Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Timboektoe toe, ’seblief monsieur

Twee stewige prestasies in Citroën se annale word vandeesweek in Parys by die gewilde Retromobile-motorskou gevier.

Die Franse groep gedenk die 50ste verjaardag van sy GS, waarvan hy in die 1970’s ’n flukse 2,5 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop het.

En dan het hy ook ’n aparte uitstalruimte vir ’n halfruspe-motor van die 1920’s, ’n voertuig met die lyf en voorwiele van ’n motor maar die agter-aandrywing van ’n tenk, wat die eerste was om die Sahara-woestyn in 1922 suksesvol oor te steek.

Die klein GS was ’n suksesverhaal vir Citroën in die 1970’s.

Vir gees, kry ’n GS

In sy leeftyd het die eksentrieke Franse motorgroep talle interessante rygoed opgelewer, met straks die GS as een van sy meer normale gesinsvoertuie.

Tog was die GS besonder gewild met sowat 2,5 miljoen eenhede wat oor ’n leeftyd van 17 jaar verkoop is.

Die GS het sy buiging by die Paryse motorskou van 1970 gemaak en was dadelik hoog aangeskryf deur die Europese motormedia. Trouens, in 1971 is dit as Europese Motor van die Jaar aangewys.

Die GS had ’n kompakte lyf van net meer as 4 m lank, maar het tog net-net minder as ’n ton geweeg terwyl hy steeds vyf mense met gemak kon vervoer. Kenmerke was die glibberige luikrug-profiel, die bokser-vier-enjin en natuurlik die hidrouliese veringstelsel wat ’n eiesoortigheid van die handelsmerk was.

Nog uniekhede van die GS was die handrem wat bo in die instrumentpaneel geplaas is, skyfremme reg rondom (toe agterwiele nog meestal dromremme gehad het), en glasbedekking by die spoednaald wat ’n vergrootglas-effek gebied het sodat jy die spoed makliker kon waarneem.

Deur die jare het Citroën die reeks merkbaar uitgebrei. Daar was later ’n stasiewa en in 1979 ’n groot opknapping waarna hy as die GSA bekend gestaan het. Maar min weet vandag straks dat Citroën tussen 1973 en 1975 ook ’n Wankel-enjin in sy GS gebied het.

Dit was die era waartydens dié rotorenjin skielik groot in die nuus was. Vervaardigers het met die tegnologie geëksperimenteer, maar eindelik het dit te veel uitdagings gebied sodat nóg die mark nóg die groepe self daaraan wou byt. Citroën het slegs 847 van die sogenaamde Birotor GS verkoop.

Vervaardiging van die GS is eindelik in 1987 finaal gestaak.

Met ’n halfruspe-Citroën oor die Sahara. Die vyftal Citroëns was in 1922 die eerste voertuie wat die Sahara suksesvol kon oorsteek.

Sahara-sage

Die ander aspek waarop Citroën in sy uitstalruimte vandeesweek gaan fokus, is sy vyf halfruspe-motors waarmee Georges-Marie Haardt en sy medeavonturiers in die Europese winter van 1922 die Sahara-woestyn van noord na suid oorgesteek het.

Dit was die eerste suksesvolle oorsteking van die groot woestyn en het destyds groot media-aandag in Europa ontlok. Daaglikse verslae van die avonturiers se tog oor die duine is oor die Franse radio uitgesaai, en naweke kon jy hul yslike tog in swart-wit beelde op die silwerdoek by jou plaaslike bioskoop volg.

Die vyftal voertuie is deur ’n spesiale afdeling by Citroën voorberei en gebou. Daar is op die ruspe-agterwiele besluit omrede daar geen paaie in die woestyn was nie, en die lang spore dus sou help om beter oor die sand te ry. Twee voertuie was slegs vir voorrade bedoel.

Die groep het op 17 Desember 1922 by Touggourt in Algerië, destyds onder Franse beheer, aan wal gegaan en hul tog na Timboektoe afgeskop.

Minder as ’n maand later was hulle op 7 Januarie by Timboektoe in die hedendaagse Mali.

Die plan was om hier die voertuie na die naaste hawe te verskeep en van daar terug te neem na Parys, maar danksy hul flukse vordering oor die woestyn het hulle besluit om weer met dieselfde pad – 3 200 km – terug te ry na Algerië. Dit het foutloos gewerk.

  • n Interessante stertjie is dat die Franse avonturiers op dié tog ook ’n klein, wit brak saam met hulle as geselskap geneem het. Klein Flossie het dan gereeld in die nuusbeelde verskyn, wat ene Georges Remi in die bioskoop gesien het.

Remi se professionele skuilnaam later in sy lewe was Hergé, die Belgiese skepper van die gewilde Tintin (Kuifie)-boeke. Flossie het hom geïnspireer om vir sy tekenprentkarakter Kuifie ook ’n klein, wit brak (Spokie) te teken wat hom op al sy avonture oor die wêreld heen vergesel het. En nes Flossie het Spokie ook al sy avonture lewend afgesluit.

Meer oor:  Parys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.