Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Tot wedersiens, Groot Kat!

Produksie van Jaguar se huidige XJ-vlagskipsedan is middel vanjaar beëindig.Egmont Sippel het die laaste twee modelle beproef, met onverwagte resultate.

Foto:

Dis interessant dat Jaguar se vlagskip-XJ-sedan stil-stil uit vandeesmaand se plaaslike pryslyste verdwyn het.

Of dalk was dit te verwagte. Die volgende XJ verskyn volgende jaar op ’n nuwe platform en Castle Bromwich het al in Julie opgehou om die huidige een te bou.

As afskeidsgebaar het Rapport ’n laaste kans gekry om die XJ50 3.0D asook die superwarme XJR 575 te ervaar.

Die XJ in sy huidige vorm is in 2010 in Parys bekend gestel, met ’n blik op die Versailles-paleis vanuit die hotelkamer wat Jaguar aan Rapport toegeken het. Hoofontwerper Ian Callum was daar, nes hy op alle ander belangrike Jaguar-bekendstellings van die afgelope 20 jaar was.

Callum het die kuns daarvan verstaan om ’n motor met mooi heupe te ontwerp. Voor die Skot se Jaguar-termyn het die Aston Martin DB7 en Vanquish en in ’n groot mate die DB9 ook uit sy pen gevloei.

Callum se goeie aanvoeling vir die vorm en verhoudings van motorheupe is egter so liggies deur sy lomp hantering van kopligte uitgewis. In sy twee dekades as hoofkunstenaar was daar dikwels óf te veel óf te min verbeelding in Jaguar-kopligvorms.

Ieder geval het Callum vier maande gelede die tuig neergelê, maar die 65-jarige Skot sal nog vir Castle Bromwich konsulteer.

Dis ook nie die einde van die XJ nie; volgende jaar se nuweling sal op ’n platform vir ’n vol-elektriese vlagskipsedan gebou word, maar tot tyd en wyl sal binnebrandbronne soos die een wat tans in die XJ50 dien, ook beskikbaar wees.

Foto:

XJ50 en Ian Callum

Teen 1,8 tot 1,9 ton is die XJ ’n relatief ligte weeldevlagskip. Die Merc S-klas, BMW 7-reeks, Audi A8 en Lexus LS500 weeg almal tussen 2 en 2,2 ton.

Die A8, terloops, het in Februarie vanjaar al van plaaslike pryslyste verdwyn. En as jy wonder hoekom hy feitlik ewe swaar as die S-klas is, synde dat die Audi uit aluminium gebou word, moet jy al daai ekstra hardeware vir quattro-dryf, oftewel alwieldryf, in gedagte hou.

Die XJ het einste ’n aluminiumbak van voor tot agter en dit help vir ratse dinamika en, in teorie, laer verbruiksyfers.

Jaguar se 3.0-liter-V6-turbodiesel (221 kW/700 Nm, 0-100 in 6 sek., 250 km/h) is ’n lekker enjin met ’n ligte grom, amper soos ’n growwerige petrol eerder as ’n oliebrander. Verbruik, ai, sukkel egter om 10 liter/100 km te klop.

Ritgehalte (dubbelmikke voor, lugvere agter) raak beter hoe vinniger mens ry en die R1,8 miljoen-wa is ’n fantastiese langpadvreter. Hantering is ook goed.

Die elegante eksterieur ly onder Callum se onbehendigheid met koplig-ontwerp (snaaks nè, dat die man so daarmee gesukkel het) en die interieur – vol hout, leer en chroom – was van meet af aan ’n ongemaklike kompromie tussen klassieke Britse weelde, sportiewe bultende voorpaneel-luggathulse (wat amper soos ’n verkyker na jou loer) en moderne tegnologie (sagte vodkablou kajuitbeligting plus flambojante digitale grafika met swak definisie en min aanpasbaarheid).

Agterkajuit- en kattebakruimte neig – tipies XJ – na te min. Dit ten spyte van ’n kattebakdeksel wat so hoog bo die grond troon dat dit sig in die truspieël belemmer.

Sitplekke kan darem alom verwarm of verkoel, terwyl die stuurwiel ook verwarm.

Die wa van R1,8 miljoen is ’n fantastiese langpadvreter.

XJR575 en Mike Cross

Die XJ50 is natuurlik laas jaar al oorsee bekend gestel om ’n halfeeu sedert die XJ se geboorte te herdenk. Sedert 1968 se stileringsmeesterstuk genaamd XJ6 sal volgende jaar se XJ slegs die vierde heeltemal nuwe generasie wees.

