige geslag) en 530 Nm wringkrag, genoeg vir ’n versneltyd van net 3.7 sekondes vir die agterwielgedrewe S, en 3.6 sekondes vir die vierwielgedrewe 4S.

’n Opsionele Sport Chrono-pakket (wat ekstra turbodruk vir 20 sekondes verskaf) verlaag sy versneltyd met nog 0.2 sekondes, en Porsche gee die topspoed van die S-model as 308 km/h aan, met die vierwieldryf-4S net 2 km/h stadiger.

Al hierdie krag word deur ’n nuwe agtgang-dubbelkoppelaarratkas na die wiele gestuur, maar ’n handratkas-model word aanstaande jaar verwag, asook modelle met effens minder enjinkrag. Herr Achleitner kon egter nie uitgepraat raak oor die nuwe,
eksklusiewe natweer-modus wat spesifiek vir die 911 ontwikkel is nie.

Hierdie stelsel bespeur nat toestande deur middel van sensors in die wielboë en verstel dan die voertuigbeheerstelsels daarvolgens. Peter Shutz sou geïmponeer gewees het .

Die nuwe 911 Carrera S- en 4S-modelle word later aanstaande jaar in Suid-Afrika verwag, met die pryse wat eers dan bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Motors  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.