Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Total Agri 400: Stof borrel rooi onder wiele
Elke tjor by die Total Agri 400 word met geesdrif begroet waar dit die teerpad kruis vir die veldren. Links is Thabang Khalanyane van Mahikeng en regs is sy broer Pule. Foto: Alet van der Walt

“Hier kom Brian, hier kom Brian,” skreeu Thabang Khalanyane van Mahikeng toe ’n lelike swart gevaarte met die grondpad aangejaag kom.

Die stof borrel rooi onder die wiele uit.

Ao. Frikkie Pelser hou die teerpad uit Bothaville se rigting dop en wys alles is veilig.

Die tjor, met Brian Baragwanath agter die stuur, gee so ’n paar dorstige petrolgromme en laat die klippe spat voordat hy oor die teerpad net duskant Nampo skiet en in ’n stofwolk in die grondpad af verdwyn, kuipe toe.

“Ek hou van karre,” sê Pelser waar hy in sy polisie-uniform in die warm son seker maak die renjaers kruis die besige Bothaville-Orkney-pad veilig.

’n Groepie toeskouers wag dat die renjaers verbykom.Foto: Alet van der Walt

Saterdag kon almal wat dol is oor stof, petroldampe en mielielande die Total Agri 400-veldren by Bothaville geniet.

Die toeskouers was minder as gewoonlik – Covid-19 se spook het hier ook nog geloop – maar dié wat daar was, het ’n wettige koue enetjie op Bheki Cele en die res van die waterkar-brigade gevat.

Daar is agter op bakkies uitgespan en die Vrystaatse son het sommer vroeg al gesorg dat die sonskerms, hoede en sambrele saam met sappies uitgehaal word.

Sanette en Des van Schalkwyk werk al 14 jaar lank as vrywilligers by veldrenne. Foto: Alet van der Walt

Die nuus dat die tydren se enigste vrouebestuurder haar pypkar, die Porter 2010, omgegooi het, het danksy die bostelegram vinnig versprei.

Sandra Labuscagne-Jonck en haar man en navigeerder, Jaco Jonck, het kort hierna in ’n stofwolk en onder groot toejuiging die tydren voortgesit.

Ongelukkig moes hulle die handdoek finaal ingooi toe die pypkar se wiel afbreek.

Suid-Afrika se bekendste renjaer, Giniel de Villiers, het met sy Toyota Hilux in die stof gebyt en vyfde geëindig.

Net nog ’n bewys dat Bothaville taaier as Dakar is.

Stuart Spence hou die pad dop vir die spesiale renmotors.Foto: Alet van der Walt

Cloete Rossouw en sy vrou, Licolette, van Potchefstroom sê dis lekker om ’n bietjie uit te kom en die renjaers te ondersteun.

Met genoeg padkos en ’n koeligheid vir die keel maak die Rossouws hulle onder ’n bloekom tuis en hou die pad dop vir die pypkar van Labuschagne-Jonck.

“Ons kom altyd kyk en ondersteun vir Sandra,” sê Rossouw.

Lourens van Wyk en sy seun Rienk sit agterop ’n Hilux- bakkie op gemaklike kampstoele en hou die pad dop vir die bakkies.

Van Wyk, ’n mielie- en beesboer van Sannieshof, sê hy is self ’n renjaer. Hy hou van die bakkies.

Stuart Spence, ’n ingenieur van Johannesburg, leun agter teen ’n bakkie en tuur in die pad af op soek na die renjaers wat nog moet kom.

Cloete Rossouw en sy vrou, Licolette, het hulle onder ’n bloekomboom tuisgemaak om die renjaers in te wag.Foto: Alet van der Walt

“Ek is mal oor ‘rallies’. Ek het ’n meganiese-ingenieursmaatskappy, dis hoekom ek kom kyk wat maak die ouens,” sê hy.

Onder ’n gazebo by ’n tafel sit Des en Sanette van Schalkwyk van Pretoria.

Hulle is hier om seker te maak al die renjaers kom by die kontrolepunt verby.

Hulle is wedstrydbeamptes en al 14 jaar lank lede van die Off-road Marshall Unit.

Die renjaers maak die toeskouers opgewonde.Foto: Alet van der Walt

Ons kry brandstof, gratis kampeerplek en eet stof omdat dit vir ons lekker is,” sê Des en lag.

Melissa Laubscher en haar vriendin Karla Smuts sit agterop ’n bakkie se klap en sê hulle kom saam met die manne om die dag te geniet.

“Ons is maar almal petrolkoppe, ons hou van die adrenalien,” sê Smuts.

Einde Oktober gaan ons Parys toe, sê iemand.

Meer oor:  Brian Baragwanath  |  Bothaville  |  Jaers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.