Intussen het die bestaande model met ’n waggelwals vaarwel geroep en wel in die vorm van die XJR 575 met sy superaangejaagde 5.0-liter-V8. Rapport het die enjin in 2009 tydens sy wêreldbekendstelling in Spanje in die XF ontmoet en dink net hoe goed hy toe al was, as hierdie kragreus vandag nog met sy gladde en soepele verrigting beïndruk.

Die 575 gebruik die superaangejaagde weergawe wat deur SVR (Special Vehicle Racing) getoor is terwyl ’n fantastiese ZF-agtgang-outokas 423 kW/700 Nm na die agterwiele pomp. Die 575 blaf en skrou en gil uiteraard nie met dieselfde aangrypende klankkartetse as die F-Type-sportmotor nie, maar daar’s genoeg borrel teen lae snelhede en gedempte brul teen spoed om vier uitlaatpype warm te hou.

Soos die XJ50 boonop bewys, het Mike Cross en sy ingenieurspan uiteindelik ook die stuur van vinnige Jags reg belaai. Cross werk al sedert 1984 vir die Groot Kat en het elke Jaguar en Land Rover se onderstel en dinamika sedert 2008 persoonlik afgeteken. Jackie Stewart het hom as “die beste bestuurder buite die ren-sport” beskryf.

Vir al hierdie dinge het Brittanje se oudste motortydskrif, Autocar, hul Life-time Achievement Award vroeër vanjaar aan Cross toegeken.

So ver, so goed. Die 575 is ’n goeie mengsel van onderbeklemtoonde elegansie met visuele breker-elemente soos ’n swart heuningkoekrooster, swart luginlate, swart enjinkaphortjies, swart syventileerders, swart vensterrame, swart allooie – en groot rooi remskoene.

Maar iets het op die XJR 575-toetsmotor verkeerd geloop.

Foto:

Waggelstert

Die motor is vroeg vanjaar met ’n banddruk van 2.4 bar alom afgelewer. Vir snelhede bo 235 km/h moet jy die vier Pirelli P-Zero S’e (265/35-R20 voor, 295/30-R20 agter) tot 2.8 bar pomp.

Met die eerste harde versneltoets het die XJR se stert vir ’n oomblik of twee onverwags geril, so asof hy eers op die een agterwiel en dan die ander en dan weer die eerste wou aftrap.

Later, teen spoed (van die soort wat mens net op ’n oop, skoon pad moet waag), is die vreemdste moontlike ervaring opgedis toe die 575 se stert van kant tot kant begin waggel het, asof die linkeragtervering vir ’n oomblik pap sou raak en weer herstel, voordat dieselfde op die regteragterkant gebeur het, en dan weer links, regs, links, regs, met ’n gevolglike bakbeweging soos dié van ’n boot wat sydelings deur ’n uiters vinnige opeenvolging van golwe getref word.

So vinnig was die waggeling van kant tot kant dat dit eintlik ’n ekwivalent van die motorfietswêreld se “tenk-slêpper” was, behalwe dat dit van agter en nie van voor gekom het nie.

Goed. Parkeer die Jag tot môreoggend, sit 2.8 bar in vars koue bande en probeer weer. En toggie, per geleentheid het die gansewaggel selfs teen 170 km/h weer toegeslaan, gegewe ’n sekere soort riffelfrekwensie op die pad.

Dis amper asof die eerste padriffel ’n opeenvolging van baksteurnisse op loop gesit het wat elkaar onverpoos sou versterk totdat die XJR onbestuurbaar was; iets soos die Tacoma Narrows-brug in 1940 toe ’n sekere beweging wat deur die wind begin is, in ’n golfpatroon sou ontwikkel wat sigself tot verby breekpunt versterk het bit.ly/2MZ7Mdm

Interessant genoeg was die Jaguar, op ’n splinternuwe vars pad met ’n volmaak gelyke oppervlak, teen 250 km/h steeds stabiel. Die stert se waggel is dus ongetwyfeld deur klein padriffeltjies geïnisieer.

’n Mercedes-AMG C43 wat op dieselfde tyd op dieselfde paaie teen dieselfde snelhede getoets is, was deurentyd rotsstabiel.

So, wat kon dit wees? Ons vermoede was foutiewe dempkleppe. Jaguar het die 575 ondersoek en geen fout gevind nie.

En dít was vreemd.

Wees dus versigtig vir ’n tweedehandse XJR 575. Maar wees ook daarvan verseker, dat ’n ongeskonde een soos ’n kat kier as jy stadig ry en allermagtig in vinnige vaart is, met ’n blote oogwink tussen die twee.

Vir al sy grasie was R2,75 miljoen egter te veel. Bring dus volgende jaar se XJ dat ons opnuut kan ervaar en beoordeel.

Meer oor:  Jaguar  |  Xjr 575  |  Voet In Die Hoek  |  Xj50 3.0D  |  Resensie  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.